Padtoets: Toyota Hilux 3.0D-4D 4×4 Raider (Outo.)

Toyota Hilux 3.0D-4D 4×4 Raider – Outomaties

Dit voel soos nou-die-dag wat ek as student van die Strand af na Stellenbosch toe geryloop het en my eerste saamrygeleentheid  in ‘n splinternuweToyota Stout bakkie gekry het. Wat vir my interessant was omdat die eerste volgrootte Japannese bakkie was waarin ek gery het. Wat opgeval het was die lae ratverhouding van die bakke wat nie baie vinnig kon loop nie maar wat soos ‘n stoomlokomotief teen Louw-se-Bos uit getrek het.

Daarna was die volgende hoogtepunt Toyota se bekendstelling van die Land Cruiser wat so sterk soos ‘n diesellokomotief gebou was en op daardie stadium reeds diep spore in Oos- en Wes Afrika getrap het; en dit reeds in die sestigerjare. En toe kom die Hilux 4×4-bakkie op die mark en 1979 en herskryf die geskiedenis van ligte 4×4’s in die land! Soveel so dat die Hilux-bakkies maand na maand die beste verkoper is van alle motorvoertuie in die land en die sedanmotors eers heelwat laer op die ranglys volg. En ek is seker dat die meeste van hierdie bakkies hulle tuiste in gewone motorhuise vind waar hulle langs luukse sedans geparkeer is en nie vir handelsdoeleindes gebruik word nie. En net vir die rekord: daar is wêreldwyd al 14 miljoen van hulle verkoop en jaarlikse internasionale verkope draai by 500 000!

Ons was gelukkig om die vlagskip van die Hilux-reeks, die 3.0D-4D 4×4 Raider-outomaties, te toets. En nodeloos om te sê; die outomatiese weergawe van die reeks slaag die toets met vlieënde vaandels, ook op rowwe terrein waar menigeen liewers sal wil uitklim en stap!

Die Hilux-reeks het einde verlede jaar ‘n paar subtiele veranderinge ondergaan: Die neusgedeelte en voorste buffer lyk meer aggressief en nog taaier as tevore. In die kajuit is daar ook nuwe stilering rondom die paneelbord en lyk die bakkie al hoe meer soos ‘n luukse sedan. Hierdie “luukse” is nie om dowe neute nie want al hoe meer gesinne koop ‘n enkele voertuig wat in al hul behoeftes moet voorsien; van lang vakansieritte tot werksesel en skool-taxi. Dan kom die dubbelkajuit bakkies in direkte kompetisie met die sedanagtige Sport Nutsvoertuie (SUV’s) en soek die kopers hierdie tipe “ekstras”.

Die Toyota Hilux Raider-reeks is die topmodelle en kom dus met ingeboude eienskappe soos sportsitplekke met materiaalbekleedsel, klimaatbeheer-lugreëling, RDS-radio met voorlaai-CD-speler en MP3-koppeling. Aan die veiligheidskant is daar ABS-sluitweerremme, lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier en kant- en gordynlugsakke agter en ook sitplekgordels met voorspanning om die effek van botsings te verminder. Ander veiligheidseienskappe is die afstandbeheerde sentrale sluiting met die opsie van dubbele ontsluiting. Dan is daar ook ‘n rekenaar-vertoonskerm wat al die tersaaklike ritinligting weergee.

Van praktiese waarde op rowwe plekke is die aanwesigheid van ‘n ewenaarslot op die agterste as. Verder het die stuurwiel (met leer oorgetrek) satellietkontroles (spane) vir die klankstelsel om te gebruik as al die aandag op die pad, of 4×4-roete, gevestig is.

Allooiwiele met 265/70R16C-bande gee aan die Raiders ‘n ekstra taai en indrukwekkende voorkoms. Die prentjie word afgerond met chroom buitespieëls, treeplanke aan die kante, getinte ruite, agterste skuifruit en ‘n hoë stoplig op die bakklap. ‘n Nuwigheid (ekstra) is die veiligheidsdeksel op die bakgedeelte om die vrag en bagasie doeltreffend te beskerm.

Die hart van die Hilux Raider is die 3-liter turbodiesel-enjin wat 2 982 cc verplaas en 120 kW teen 3 400 opm ontwikkel. Nog meer indrukwekkend is die 343 Nm wat reeds teen 1 400 opm beskikbaar is en van hom ‘n uitstekende trekvoertuig maak waar hierdie wringkrag teen net meer as luierspoed beskikbaar is. As die John Deere die dag nie wil vat nie, kan ‘n mens hierdie Raider inspan om te ploeg of die swaar plaassleepwa te trek. Die gebruik van die outomatiese ratkas – met vier versnellings gekoppel aan ‘n laestrekratkas – maak bergklim kinderspeletjies en plaas die minimum druk op die bestuurder. Die prys vir hierdie gemak en weelde gaan die eienaar N$374 200 uit die sak jaag. Maar dink ook aan die goedkoper handratweergawe teen N$363 800; almal is nie in die wolke oor outomatiese ratkaste nie!

Spesiale gemoedsrus word verseker deur die 5-jaar/90 000 km diensplan en die 3 jaar/100 000 km algemene waarborg waarmee die Hilux-bakkies verkoop word.

Leave a Comment