Hyundai Santa Fe 4×4 nou nóg beter
Dit is insiggewend dat die eerste Koreaanse Grand Prix (dit is nou in Suid-Korea – nie die kommunistiese noorde nie.) op Sondag, 24 Oktober plaasgevind het. Dit kan gesien word as ‘n teken van die groot vooruitgang wat die Koreaanse motorbedryf die afgelope paar jare gemaak het.
Op die voorpunt van hierdie opgang is Hyundai (saam met Kia Motors, wat in 1998 deur Hyundai gekoop is). Hyundai het van tiende plek in 2007 tot vyfde plek wat motorproduksie betref, gevorder.
Hyundai SA het onlangs ‘n opgeknapte Santa Fe bekend gestel. Daar word verwag dat ‘n splinternuwe model oor sowat twee jaar vrygestel sal word. Daarom is min aan die bakwerk verander en slegs die sierrooster, voor- en agter ligte is herontwerp. So ook die buffers en die wegvoubare kantspieëls met ingeboude flikkerligte.
Daar is nou slegs twee modelle, een met vyf sitplekke en een met sewe sitplekke. Omdat die modelle volledig ingevoer is, is die pryse, danksy die gunstige wisselkoers, ook effe laer – wat goeie nuus vir ons almal is.
Op die twee ekstra sitplekke van die sewesitplek-model, kan groter kinders gemaklik sit. Dit word normaalweg platgeslaan en is bedek om bagasie te kan laai. Met die tweede ry sitplekke opgeslaan is daar 969 liter laai ruimte en wanneer afgeslaan vermeerder dit tot 2 247 cc. Vir die agterste passasiers, is die beenruimte baie goed. Oor die algemeen is die kajuit ruim met ‘n luukse gevoel. Koolstofvesel is gebruik in die paneelbord, middelkonsole en die deure. Die sitplekke het leerbekleedsel en voel stewig maar baie gemaklik.
Die Santa Fe beskik oor ‘n heel reeks van byderwetse toebehore en luukses soos ‘n trukamera, sondak, elektries verstelbare voorsitplekke en dubbelsone klimaatbeheer as standard. Die beeld van die trukamera word links in die truspieeltjie vertoon op ‘n 3.5” skermpie en kan gesien word wanneer die trurat geskakel word. Daar is ook ‘n ses CD klankstelsel met poorte vir USB en MP3. Ongelukkig het dit nie Bluetooth en RDS vir die radio nie. Hyundai SA het onderneem om dit aan hul kollegas in Suid-Korea oor te dra om dit reg te stel.
Die grootste verbeterings is aan die enjin en ratkas aangebring. Die nuwe 2,2 liter diesel enjin se kraglewering is van 110kW na 145kW vermeerder en die wringkrag van 335Nm na 436Nm – wat tussen 1800rpm en 2500rpm beskikbaar is. Hierdie nuwe enjin vereis egter brandstof met ‘n lae swawel inhoud, 50dpm (deeltjies per miljoen) gebruik. Die skoner diesel is ongelukkig nie by alle diensstasies beskikbaar nie. Op die webwerf van Naamsa (http://www.naamsa.co.za) kan gekyk word watter vulstasies die skoner diesel aanbied. Alle stede en die meeste groter dorpe het ten minste een vulstasie wat die 50dpm diesel verkoop.
Aandrywing na die wiele is permanent en ‘n nuwe sesspoed outoratkas word gebruik. Die ratkas het ook ‘n “sport” modus wat die bestuurder in staat stel om self die ratte te wissel. Laasgenoemde is veral handig op moeilik begaanbare terrain. Op grondpaaie het die Santa Fe baie stabiel en veilig gevoel. ‘n Bonuspunt is dat die Santa Fe oor ‘n volgrootte spaarwiel beskik.
Veiligheidskenmerke van die Santa Fe was reeds van ʼn hoë standaard, en bestaan uit ses lugsakke, aktiewe kopstutte, stabiliteits-/vastrapbeheer en skyfremme rondom met ABS, EBD en BAS-hulp tesame met ʼn versterkte passasiersel met ekstra-lang frommelsones verseker maksimum veiligheid. Veiligheid sluit ook bykomende kenmerke soos misligte voor en agter in en ʼn vierwiel-dryfstelsel wat die bestuurder die opsie gee om self die middelgemonteerde ewenaar te sluit om ‘n gelyke verdeling van wringkrag na al die wiele bring. Met die toetsrit is hierdie opsie gebruik op ‘n spesiale veldbaan om die vermoë van die voertuig in veldry toestande te beproef. Sy toets het hy met lof geslaag.
Op die pad is die nuwe Santa Fé, met sy sterker enjin en verbeterde ratkas ‘n lus om te bestuur. Die enjin lewer genoeg krag om vinnig te versnel wanneer ‘n stadiger voertuig verby gegaan word.
Hyundai gee die topsnelheid aan as 190 km/h met ‘n gemiddelde standstofverbruik van 8,3l/100km. Versnelling van 0 tot100km/h kan in 9,5 sekondes gedoen word.
Die 2,2 GLS met vyf-sitplekke kos N$399 900 en die sewesitplek-weergawe N$409 900. By die prys is ‘n vyf jaar of 150 000km vervaardigerswaarborg en padbystand en ook ‘n vyf jaar of 90 000 km dienskontrak ingesluit.