Padtoets: Toyota Auris Sport X

Toyota Auris Sport X: Luikrug op steroïde

Normaalweg word luikrug-modelle met klein motortjies geassosieer. In die geval van die Toyota Auris is dit nie die geval nie; hierdie is ‘n meneer van ‘n luikrug wat spasie vir Afrika het en as ‘n veel groter motor lyk en voel; ‘n Yaris op steroïde.

Die nuwe Auris X-reeks, met sy opgenkapte voorkoms, is al ‘n hele tyd in die rondte  en word  onderskei deur ‘n nuwe enjinkap, flikkerligte in die syspieël, voorbuffer en sierrooster en hoofligte wat hom nou baie meer breëbors laat lyk.

Anders as wat verwag kan word van die “X” wat op die stert van die Sport X aangebring is, het dit niks met vierwielaandrywing te doen nie maar is Toyota se nuwe kode vir motors met “groen” enjins onder die enjinkap. Ander mannne praat van blou en groen energie. Maar anders as mededingers in die “groen” veld, het Toyota die eerste praktiese groen voertuie gebou wat werklik omgewingsvriendelik is. Dit verklaar dan ook die hibriede Prius se suksesverkope in Duitsland en Kalifornië met hulle streng wetgewing teen motors wat ongesonde dampe die lugruim instuur.

Die Auris Sport X is ‘n klaargemaakte motor, alles wat daar vandag in ‘n goeie motor verwag word is daar – en in oorvloed. Dit sluit die noodsaaklike veiligheidsapekte in soos ABS-remme en lugsakke (7 van hulle!) en dan ander dinge wat ook met veiligheid te doen het soos afstandbeheerde sentrale sluiting. En die dinge wat die lewe in en met ‘n motor lekke maak, is ook daar: ‘n goeie klankstelsel en elektroniese beheer oor die meeste funksies soos ruite en spieëls en die belangrikste vir ons somerweer wat voorlê soos goeie lugreëling.

Die Auris Sport X word aangedryf deur ‘n 1 598 cc enjin wat 97 kW teen 6 400 rpm ontwikkel en 160 Nm teen 4 400 rpm beskikbaar stel. Laasgenoemde is natuurlik nie goeie nuus vir die luies wat van verrigting hou maar nie wil ratte oorsit nie. En daar is ses van hulle as hy vorentoe ry! Maar wees gerus, die ratkas werk glad en gemaklik en die jonger manne gaan dit geniet om die ratte te laat spring en die stert te laat sak soos hy versnel. (Vir die luies en oues van dae is daar natuurlik die diesel weergawe wat 310 Nm teen slegs 1 800 rpm ontwikkel. Sit hom in sesde en ry al die pad Johannesburg toe sonder om ratte te wissel).

Maar die toetsmodel was die petrol-weergawe. En anders as wat verwag word van ‘n relatief klein enjin met ‘n groot bak, was die verrigting wakker en floreer hy as hy met durf en daad bestuur word. Hy versnel van 0-100 km/h in ‘n rapsie meer as 10 sekondes en laat die snelheidsmeter by ‘n hoogs-onwettige 195 km/h draai. Om tred te hou met die verrigting, is die suspensie sportief genoeg om by die “Sport” logo te pas. Die draaierige Gordonsbaai-Rooiels is nie net motorfietsmanne se plesier nie; mense met Auris’e kan dieselfde genot ervaar – maar net veiliger en met die helfte van die lawaai en ergernis!

Brandstofverbruik op die Sport X is suinig en in ooreenstemming met sy “groen” karakter en kan ‘n algehele en realistiese verbruik van rondom 8 liter per 100 km verwag word as daar nie onnodige stremming op die motor geplaas word nie. (Weereens, die dieselweergawe gaan die Skotte laat glimlag). Maar die geheim vir die suinigheid lê nie net in die ontwerp van die enjin nie, maar ook in die sesgang ratkas wat aan hom lang bene vir die langpad gee.

In hierdie sektor van die motormark is die kompetisie natuurlik kwaai. En die besluit om ‘n nuwe motor te koop is natuurlik ‘n gewigtige een om te neem. Indien prys, verrigting, grootte en onderhoudskoste in berekening gebring word, mag daar ander ersntige mededingers wees. In hierdie opsig sal Toyota se slagspreuk waarop die maatskappy by ons sy spore verdien het, die deurslag gee. U onthou die deuntjie van “alles loop reg”!!!!!! En dan natuurlik ook die feit dat daar op amper elke dorp wat sy naam werd is, daar ‘n handelaar gaan wees.

Die Sport X verkoop teen N$229 900. Maar as die prys effens hoog is, kyk ook na die kleiner 1,4 model teen N$182 200.

Die Auris X-reeks word gedek deur ‘n diensplan van 5 jaar of 90 000 km.

Leave a Comment