Padtoets: Peugeot 208×2

Nuwe besems vee skoon!

Daar is nie werklik ‘n Peugeot 208×2 nie; die “x2” dui maar net op die twee Peugeot 208-modelle wat ons getoets het. Die bakwerk is presies dieselfde maar onder die een Leeutjie se enjinkap is daar die moderne 3-silinder, 1 199 cc enjin; onder die ander een is daar die groter 4-silinder 1 598 cc eenheid.

In hierdie groottes kom hulle baie ooreen met die 1 130 cc enjin van die destydse 204 en die legendariese 404 met sy betroubare en beproefde 1 618 cc enjin. Laasgenoemde het natuurlik ‘n Afrika-legende geword en staan nog sterk in Diepste Afrika.

Die 208 volg in die voetspore van die Peugeot 204 met sy dwarsgemonteerde enjin en voorwielaandrywing wat in 1966 sy verskyning by ons gemaak het. Sy opvolger, die 205, was ‘n tydrenwenner en wegholsukses, maar was om een of ander onverklaarbare wyse nooit hier bemark nie. Ná ‘n lang afwesigheid uit Suid-Afrika, het die 206 en 207 opvolgers hul verskyning hier kom maak. En nou is die 208 hier.

Die 208 is kraakvars van buite en het in vergelyking met sy voorganger, heelwat gewig afgegooi, meer kompak geword maar in die proses meer beenspasie gewen. Hiermee volg Peugeot die Europese neiging om motors met kleiner enjins te bou, ‘n laer massa het en daardeur  ligter is op brandstof om skadelike uitlaatgasse te verminder. Dáárom die keuse van twee enjins vir dieselfde bakwerk.

Van enjins gepraat; die “tradisionele” 1,6-liter ontwikkel 88 kW teen 6 000 r/min en stel 160 Nm beskikbaar teen 4 250 r/min; die 1,2-liter drieslinder ontwikkel 60 kW teen 5 750 r/min met 118 Nm wringkrag teen so min as 2 750 r/min vrygestel word. In verhouding tot die grootte van die enjin vaar die kleintjie dus beter met trekkrag teen lae toere.

Die 1,2 liter weergawe stel die 208 in staat om binne 12,2 ‘n snelheid van 100 km/h te haal en die naald op die ou einde by 175 km/h te laat draai. Vir die 1,6 liter model is die syfers is dit onderskeidelik 8,9 sekondes en 190 km/h. In beide gevalle word ‘n vyfgang-handratkas gebruik. Peugeot daarop aanspraak dat beide enjins besonder omgewingsvriendelike is en is die CO2 uitlaatgasse so laag as 134 g/km en 104 g CO2  per kilometer onderskeidelik.

Die manne van Peugeot beskryf die bakwerk van die 208 as “atleties met ‘n gesofistikeerde silhoeët.” Die lyne is vloeiend en die atletiese karakter kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat daar nie ‘n oortollige gram aan die bakwerk sigbaar is nie. Maar hierdie is estetiese eienskappe waaroor elkeen uiteenlopende menings mag hê, maar vir ons was hy bloot eenvoudig mooi en grens hy amper aan die term begeerlik!

Behalwe vir die leeutjie en die syfers “208” is daar uiterlik geen manier om die kleintjie van die groter een te onderskei nie.  Alleen die wielgrootte verraai die enjingrootte of die graad van luuksheid; die intreemodel is toegerus met 15” allooivellings en die 16”wiele is gereserveer vir die 1,6 model en die meer luukse 1,2 liter.

Binne is daar al die toerusting wat deesdae van ‘n luikrug met styl verwag word; ‘n raakskerm (op die luuk modelle) wat al die nodige reisinligting verskaf sonder dat daar met knoppies of mini-muise gepeuter hoef te word en ‘n uitstekende klankstelsel met ‘n FM/AM radio, Bluetooth verbinding en toegang tot musiek van jou keuse deur middel van ‘n USB-poort of die gebruik van Bluetooth. Van belang is die snelheidsmeter wat bokant die stuurwiel geplaas is sodat dit makliker leesbaar is. Hier gee Peugeot die toon aan en kan ander vervaardigers gerus die voorbeeld vir veiligheidsdoeleindes volg. Lugversorging is standaard op die intreemodel en daar is volle outomatiese klimaatbeheer op die topmodelle.

En in Peugeot se beproefde resep van destyds is daar nie onnodige oorhange voor en agter nie en is die wiele geplaas waar hulle hoort; op die vier uiterstes van die bakwerk. Hierdeur word die hantering van die motor op die oop pad en draaie maksimaal benut. Dit, tesame met die Franse veringtegnologie van ferm maar nie stamperig nie, maak van die 208 sommer ‘n netjiese, bestuurbare motor wat byval by ‘n groot groep jong en ook ouer mense gaan kry; veral dié wat aanstap in jare maar steeds jonk van gees is. En natuurlik is al die jongste elektroniese veiligheidstoerusting daar wat insluit lugsakke, ABS-remstelsel met remverspreiding (EBD) en noodrembystand (EBA).

Die soepelheid van die suspensie is getrou aan sy lang bloedlyn wat gerief met funksionaliteit laat saamsmelt. Die elektriese stuurhulp werk onberispelik en gee deurgaans goeie terugvoer aan die bestuurder. Alle bestuurders gaan egter nie gaande raak oor die (baie) klein stuurwiel van die 208 nie; veral nie as jy gewoond was aan die buitengewoon groot stuurwiele van die 404 en vroeë 504 modelle nie. Dit neem ook ‘n sekonde of drie voordat die kragstuur “aan die gang kom” nadat die enjin aangeskakel is.

Wat kos dit om hierdie elegante klein kunswerk in die motorhuis te trek? Pryse begin by N$154 900 vir die 208 1.2 VTi Access en eindig by die N$189 900 vir die 1.6 VTi Allure. Maar vir die Peugeot entoesiaste wat méér perde onder die kap wil hê, sal nog ‘n bietjie moet wag vir die GTI wat binnekort sy opwagting gaan maak!

Vir die wat wel wil koop is die vyfjaar/60 000 km Premium onderhoudsplan en ‘n driejaar/100 000 km waarborg ‘n groot bonus!

Leave a Comment