Bekendstelling: Chevrolet Cruze

‘n Nuwe Chev reeks op die mark

Die Amerikaanse “Generaal” het die aanslag oorleef en veg terug met ‘n nuwe kruiser, askies, Cruzer. General Motors is lewend, en in die Ooste, springlewendig. Die jongste reeks uit GM van Suid-Afrika se stal is die nuwe splinternuwe Cruze wat hierdie week bekend gestel is.

Die Cruze is die jongste toevoeging tot die Chevrolet-stal wat die baie suksesvolle Captiva en nuwe Aveo insluit. In hierdie geval is dit ‘n motor wat grootliks in Duitsland ontwikkel en ontwerp is en wat mespunt-tegnologie verteenwoordig; beide wat stilering en meganiese uitleg betref. Dit is veral die uiterlike wat dadelik indruk maak; die vier-deur coupé voorkoms van die Cruze. Boonop is die ontwerp skerp en het ‘n lae 0,31 sleur ko-ëffesiënt.

Besonder indrukwekkend is die hoofligte wat soos ‘n “V” terugkaats na agter, die sterk neus en die kort agterstewe. Europese styl vars uit die bakoond.

Tydens die toetsrit met die 1,8 LS model, was dit die bougehalte wat beïndruk het en ook die gevoel van soliede ingenieurswese; hierdie nuwe Chev in die C-Klas gaan die opposisie uit Japan en Duitsland behoorlik laat les opsê want hy kan aan hulle verkoopsyfers begin knaag. Hou maar dop.

Die Cruze word deur twee nuwe 1,6 en 1,8 liter 16-klep aluminium enjins met wisselbare klepreëling aangedryf. Die 1,6-weergawe ontwikkel 83 kW teen 6 400 rpm en stel 153 Nm wringkrag teen 3 800 rpm vry. Die 1.8 liter met vyfgang-handratkas wat ons getoets het, ontwikkel 104 kW teen 6 200 rpm en maak 176 Nm teen 3 800 rpm beskikbaar. Hoewel die maksimum wringkrag teen hoë toere ontwikkel word, stel hy reeds 85% van sy wringkrag by so min as 2 000 rpm beskikbaar. Dit beteken dat hy trek soos ‘n bees teen baie lae snelhede en het sy kragvloei werklik beïndruk. En dan doen hy alles so stilweg ook. En vir die boere (en ander) wat dieselkrag aanhang is daar ook goeie nuus; daar gaan later in die jaar ‘n 2-liter turbodiesel ook sy verskyning maak.

Volgens GM sal die 1.6 liter weergawe van 0-100 km/h binne 12,5 sekondes versnel en die 1.8 weergawe binne 10.0 sekondes. Die algemene brandstofverbruiksiklus, soos deur GM getoets, kom te staan op 6,7 l/100 km en 6,8 l/100 km vir die twee weergawes (5-gang handrat-modelle).

Die Cruze kan aanspraak maak op volledigheid wat betref elektroniese toerusting om die algehele veiligheid van die motor te verseker; noem maar op dinge soos ABS-remme, vastrap-beheer,  elektroniese rembeheer (wat ek gelukkig nie op die proef hoef te gestel het nie). Die Cruze, wat reeds sy buiging in Europa gemaak het, voldoen aan al die streng Europese veiligheidsnorme. Skyfremme word rondom gebruik met geventileerde skywe voor.

Die binneruim is gerieflik en in navolging van die klassieke Corvette sportmotor, in twee segmente verdeel sodat die twee persone voor elkeen sy eie “kokon” het. Ook die lys van ekstras is volledig en sluit benewens die hoë gehalte radio/CD kombinasie alle denkbare geriefmiddels in die kajuit in; noem dit en die lys is volledig. Van groot belang is die sitplek en voetspasie vir al die insittendes en is die Cruze waarskynlik hier die een wat die toon aangee in hierdie segment van die mark.

Op die pad skep die Cruze die indruk van stabilitieit hoewel ek nie die motor tot die uiterstes om draaie of regtig hoë snelheid geneem het nie. Maar ‘n mens kry tog in elk geval die indruk van hoe stabiel hy is en wat sy vermoë is. Krag is daar genoeg en op die draaierige kuspad het hy sy staal getoon en het ek deurgans in beheer gevoel. Die stuur is direk en die mate van kragsteun is baie na aan perfek.

Die Cruze maak gebruik van ‘n McPherson voorsuspensie en wringstawe agter en maak van grondpaaie en bulte gelykpad. Die topmodel, die 1.8 LT, is ook toegerus met elektroniese stabiliteitsbeheer (asook ‘n 6-gang elektronies-beheerde  outomatiese ratkas, ‘n eerste vir GM). Ander eienskappe van die topmodel sluit in 17” wiele en leerafwerking in die kajuit en ten volle outomatiese elektroniese klimaatbeheer. Die LT is ook beskikbaar met ‘n sondak teen ‘n geringe “ekstra” koste. Sentrale sluiting en alarm/immobilieerder is standaardop al die modelle en die deure sluit vanself sodra die motor ‘n gangbare snelheid bereik. Hierdie is belangrike veiligheidsaspekte in ons onveilige land.

Gemoedsrus kom in die 5-jaar/ 120 000 km waarborg met onbeperkte anti-roeswaarborg. Ook ‘n 3-jaar/60 000 diensplan wat beteken dat daar vir die eerste drie jaar geen verskuilde kostes is vir die persoon wat nie meer as 20 000 km per jaar ry nie.

Wat kos hierdie Duitse vreugde uit die Ooste? Die intreemodel 1,6L is teen N$174 192 ‘n winskoop, die 1,6 LS kos N$186 126, die 1,8 LS N$204 133 en die top van die reeks 1,8 LT met sy sesgang outomatiese ratkas en al die jongste tegnologie N$244 440; maar dan het jy ‘n “klaargemaakte kar” soos die manne in Keetmans se wêreld sê!

Leave a Comment