Citroen is weer anders met nuwe C4 Cactus
Die Citroëns van die ou dae het ‘n reputasie gehad van ‘n bietjie anders wees maar die laaste paar jaar was hulle maar nog net deel van die hoofstroom Europese motors. Nou het Citroën met die nuwe C4 Cactus weer ‘n model wat jy op ‘n afstand kan uitken tussen die ander. Party mense sal dink hy is pragtig, terwyl ander weer glad nie van sy voorkoms sal hou nie. In Suid-Afrika vervang die Cactus die C4 reeks.
Die ontwerp is minimalisties maar elegant en tref dadelik met die prominente lugkussings (airbumps) aan die kante van die deure. Dit is ook geïntergreer met die voor en agter buffers en is van duursame, swart, sagte plastiek gemaak. Die gedagte is dat dit die stampe en stote van die stedelike parkeerareas, soos trollies, deure van ander voertuie, ens, sal weerstaan en het geen onderhoud nodig nie. Ander kleure is ‘n opsie, maar dit sal ekstra kos. Met sy voorkoms en effe hoër grondvryhoogte (130mm) kan mense hom as ‘n sogenaamde “crossover” of sportsnutsvoertuig beskou en ding dalk mee met die Nissan Juke, Ford EcoSport en Kia Soul, maar eintlik is die Cactus ‘n groterige luikrug en kan, wat grootte betref, meeding in die C-segment (Golf, Focus, Astra).
Dit was die doel om die Cactus so lig as moontlik te maak en sodoende saam met nuwe enjins die brandstofverbruik en die skadelike uitlaatgasse minder te maak. Die Cactus weeg sowat 200kg (amper die gewig van drie mense) minder as die C4.
Daar is twee afwerkingsvlakke, die Feel en die Shine en twee driesilinder enjins, albei 1,2 liter. Die nie-turbo enjin se kraglewering is 60 kW en 118 Nm @ 2 750rpm. Die sterker enijn met die turbo ontwikkel 81kW en 205Nm @ 1 500rpm. Die lae enjin rewolusies waar die turbo enjin sy maksimum wringkrag ontwikkel gee die motor lekker trekkrag, selfs op die hoëveld waar ons die toetsrit gehad het. Beide enjins gee die Cactus ‘n baie goeie brandstofverbruik van 4,7 l/100km gekombineerd, terwyl die langpad yfer so laag soos 4l /100km of minder kan wees.
Die Cactus is tans net beskikbaar met ‘n vyfspoed handratkas maar, volgens PSA se bestuur sal ‘n outomatiese ratkas beslis later volg. Dit behoort die gemak van die Cactus verder te verhoog.
Binne is die voorpaneel so ontwerp dat dit ‘n groot plat oppervlak vorm en is vorentoe geplaas om vir die voorste passasier heelwat ruimte te gee. Die paneelkissie is groot en kan van bo af gelaai word. Die sitplekke is breed en gemaklik. Die agterste ruite kan nie afdraai nie maar kan slegs effens aan die agterkant met ‘n knip oopgemaak word. Dit gee ekstra ruimte vir die agterste passasiers, alhoewel die eintlike rede weereens is om gewig te spaar en dus bydra om die voertuig ligter te maak. Die Cactus weeg ligter as ‘n B-segment model soos ‘n Fiesta maar is die grootte van ‘n C-segment voertuig soos ‘n Focus. Die bagasieruim is redelik groot met 358 liter spasie en kan vermeerder word tot 1170 liter as die agtersitplek platgeslaan word.
Standaard toerusting is volledig en selfs in die Feel is daar lugreëling, ‘n klankstelsel met vier luidsprekers, ‘n radio en MP3 speler, Bluetooth koppeling, spoedbeheer, elektriese voorruite en buitespieëls en ‘n stuurwiel waar daar ‘n hele aantal beheer knoppies is. Verder het die Shine nog klimaatbeheer, satelliet-navigasie, ‘n trukamera, outomatiese hoofligte en windskermveërs , om enkele eienskappe te noem.
Wat veiligheid betref is daar glad nie afgeskeep nie en albei die Feel en die Shine het dieselfde omvattende veiligheidskenmerke soos ses lugsakke met ‘n unieke dak-lugsak vir die voorste passasier (vandaar die groot paneelkissie). Daar is ook elektroniese deursluiting vir kinders en Isofix hegpunte vir kindersitpekke wat nou in Suid-Afirka verpligtend vir is kinders tot drie jaar.
Ander veiligheidstoerusting sluit ABS met EBD (elektroniese remverspreiding) en nood rembystand (EBA) in. Dan is daar ook elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC) en ‘n monitor vir banddruk. Die Shine het ook wegtrekhulp by opdraandes en ‘n bonus is die volgrootte spaarwiel.
Die rit is soepel soos ‘n groter motor en op die pad het die turbo-enjin verbasend goed gedoen, die lae gewig van die Cactus kan ook in die stuur gevoel word, dit is akkuraat om die draaie en voel stabiel op ‘n snelweg teen 120km/h. Dit is nie veronderstel om ‘n sportiewe karakter te hê nie – nie in ontwerp nie ook nie op die pad nie. Net om lig, prakties, gemaklik en lig op brandstof te wees met genoeg ruimte vir die alledaagse gebruik, veral in ‘n stedelike omgewing.
Die opsies en pryse wat in Suid-Afrika bekikbaar is:
Citroën C4 Cactus FEEL N$224 900
Citroën C4 Cactus Turbo FEEL N$259 900
Citroën C4 Cactus Turbo SHINE N$284 900
Hierdie pryse sluit ‘n drie jaar of 100 000km waarborg in asook ‘n vyf jaar of 100 000km diensplan saam met padbystand. Daar is ook ‘n opsie om die waarborg op te gradeer tot vyf jaar. Diensintervalle is elke 15 000km.