Die X-Faktor in die Stad
Gedink dat Toyota voertuie vaal is? Kyk weer; die nuwe Aygo kom met ‘n X-faktor wat baie, baie opsigtelik is. Die Aygo, wat die bakwerk en meganika van die kleinste Citroën C1 en Peugeot 107 deel en saam met hulle in die Tsjeggiese Republiek gebou word, het ‘n metamorfose ondergaan.
Die metamorfose is hoofsaaklik kosmeties en te danke aan die verfwerk op die motor waar die X-form op ‘n baie sigbare wyse aangebring is. En die geheim lê natuurlik in die gebruik van twee kleure om die X-simboliek netjies uit te beeld. (Wat my laat dink aan ‘n klompie dekades gelede toe “two tone” dié mode van die tyd was!).
Om die voorkoms te beskryf, is dit miskien goed om ‘n Toyota woordvoerder self aan die woord te stel; hy kan dit beter doen as die uwe: “Die fokuspunt is die prominente “X”-motief in die voorste sierrooster wat opwaarts tot in die A-pilare en deurspieëls strek om ’n unieke identiteit en sterk teenwoordigheid op die pad te skep, en net weer bevestig dat die nuwe Aygo alles behalwe ’n verwelkende blommetjie is. Die gevolg is ’n kenmerkend parmantige vyfdeur-luikrug wat van ’n sportiewe, jeugdige en energieke beeld spreek en oorgehaal is om die stadslewe aan te durf”.
En verder: “Die onderste helfte van die “X” vou om die middelste deel van die lugskort wat tot aan die kante van die voorste buffer strek. Sportiewe luginlaathulsels versterk die X-vorm en gee die vooraansig ’n unieke x-faktor. Die hoekige kopligte pronk met projektor-tipe halogeen-tegnologie wat die pad vorentoe skitterhelder verlig en naatloos by die X-motief aansluit om ’n selfversekerende houding by verbygangers in te boesem”. Die X-stilering word ook by die agterstewe aangetref in die buffer.
Die uiterlike voorkoms van die Aygo gaan sy aanhangers onder die jonger mense hê maar by ouer motorkopers wat by aftree-ouderdom trek, gaan hierdie uitdagende ontwerp nie noodwendig aftrek kry nie; dit is ‘n jongmens se ryding en ook ‘n stadsding. Die toerusting binne is ook gerig op die elektroniese geslag met al hulle apparate en slimfone en geheustokkies en wat nog; noem dit en die Aygo maak voorsiening daarvoor.
Maar wat verder? Die Aygo kom in drie afwerkings wat hoofsaaklik beperk is tot die tipe verf en die aanwending daarvan en die leerafwerking van die stuurwiel. Onder die enjin is daar ‘n hoë-kompressie (11.5:1) enjin wat 998 cc verplaas. Hy ontwikkel 51 kW teen 6 000 rpm en die wringkrag van 95 Nm word teen ‘n hoë 4 300 rpm beskikbaar.
As jy wil hê hy moet spring, moet jy maar die vyfgangratkas optimaal benut. Dit gaan 14,2 sekondes duur voordat hy by 100 km/h uitkom en met al die krane oop sal die naald by 160 km/h gaan draai. Aan die positiewe kant beweer Toyota dat hy suinig met brandstof werk en kan ‘n gemiddelde verbruik van 4,4 l/100 km binne perke van die bestuurder te wees.
Die Aygo doen sy ding op die pad en die vering is die klassieke MacPherson mikvere voor en hy is vasvoetig om draaie en dwarswinde. En dan is daar natuurlik al die verbindingspunte vir die gesels met die klankstelsel en is die veiligheidseienskappe wat deesdae verwag word alles daar.
Die Aygo is ‘n stadsmotor by uitstek en die kattebak klein, tensy die agterste sitplekke platgevou word vir die buitengewone aankope by die Mall. In ooreenstemming met die stadsmotor-ontwerp, is die spaarwiel ook een van die Marie-beskuitjie soort wat jou tot by die bandeplek sal bring.
Die Aygo 1.0 verkoop teen N$138 900 en die X-modelle (Black en Silver) teen ‘n duisend Dollar meer. Daarby kry die eienaar ‘n 3-jaar of 100 000 km waarborg. ‘n Diensplan is ‘n opsie wat uitgeoefen kan word. Maar belangrik; indien ‘n nuwe Aygo vóór 31 Desember 2015 gekoop word, kry die eienaar ‘n 3 jaar of 45 000 km diensplan GRATIS!