Padtoets: Volkswagen Polo Bluemotion 1.0 TSI

Vir ‘n werklik skoner omgewing!

In die gees van die tyd en debatte is dit nodig om te benadruk dat Volkswagen wel deeglik voertuie bou wat vir ‘n skoner omgewing sorg. Die voorbeeld is die Polo Bluemotion wat ons onlangs onder hande gehad het. Die probleem om skadelike uitlaatgasse tot die minimum te beperk is gewoonlik om onder andere verstellings in die elektroniese beheerstelsel aan te bring om verrigting te verbeter.

Tydens verskeie toetsritte in Duitsland met verskillende motors, meestal turbodiesels, was ek dikwels onseker oor watter grootte enjin onder die enjinkap was omdat hulle eenvoudig net perdekrag spesifiseer; twee Sharans sal langs mekaar staan en die een ontwikkel byvoorbeeld 110 perdekrag en die ander 90 perdekrag terwyl die enjingrootte dieselfde is. (Ja, die vooruitstrewende en deeglike Duitsers gebruik nog altyd die perdekrag-eenheid in plaas van die metrieke en internasionaal aanvaarde Kilowatt!).

Die antwoord in die verskillende kraglewerings in identiese enjins is natuurlik die verskillende elektroniese skyfies wat in die beheerstelstelsels gebruik word.

Om aan die veilige kant van minimum besoedeling te wees, en daarmee die CO2 vlakke te beperk en omgewingsbelasting vry te spring, is natuurlik om enjins kleiner te maak. Terwyl die ander modelle in die Polo-reeks gebruik maak van 1.2 en 1.4 enjins, is die Bluemotion-model toegerus met ‘n vierklep 999 cc driesilinder petroleenheid met turboaanjaging om te sorg dat hy bybly by die ander perde uit dieselfde stal.

Hierdie merkwaardige klein enjintjie ontwikkel ‘n fris 70kW teen 5,000rpm wat inderdaad meer krag het as sy stalmaats. Ook die wringkrag, 160Nm wat reeds teen 1,500rpm beskikbaar is, is presies dieselfde as die van sy groter boeties. Verder is die verbruik dieselfde as dié van die 1,5 liter turbodiesel weergawe. Laasgenoemde weergawe is in ‘n standaard en luukse uitvoering beskikbaar en prysgewys pas hy netjies tussen die pryse van die twee turbodiesels.

Maar hoe gedra die Bluemotion 1.0 TSI hom op die pad? Eintlik is dit ‘n dom vraag want hy het al die goeie eienskappe van sy stalmaats. As die bestuurder nie weet nie, sal hy nie agter kom dat die enjin net ‘n liter verplaas nie, versnelling is uitstekend en versnel van 0-100km/h in 10,5 sekondes en laat die naald op 191 km/h draai; vinniger as die ander Polo’s met hulle groeter enjins! Die krag word deur middel van ‘n 5-gang handratkas na die voorwiele oorgedra.

Die vering is uitstekend met sy beproefde McPherson mikvere voor en wringstawe agter en 15” vellings met genoeg rubber tussen die bak en die pad op sy 185/60 bande en die  spaarwiel is ‘n volle-grootte staal een. Laasgenoemde is ‘n reuse verbetering op die vorige Bluemotion weergawe waar daar geen spaarwiel was nie en slegs ‘n bottel vol doepa.

Hoekom?

Die antwoord is natuurlik omdat hulle gewig wou bespaar en sommige ingenieurs  in Wolfsburg nie heeltemal op hoogte was van die realiteite van die toestand van Namibiese paaie en die lang afstande tussen bandeplekke nie. Aan die positiewe kant, om draaie klou die rubber soos ‘n neet op die pad en is daar nie onaangename verrassings as daar net effens te vinnig gery word nie.

Verder is daar natuurlik die hoë gehalte afwerking wat sinoniem is met Volkswagen as handelsnaam en al die veiligheidstoerusting en klankstelsel wat van ‘n voertuig in ‘n hoogs-kompeterende mark verwag word.

‘n Handige ding is die wegtrekhulpbystand wat verseker dat die voertuig nie terugrol teen opdraendes nie wat aan leerlingbestuurders ‘n groot voordeel gee by die toetsterrein waar hulle moet uitpasseer!

Die Polo Bluemotion word gedek deur ‘n drie-jaar of 120,000km waarborg en ‘n handige diensplan van drie jaar of 45,000km.

Diensintervalle is elke 15,000km.

En wat kos hierdie ekonomiese en omgewingsvriendelike Volkswagen? Skryf ‘n tjek uit vir N$235,800 en ry met hom huis toe!

Leave a Comment