Bekendstelling: Datsun GO

GO Man Go!

Twee jaar na dit bekend geword het dat die ou bekende handelsmerk, Datsun, weer op die mark gaan wees, is die Datsun GO nou te koop. Die ouer garde sal die gewilde Datsun modelle van die sewentiger en tagtiger jare onthou soos die 1600 SSS en die 120Y toe hulle die topverkopers in die land was.

Nissan, die moedermaatskappy, het nou die handelsmerk teruggebring vir hulle nuwe reeks modelle wat op die groeiende, goedkoper mark gerig is. Dit sluit, behalwe Afrika, ook ander lande met ‘n groeiende jong stedelike bevolking in die wat vir die eerste keer ‘n motor wil koop. Hierdie sogenaamde “Risers” wil graag ‘n nuwe motor besit wat nie ‘n tweedehandse rammelkas is nie en wat hy (of sy) trots op kan wees om te besit en genoeg spasie het om sy vriende ook saam te neem. Volgens die bemarkers van die Datsun GO is bogenoemde hulle teikenmark. Dit is nie te sê ander kopers, soos ouer mense wie byvoorbeeld ‘n behoefte het vir ‘n tweede motor vir die dorp, sal nie ook belangstel nie.

Die Datsun GO is tans die enigste in die reeks wat in Suid-Afrika te koop aangebied word. Datsun hoop om met hierdie model in die intree-segment weer die naam gevestig te kry.

Hy word in Indië gebou en is hier net in ‘n vyf-deur luikrug-weergawe te kry met twee afwerkingsvlakke, nl die Mid en die Lux. Albei word deur dieselfde 1200cc drie silinder petrol enjin aangedryf wat 50kW @ 5 000rpm ontwikkel en 104Nm @ 4 000rpm wringkrag oplewer. Aaandrywing is deur die voorwiele deur middel van ‘n vyf-spoed handratkas.

Volgens Datsun kan die eienaar van die GO ’n gemiddelde brandstofverbruik van 5,2 liter/100km verwag.

Binne is die afwerking eenvoudig met harde plastiek oral maar is tog netjies en die instrumentepaneel met sy digitale toereteller en ritrekenaar is duidelik leesbaar en gebruikersvriendelik. Daar is nie ‘n radio/CD-speler nie, maar ‘n mobiele laaistasie vir ‘n selfoon wat dit moontlik maak om musiek deur die luidsprekers te speel. ‘n Interressantheid en handige kenmerk is die ligte wat, met die trek van die hefboompie, nog vir 30 sekondes aanbly nadat die motor afgeskakel is of twee trekke vir 1 minuut, drie trekke vir 90 sekondes en vier trekke vir 2 minute; oulik!

Die GO is met doetreffende lugreëling toegerus en het elektriese ruite by die voordeure. Die voorste sitplekke is vas aan mekaar, amper soos ‘n bank, maar daar is net sitplekgordels vir twee mense en is dus nie bedoel vir nog ‘n passasier, soos bv ‘n kind, nie. Maar saam met die rathefboom, wat hoog in die middel geplaas is met ‘n plat vloer in die middel, skep dit ‘n gevoel van ruimte. Oor die algemeen is die kop- en beenruimte vir pasassiers goed. Die bagasieruim kan ‘n goeie 265 liter bagasie huisves.

Op die pad het ons kans gekry om die GO in ‘n voorstedelike omgewing te ry. Die GO is redelik rats op sulke paaie en in verkeer. Die ritgehalte is goed vanweë sy stewige vering en onderstel, maar die 13” wiele is klein wat saam met die hoë grondvryhoogte ‘n bietjie bakrol het. Daar was ongelukkig nie geleentheid om die GO op die oop pad teen hoër snelhede te toets nie, maar dan is die motor eintlik maar vir die stedelike mark bedoel. Gegee die krag van die enjin behoort die GO ook die wettige maksimum snelhede goed baas te raak.

Die remme is goed al is daar nie ABS of EBD nie. Daar is ook geen lugsakke nie. Dit sal seker wenkbroue laat lig maar hierdie veiligheidskenmerke is ook nie te kry in sy naaste mededigers van Indië en China nie. Dit is modelle soos die Tata Indica LE, Geely LC en FAW.

Bogenoemde weglatings is gedoen om die prys so prys aantreklik moontlik te maak, wat nogal moeilik is as die swak wisselkoers in ag geneem word. Die bestuur van Datsun SA is tevrede dat die GO aan plaaslike voertuigregulasies voldoen. Daarom word die GO verkoop teen slegs N$89 500 vir die Mid model en N$99 500 vir die Lux weergawe en het ‘n 3-jaar of 100 000km waarborg.

Leave a Comment