Ons eie Kalahari Ferrari
Die eerste keer wat ek ‘n Subaru gesien het was dit nie een wat uit die Australiese agterveld hier beland het nie; dit was ‘n Angolese tweedeur-motor in Windhoek in die vroeë sewentigs. Hierdie Subaru het baie soos die eerste generasie Toyota Corolla’s gelyk – behalwe dat daar in duidelike letters geskryf was dat dit ‘n voorwielaangedrewe motor was. Boonop het hy ook aan die goedkoop kant gelyk.
Tussen toé en noú is ‘n lang tyd en die motorprentjie het intussen radikaal verander. In die tagtigerjare het ek weer ‘n hele paar Subaru’s in Switserland gesien; hierdie keer stasiewaens met die leters AWD prominent aangebring. Switsers het my vertel dat hierdie Japannese stasiewaens net die regte manne was om smal, steil sneeubedekte bergpaadjies mee aan te pak. Dan was daar ook later die blou Subaru’s met die goue wiele waarin die spoedvrate hulle so verlustig het as hulle voor die TV na die WRC (World Rally Championship) lê en kyk het.
Hierdie storietjie gee die agtergrond vir die kennismaking met die Subaru Outback met sy dieselaangedrewe turbodieselenjin en sesgang outomatiese ratkas wat met ‘n palwisselstelsel (CVT) toegerus is.
Met die bekendstelling van die Subaru-reeks in die negentigerjare was die ontwerp van die stasiewaens en motors effens aan die onopwindende kant; dit was nie die bakvorm wat van hom ‘n goeie verkoper gemaak het nie maar wel wat onder die enjin en die onderstel ingebou was; permanente vierwielaandrywing, simmetriese dryfaste voor en agter en die lae swaartepunt as gevolg van die plat bokserenjin. Hierdie deugde het in die nuutste Outback behoue gebly maar die bakvorm is nou in die jongste modestyl en draf die Japannees saam met die modelle uit Duitsland en Engeland op die modeplanke.
Op die oog-af is die Outback sag op die oog af; daar is niks oordrewe aan die moderne bakwerk wat kan aanstoot gee nie, die lyne is glad en byderwets en al die afwerkings is in harmonie – tot by die silwer en swart afwerking van die allooiwiele. Vir die oningewydes, wat nie al die fyn detail ken nie: Die bakwerk van die nuwe model is versterk, die stuur meer direk, nuwe skokbrekers en verandering in die vering maak hom meer soepel en geluidvlakke is laer. Met die versterkte bakwerk is hy nou ook nóg veiliger as sy voorgangers as dit by ‘n botsing sou kom. Verder is die binneruim vir beide passasiers en bagasie nou groter en is die agterklap nou ook elektries beheer.
Daar is ook luukses wat makliker is om met die oog te sien soos die leersitplekke, die trukamera om te sien wat agter die motor aangaan, sondak en klimaatbeheer vir die tikkie ekstra gemak in die somerweer wat voorlê.
En natuurlik al die tegnologie rondom die Harmon Kardon radio en klankstelsel.
Die Outback is in die eerste plek nie ontwerp as ‘n hardebaard 4×4 nie, ondanks sy naam wat aan die Australiese Kalahari ontleen is; hy is veel eerder ‘n veilige motor om op sneeu en ys sy bestuurder en passasiers veilig by die huis te bring. Tog is die grondvryheid beter as die ouer, klassieke Land Rover Defender met sy ewenaar wat eintlik baie laag bo die grond is. Die Outback se onderkant is vry van hierdie bonkige voorwerpe wat hom in die moeilikheid kan laat beland. Met sy outomatiese ratkas, waarmee met kruipgang oor rotse gery kan word, moet hierdie Japannees nie onderskat word nie.
Die indruk wat die sterkste is, is die ekonomie en krag van die 2-liter turbodiesel wat 110 kW uitskop en 350 Nm teen ‘n skrale 1 600 rpm beskikbaar stel. Die vervaardiger se syfer vir brandstofverbruik van 6,3 l/100 km lyk heeltemal haalbaar onder normale omstandighede. Al nadeel van hierdie model is dat die dieselenjin wel hoorbaar is, al is dit meer hoorbaar buite as binne in die kajuit.
Op die oop pad en om draaie voel die bestuurder heeltyd in beheer en is die rit gemaklik soos dié van ‘n Suitse luukse sedan.
Volpunte hier.
Wat gaan dit kos om hom in die motorhuis te sit? Vir N$539 000 gee hulle vir jou die stel sleutels plus die versekering dat jy vir dienste hoef te betaal vir drie jaar of 60 000 km nie. Die waarborg op die Outback is 3 jaar of 100 000 km. Al wat nog ekstra sal kos is metaalverf-afwerking en registrasiekoste.