Die titel van hierdie artikel mag dalk ‘n sterk standpunt in neem. Juis is dit dan vir hierdie rede dat ons die klem om die woord “dalk” plaas. Totdat ons nie self die voertuig getoets het nie, sal ons dit nie kan reg of vekeerd bewys nie. Wat ons egter kan doen, is om ons standpunt te basseer op vorige toetse.
Persoonlik onthou ek die gevoel, wat Volkswagen se tweede spesiale Golf uitgawe, die Clubsport, by my geskep het. Ek het pas begin skryf vir NamWheels / Galimoto Media en my verwysings raamwerk was maar nog beperk. Wat ek wel geweet het op die stadium, was dat die Clubsport my definisie van die Golf verander het.
Nie meer het ek dit gesien as die normale klein luikrug waarmee elke Jan-rap-en-sy-maat rondry nie. Wat my meer verbaas het, was die uitmundende versnelling vanaf 0-100km/h vir so ‘n klein voorwiel aangedrewe voertuig. Min sou ek op hierdie stadium weet dat Volkswagen die Clubsport S, later in 2016 sou uitbring. Hierdie sou die voertuig wees, wat die voorwielaangedrewe rekord rondom die bekende Nürburgring sou neem.
Versnel die horlosie met ‘n paar maande en 2017 sien ons met die bekendstelling van die Golf 7.5 GTi en Golf R. Weereens is my verwysings raamwerk verbreed en is daar ombliklik besef waarom ongeveer 33% van alle Golfs, wat in Suid Afrika verkoop word, GTi modelle is.
Hierdie statistiek maak Suid Afrika een van die top 10 GTi lande in die wêreld.
Die kersie op die koek het egter in 2019 ariveer. Tot hede het die opgedateerde Golf 7 R met die ikoniese Akrapovič uitlaatstel ‘n besondere plek in my kort motorjoernalistieke potifeulje. Nie net het die vierwielaangedrewe klein luikrug uitmunde padhouvermoë nie (selfs op ‘n spieëlbeeld teerpad tydens ‘n hewige Vrystaatse donderstorm), maar is dit net dalk die mees gesofistikeerde sports luikrug op die mark.
Dit is die ware wolf in skaaps kleding. ‘n Voertuig waarmee jy op Sondae by die skoon-familie kan gaan eet, net om die volgende dag uit die kattebak te hang met ‘n mikrofoon en kamera, gereed om die sportiewe “Snap-crackle-and-pop” klanke op te vang.
Vanaf die intreevlak Golf, die GTi, die Clubsport, tot by die R, het Volkswagen dit goed reg gekry om ‘n voertuig te skep vir elkeen. Die Golf is dan werklik ‘n voertuig vir die mens, soos die Duitse vervaadiger se slagspreuk lui.
Met die nuwe Golf 8, wat in 2021 beloof is, het die vervaardiger dit ook goed gedink om ‘n laaste Golf 7 aan die Suid-Afrikaanse mark te verkoop. Hoewel dit reeds vir ongeveer ‘n jaar op die Europese kontinent beskikbaar is, is dit Suid Afrika se eerste kennismaking met die TCR embleem.
Dit is ook dan nie ‘n naam om ligtelik op te neem nie, siende dat die Volkswagen Golf TCR reeds twee Internasionale TCR kampioenskappe ingewerk het.
Volkswagen se laaste Golf 7 gaan dan uitermaat nie ‘n Sondag voertuig wees nie. Dit is aan die media bekend gestel as die vinnigste Golf GTi nog. Dit is belangrik om hier te besef dat die R nie in die GTi kategorie val nie en dus nie tel nie.
Wat dit egter beteken, is dat my eie verwysingsraamwerk van Volkswagen se vinnigste GTi in 2016 ‘n effense skok sal kry met die TCR.
Die voormalige Clubsport S het 226kW gehad (13 meer as die Clubsport self), maar hierdie was net vir 10 sekondes op ‘n slag. Die TCR sal 213 kW en 380Nm, permanent vervaardig (selfs sonder die Clubsport se kort “Overboost”).
Hierdie kraglewering is amper identies aan die vierwiel-aangedrewe Golf R, wat in 2017 bekend gestel is. Dit beteken dat die TCR net 0.8 sekondes stadiger sal wees as die huidige Golf R, met ‘n top-snelheid van 264km/h.
Die TCR sal ook kom met ‘n klomp sportiewe ontwerpe, binne en buite, asook ‘n 6-spoed DSG ratkas.
Die belagrike vraag: Sal dit beter wees as die huidige Golf R?
Ons sal egter nog nie hierdie vraag kan beantwoord nie, maar sal ons ons opinie vir nou op spekulasie en die 297 ander potensiële TCR eienaars se mening moet grond.
Wat ons wel kan bevestig op die stadium is dat dit die vinnigste GTi nog sal wees; nie net in terme van 0-100km/h nie, maar ook in terme van sy maksimum snelheid.
Verder word dit ook genoem dat die TCR uitmutende padhouvermoëns het, te danke aan ‘n elektroniese gly ewenaar. Elke TCR is ook met dieselfde remskuiwe toegerus as die Golf R. Die vering van die TCR is ook effe harder as die normale GTi, wat dit meer sportief maak.
Vir R669,000 (met ‘n 5-jaar / 90,000km diensplan en 3-jaar / 120,000km waarborg) is die TCR wel huidiglik goedkoper as die Golf R en bied dit op papier ‘n baie goeie pakket vir die aantal geld.
Die Golf reeks het tot dusver hierdie waarde vir geld aanbod op papier goed laat realiseer op die pad. Ons hoop van harte dat die TCR dieselfde sal kan baasraak en die Golf 7 reeks ‘n goeie vaarwel kan gee.