Spirit of Amarok Media Uitdaging

Die “Spirit of Amarok Media Challenge” is in April 2019 naby Nelspruit gehou met 30 motor joernaliste wat deelgeneem het. Die “Spirit of Africa” en “Spirit of Amarok” staan onder die leiding van die legendariese Suid-Afrikaanse renjaer, Sarel van Merwe.

Die “Spirit of Amarok” is ‘n bekende amateur 4×4 byeenkoms met internasionale status waar spanne van Namibië, Botswana en Suid-Afrika meeding. Daarna dring die top 2 spanne deur na die “Spirit of Amarok International” byeenkoms  wat in Augustus 2019 sal plaasvind. Daar sal spanne van Australië, Denemarke, Duitsland, Taiwan, China, Rusland en die Tjeggiese Republiek deelneem. Die wenners ding mee om die gesogte Wolf trofee wat die vaardighede van die Amarok simboliseer.

Die Amarok is ‘n wolf uit Inuitiese (Eskimo) mitilogie.

Vir hierdie eerste byeenkoms vir die media het Sarel en sy span ‘n aantal moeilike uitdagings uitgelê. Dit sluit ‘n aantal tegniese- en ‘n paar snelheids-seksies in. Die dag is afgesluit met een van bestuurders wat geblinddoek word en dan agteruit met die bakkie moet vleg tussen pale deur terwyl sy spanmaat vir hom/haar bevele op ‘n tweerigting radio deurgee.

In die tegniese uitdagings moes elk van die spanne ‘n aantal 4×4 roetes baasraak in ‘n vooraf bepaalde tyd. Die gedeeltes is uitgelê teen ‘n berghang met steil hellings en baie rotse en los klippe wat dit nogal baie taai gemaak het vir die bestuurder en voertuig. Verder is paalties so geplaas dat jy tussen dit moet deurry sonder dat die voertuig daaraan mag raak, spieëltjies ingesluit. Elke span begin met 100 punte en punte word afgetrek vir elke keer as ‘n die voertuig (kantspieëls ingesluit) aan ‘n paatjie raak word of as die eindpunt te laat of te vroeg  bereik word.  

Die voertuie wat gebruik is, is die nuutste VW Amarok V6 4motion. Dit het ‘n 3 liter diesel enjin, ‘n 8-spoed outomatiese ratkas en permanente vierwiel aandrywing. Ervare 4×4 entoesiasiste sal dalk wonder of die gebrek aan ‘n laestrek ratkas nie die bakkie se veldry vermoëns sal beperk nie maar elkeen van die vyftien bakkies het die aantal uitdagings met groot gemak baasgeraak. Daar moet in ag geneem word dat meeste nie ervare 4×4 bestuurders is nie. Soms het dit amper te maklik gevoel. Jy kies net die 4×4 opsie en soms die ewenaarslot en met die kombinasie van die sterk enjin en die outomatiese ratkas laat die Amarok eenvoudig net eenvoudig die taai hindernisse met gemak agter.

Dit is die paaltjies wat die meeste probleme gegee het en nie die uiters rowwe terrein nie.

Die snelry gedeeltes is op meer gelyke grondpaaie voltooi. Dit was hier meestal ‘n toets vir die bestuurder se vaardighede eerder as die Amarok maar het ons tog die kans gegee om die versnelling en krag van die V6 enjin te voel.

Die bakkies is reeds welbekend in Suid-Afrika en het in 2018 die toekenning as die internasionale bakkie van die jaar gekry. Die Amarok word in Argentinië gebou en is net as dubbelkajuit weergawes beskikbaar.

Die Amarok is nie net goed in die veld nie. Binne in die kajuit is hy puik afgewerk en tipies Volkswagen lyk dit netjies en duursaam en voel alles baie solied. Na die voertuig deur die dag kwaai straf moes verduur, was daar geen teken van iets wat los geraak het nie – niks wat geluide maak en kraak nie.

Dieselfde voertuie gaan ook vir die kompetisies wat volg gebruik word.

Verder is die bakkie goed toegerus met meeste moderne hulpmiddels vir die bestuurder en ander passasiers. Die netjiese en smaakvolle voorpaneel het  ‘n raakskerm waarmee die radio, App-Connect, Bluetooth en ‘n USB koppelvlak wat met iPod en iPhone versoenbaar is.

Die VW Amarok met die V6 diesel enjin kos R727 800 vir die goedkoopste weergawe en R818 200 vir die Extreme weergawe. Die enjin ontwikkel 165kW en lewer 550Nm wringkrag. Al drie.weergawes is toegerus met die 8-spoed outomatiese ratkas en vierwiel aandrywing. Volkswagen gee die brandstofverbruik aan as 9,0 L/100km en ‘n topsnelheid van 193 km/h. Saam met die verkoopprys kry jy ‘n diensplan van 5jaar of 90 000km.

Vir my was dit ‘n voorreg om deel van hierdie ervaring te wees. Dit het my ook weer laat besef hoe goed hierdie Amarok bakkies ontwerp en gebou is en dat ‘n begeerlike voertuig is om te besit vir ‘n gesin wat graag weg van die gebaande weë wil reis.

Leave a Comment