Paslaken tussen die i20’s en i30’s
‘n Ander opskrif vir die artikel miskien ‘n Noord-Kaapse sêding gewees het; “tussen die tjoep en die taaier.” Daar is net-net plek vir die paslaken tussen die twee bestaande modelle en dit is meer ‘n saak van die verskil in pryse as in grootte wat die nuwe aankomeling so welkom maak op ons mark.
Hyundai, wat verlede jaar sesde op die ranglys van vervaardigers was, is seker een van die groot suksesstories in die motorbedryf in ons onlangse geskiedenis. Hulle eerste Pony-modelle, wat op Toyota tegnologie baseer was, het na die bekendstelling in Kanada ‘n wegholsukses, of ‘n wilde galop, geword. Die Accent het op die Pony se hakke gevolg en was ook dié model wat sy voete ‘n dekade of twee-drie gelede by ons kom neersit het. Later het die Elantra en Sonata gekom.
‘n Onglukkige mistykie aan die kant van die destydse private invoerder, het Hyundai vir ‘n jaar of wat uit die land laar verdwyn. Maar die terugkom was met mag en mening en dié wat nog steeds hulle “ou” modelle gehad het, kon getuig van die taaiheid van hul Hyundais en die nuwe bemarkers kon baie vinnig die moontlike skeptici oortuig van die inherente betroubaarheid van hulle voertuie.
Hyundai het ‘n paar jaar gelede begin om hulle nuwe modelle nommers in plaas van name te gee; so het die nuwe geslag Getz die titel i20 gekry. En ná hom het die groter i30 gevolg. Maar prysgewys was die groter model aansienlik duurder en het Hyundai ‘n nis gesien tussen die twee modelle – en dit is waar die Accent inpas.
Uiterlik gesien volg die Accent die vloeiende maar skerp stilering van die jongste Hyundais wat van hom ‘n wenner maak, ook aan die binnekant met sy iPod/USB/Aux poorte en standaard Buetooth funksie vir handvrye selfoonoproepe.
Daar is twee modelle wat deur dieselfde 1 591 cc liter Gamma enjin met wisselbare klepbeheer toegerus is en 91 kW teen 6 300 rpm ontwikkel; wringkrag van 156 Nm is beskikbaar teen ‘n heel aanvaarbare 4 200 rpm. Met die 6-gang handrat weergawe kan ‘n verbruik van 6,4 liter /100 km verwag word en met die 4-gang outomaties, 6,8 liter /100 km.
Ongelukkig het Hyundai nie die verrigtingsyfers vir die Accent tydens die bekendstelling bekend gemaak nie. My standaard naslaanwerk, Auto Katalog wat deur die gesaghebbende Auto Motor und Sport uitgegee word, het ook geen verrigtingsyfers aangetoon nie! Hoe dit ook al sy, op die pad het hy hom goed gedra met baie goeie versnelling deur die ratte as voertuie vinnig verbygesteek moes word. ‘n Wilde waagskoot van my kant af is dat die topsnelheid in die omgewing van 190 km/h moet wees.
Die kragstuur word elektries beheer en die gevoel is positief; daar is net genoeg ondersteuning teen spoed om nie die “dooie” gevoel te ervaar wat soms by Hyundai se mededingers gevind word nie. Die suspensie is ook ‘n baie goeie mengsel van fermheid sonder om stamperig of hard te voel. Die Accent is geskoei met allooivellings waarop 195/50R16 bande pas. Vóór word McPherson stutte gebruik en agter bestaan die vering uit wringstrawe met teleskopiese skokbrekers en kronkelvere. Daar is bitter min padgeraas vanaf die suspensie se kant af en oor die algemeen het die Accent die laagste geraasvlakke in vergelyking met sy direkte opposisie.
Uit ‘n paar plaaslike gevallestudies oor motorbotsings het Hyundai die veiligheidstoets met vlieënde vaandels geslaag. Vir ‘n meer objektiewe beoordeling; die nuwe Accent luikrug het die Australiese ANCAP-toets met volpunte geslaag. Verder is daar natuurlik al die standaard veiligheidshulp soos ABS-remme en elektroniese remverspreiding (EBD).
Die laairuimte agter is ruim en die agterdeur wyd sodat groot voorwerpe gemaklik gelaai kan word; die skokbrekers is ook so geplaas dat die maksimum wydte benut kan word. Met die agtersitplek in posisie kan daar 370 liter bagasie gepak word en met die agterste sitplekke platgeslaan word die pakruimte amper verdriedubbel. Die 60/40 sitplekverdeling agter maak dit natuurlik moontlik om buitengewone lang voorwerpe soos lere te vervoer en steeds plek te hê vir ‘n passasier.
Wat gaan hierdie Koreaanse plesierighede, wat in sewe verskillende kleure kom, kos? Die handrat weeg in teen R 234 900 en die outomatiese weergawe R 244 900. Hierby is ingesluit Hyundai se 5 jaar/150 000 km waarborg, ‘n 5 jaar/90 000 km diensplan en ‘n 5 jaar/150 000 km padbystanddiens. Diensintervalle is elke 15 000 km.
Kan u my die prys gee van die schockabsorbers 2015 model. Die 1 30 die 1600 model