Bekendstelling: Hyundai ix35 1,7 Turbodiesel Premium

Goeie nuus vir die Kersvakansie

Tussen al die slegte nuus en dinge wat ons elke dag hoor en ervaar kom daar die goeie nuus dat dieselpryse heelwat gaan sak; ook dat Hyundai vir ons ‘n klein vreugdetjie so kort voor Kersfees gebring het. Dit is nou die 1,7 liter turbodiesel ix35 wat heelwat goedkoper is as die groter 2-liter wat tot nou toe die septer geswaai het in hierdie gewilde reeks sport-nutsvoertuie.

Die nuwe knaap het ‘n enjin van 1 685 cc wa 260 Nm wringkrag tussen ‘n baie rustige, amper luierspoed, 1 250 en 2 750 rpm beskikbaar stel. Van minder belang is die 85 kW wat teen 4 000 rpm ontwikkel word; die wringkrag is die ding wat op die ou einde ‘n man (of vrou) in staat stel om ‘n ander voertuig teen ‘n bult verby te gaan. En dan nog ook krag in reserwe het.

Wat besonders is aan hierdie ix35 is die land van herkoms; die Tsjeggiese Republiek! Hier het Hyundai  in die rekordtyd van slegs 18 maande ‘n fabriek laat herrys wat die mees-gerobotiseerde in hierdie geweste is en wat die grootste buitelandse belegging in die land nog verteenwoordig. En dit lyk of die helfte van die werkers op die fabrieksvloer intelligente en mooi blonde meisies is! Maar vir die wat miskien nie weet nie; Tsjeggië was een van die eerste lande op die vasteland wat motors van gehalte gemaak het en daarmee voortgegaan het deur die donker jare van kommunistiese oorheersing.

Oor die vloeiende bakvorm en die populariteit van die ix35 hoef daar nie iets gesê te word nie; hy kon net sowel ‘n naamplaatjie uit Beiere op die neus gedra het! Die motor lyk goed met groot 17” allooivellings en die spaarwiel is ook volgrootte; belangrik as ‘n papwiel tussen iewers en nêrens voorkom. Al wat effens pla is die “kanongrys” afwerking van die vellings; ekself, en ek glo talle ander motoriste sal liewers die skoon, silwervoorkoms van die natuurlike metaal verkies. Of het ons net oor die jare daaraan gewoond geraak?

Wat die binnekant betref is al die nuutste tegnologie wat kan aanskakel en afskakel daar; vanaf aanpasbaarheid vir selfone tot die jongste elektroniese musiekstelsels en geheuestafies. (Hyundai noem dit derde-generasie klanktegnologie). Die sitplekke en uitleg van die belangrikste instrumente is byderhand en die meeste funksies kan deur middel van kontroles op die stuurwiel hanteer word. Goeie nuus is dat die stuurwiel beide horisontaal en vertikaal verstelbaar is en dat die kortes en die langes almal die ideale bestuursposisie sal vind. Dan is daar natuurlik ook al die veiligheidstoerusting denkbaar wat hulle rol sal vervul as ding moontlik mag skeefloop. Dit is gerusstellend dat die ix35 met sy bekendstelling ‘n paar jaar gelede ‘n 5-ster gradering in die Euro NCAP gekry het.

Volgens Hyundai kan die nuwe turbodiesel van 0-100 km/h in 12,4 sekondes versnel en sal die naald op 173 km/h laat draai as die pedaal lank genoeg getrap word. Ook kan ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 6,5 l/100 km verwag word terwyl die skadelike uitlaatgasse slegs op 139 g/km te staan kom.

Die krag word deur ‘n nuwe sesgang ratkas, met aangepaste verhoudings, na die voorwiele oorgedra.

Voor word McPherson mikstutte gebruik en agter veelvuldige skakels om aan hom goeie gedrag deur draaie en op die reguit pad te verseker. Op grond- en sinkplaatpad is die nuweling goed gemanierd en voorspelbaar en die vryhoogte is voldoende om middelmanetjies goed te hanteer; so ook onverwagte slaggate op teerpaaie.

Wat bly oor? Net die prys. Die nuweling uit Tsjeggië gaan jou R 359 900 uit die sak jaag maar daarvoor kry jy ook ‘n 5-jaar/ 150 000 km waarborg, en meer belangrik, ‘n 5-jaaar/90 000 km Diensplan.

En as hy te duur kos, maar jy hou van die bakvorm? Kyk na die 2.0 liter 6-gang petrol handrat teen R 324 900.

Leave a Comment