Padtoets: Toyota Hilux 2.8 Turbodiesel

Ontspan in die Klein Karoo!

Met die bekendstelling van die nuwe Hilux ‘n tyd gelede het ons die subtitel “Die taai stryd wat kom…” gebruik. Die stryd waarna verwys was, het te doen gehad met Ford wat met sy Ranger bakkie daarin geslaag het om die Hilux se verkope ‘n paar keer die loef af te steek. Soos almal weet, het die nuwe Toyota die eerste maand al die bordjies verhang.

Hierdie keer het ons die kans gehad om die nuwe bakkie in die praktyk te beproef; ‘n bekendstelling bly maar ‘n effens kunsmatige besigheid.

Oor die tegniese aspekte en die voorkoms en ander fyner veranderinge het ons reeds geskryf; ook die indrukke wat hy op verskillende tipes terrein gemaak het – en met vlieënde vaandels geslaag het. Dit is egter ‘n ander ervaring as ‘n mens vir ‘n paar dae jou eie koers kies en onder “normale” omstandighede met ‘n toetsvoertuig ry.

Die Klein Karoo was nog altyd een van ons geliefde bestemmings om weg te kom van die engheid en baie mense van die Boland. ‘n Internetsoektog en bespreking het ons by die gasteplaas Klokkies by Calitzdorp gebring; ‘n huis bo-op ‘n heuwel met ‘n uitsig op die Karoo aan die een kant en die vrugteboorde en wingerde aan die ander kant. En vir ‘n pensionaris baie bekostigbaar.

Dit was van die Kaap af teerpad al die pad op die bekende Roete 62 en die talle stoppe by die padstalletjies en natuurlik een van die koffiedrinkplekke op Barrydale. Alles lekker asof ons in  ‘n luukse Duitse motor ry.

Vanaf Calitzdorp na Oudtshoorn was dit ‘n reis terug in die verlede en het ons die ou sementpad, wat by die Calitzdorp warmbron verbygaan, aangedurf. Dit het my laat terugdink aan my skooldae op Uniondale toe alles nog grondpaaie was en die sementpad by Oudtshoorn die eerste stuk pad was waar jy nie gedurig in stofwolke verstik het nie. Dié wat nie sementpaaie ken nie, kan gerus ‘n slag daar ‘n draai gaan ry. As daar nou een ding is wat ‘n suspensie toets, is dit sementpaaie met hulle lasplekke wat aan ‘n outydse treinrit herinner waar daar elke sekonde so ‘n tik-tik geluid van onder af kom.

Met wederhelfte se rug wat probleme gee, was ons huiwerig om hierdie pad te ry. Maar die hunkering na die verlede was sterker as praktiese redes en haar rug het die tik-tik sonder probleme verduur. En dit was die finale toets om die Hilux se vering die groen lig te gee, ondanks motorjoernaliste wat onder mekaar stry of die nuwe Toyota die mas teen sy opponente gaan uitkom.

Die aanbring aan veranderinge aan die agterste veerstelsel het dus die belangrike toets geslaag. Die nuwe koppelaarstelsel het ook sy meriete getoon en die dae van “double clutch” om ratte makliker te verander is nou vir altyd iets van die verlede.

Van praktiese nut is ook die nuwe grootskerm wat ook die gebruik van die nuttige trukamera op die skerm aantoon; met ‘n groot voertuig soos die Hilux is hierdie item van besondere waarde.

‘n Hele paar jaar gelede het ek en vriend Frans met ‘n drieliter Hilux by die Kongorivier gaan draai. Op daardie reid het die ekonomie van die Hilux verstom met ‘n verbruiksyfer wat nooit meer as 10 l 100/km was nie. Ook hierdie keer het die 2,8 liter enjin, wat teoreties harder moet werk, dieselfde gunstige verbruik gelewer. En soos ons almal weet gaan die prys van diesel elke keer op en raak verbruiksyfers amper so belangrik soos die aankoopprys van ‘n voertuig.

Die nuwe sesgangratkas help natuurlik baie om die enjintoere laag te hou en brandstofverbruik verder te verbeter.

Ongelukkig is daar nie van die gebaande weë afgewyk nie en kon ons nie al die 4×4 nuwighede onder praktiese, alledaagse omstandighede toets nie; dié moet maar wag tot ‘n volgende geleentheid in die Sederberge!

Lus vir ‘n kommervrye vakansie op gruis, teer en sement – al het jy ‘n rugprobleem? Die Hilux bly ‘n staatmaker!

Vir gemoedsrus is dit goed om te weet dat die nuwe Hilux-modelle ‘n voertuig is waar “alles altyd reg loop” en deur ’n diensplan vir vyf jaar of 90 000 kilometer gedek word.

Al loop die treine nie meer tussen Calitzdorp en Oudtshoorn nie sal hierdie Hilux dit nog vir ‘n geslag of wat kan doen! Die Hilux by die verwaarloosde treinspoor tussen die twee dorpe en die sementpad – wat nie meer is wat hy ‘n halfeeu gelede was nie!

 

Press shots

Leave a Comment