Bekendstelling: Lexus IS 350

’n nuwe standaard vir verrigting en elegansie

Lexus het in November hulle nuwe middelslag IS 350 EX en SE modelle in die Suid-Kaap bekendgestel en motorjoernaliste kon na hartelus hierdie luukse motor met sy hoë verrigting deur die Outeniekwa- en Robinsonpasse looi. En sommige van hierdie joernaliste het omtrent gelooi!

Die Lexus is sekerlik die topmotor uit Japan en verteenwoordig die speerpunt van tegnologiese ontwikkeling in die land van die opkomende son. Dit geld vir verrigting, luukse maar praktiese eienskappe wat almal as standaard ingebou is en dan ook die meganiese uitmuntendheid en betroubaarheid wat teruggetrek kan word na die oupa van die Lexus; Toyota.

Motors verkoop in die eerste plek op grond van hulle voorkoms, veral motors in die heel boonste gestoeltes – soos Oom Oubaas van Sewende Laan sou sê. Daarna eers kom dinge soos verrigting met die magiese 0-100 km versnellingstye en die vermoë om teen baie hoë en onwettige snelhede steeds veilig en in beheer te voel. Hierdie eienskappe was tot ‘n dekade of twee gelede die eksklusiewe terrein van die manne uit Beiere en Swabeland. Maar nie meer nie; Lexus het gekom om te bly en die wêreld vir die Europese aristokrate baie, baie warm te maak.

Die IS 350 ding direk mee met die BMW 3, Audi A4 en Mercedes C-reekse en van hulle sal moet begin walgooi teen die gehalte, stilering en eksklusiwiteit wat Lexus een van die topsterre in die luukse segment maak. ‘n Vergelyking tussen hierdie modelle toon dat die Lexus IS 350 ‘n klaargemaakte motor is; indien die “ekstras” wat by die Lexus as standaardtoerusting aangebring is, by die ander vervaardigers se basispryse bygevoeg word, is die Lexus prysgewys loshande die voorloper.

En laat ons maar eerlik wees; selfs die kopers van luukse motors begin ook deesdae pryse vergelyk en koop nie meer suiwer op emosie en tradisie nie; die feit dat oupa vanaf 1960 tot sy dood net ‘n motor met ‘n spesifieke handelsnaam en kleur in die waenhuis gehad het, is finaal verby.

Op die oog af vang die bakvorm van die Lexus die aandag as byderwets en ontwerp deur ‘n toonaangewende Europese vakman; modern maar nie belaglik nie; die ideale balans tussen elegansie en krag word in die Lexus bereik. En anders as in my gereelde artikels gebruik ek hierdie keer ‘n foto wat van die agterkant af afgeneem is, dit is waarskynlik die blik wat die meeste motoriste op die Lexus IS 350 sal hê!

Binne is al die klokkies en knoppies wat die lewe agter die stuur, en ook vir reisgenote, die rit aangenaam gaan maak. Die lys is te lank om op te noem; ‘n paar hiervan is die sitplekke wat op agt maniere elektronies verstel kan word en, op die SE model, in die rekenaar gestoor word.

Voeg daarby sitplek verkoeling en verhitting, ‘n hoogstaande klankstelsel met poorte en toegang tot al die jongste elektroniese klankstelsels en geheues. En dan natuurlike ware handvry kommunikasie met jou selfoon en ander inligtingstelsels.

En dan is daar natuurlik ook die ritrekenaar wat alle moontlike vrae beantwoord waaraan die bestuurder – of sy passasiers – aan kan dink. En natuurlik is die toegang tot die motor sleutelloos en kan die sleutels maar in die broeksak (of handsak) gelos word.

‘n Sewe-duim skerm het die dubbele funksie van GPS-navigasie en ‘n tru-skerm wanneer tru-rat geskakel word. Verder beheer dit ook die klank en lugversorging stelsels. Verder is daar nou drie kleurskemas vir die bekleedsel en kajuit; van lig tot swart met ‘n skakering tussenin en ook die keuse van houtafwerking.

Wat die instrumente betref; die “Subaru Swaai” is nou deel van die Lexus se toerusting. Subaru eienaars is vertroud met die stelsel waar al die instrumente maksimaal omswaai en terugkeer na die russtand wanneer die sleutel gedraai word. Vir die wat nog nie weet nie; Toyota het ‘n tyd gelede al ‘n belangrike aandeel in Subaru verkry.

Die hart van die Lexus is die 3,5 V6 enjin met sy vier nok-asse wat 233 kW teen 6 400 toere ontwikkel en 378 Nm teen 4 800 vrystel. Meer as genoeg wringkrag is natuurlik vanaf amper luierspoed beskikbaar om die Lexus gladweg en sonder protes te laat versnel. Hierdie krag word moeitevry deur die sesgang outomatiese ratkas na die agterwiele oorgedra.

Die bestuurder kan die rathefboom hiervoor gebruik maar daar is ook handige spane op die stuurwiel gemonteer om die ratte te wissel. Hy versnel blitsig van 0-100 km/h in 5,6 sekondes en die naald gaan draai by 230 km/h as die krane oopgedraai word. Dit is dan ook by die versnelslag wat hy vir die belangrikste Duitse mededingers die hake wys.

Die EX kom uit met 17” en die SE met 18” allooi vellings en die luukser model het ook outomatiese reënsensors en die stuurwiel word elektronies verstel – en natuurlik die sitplekke wat warm of koel maak!

Maar hoe maak hierdie edel renperd op die pad? Vra maar vir my vriend Dirk; hy klou soos ‘n neet op ‘n draaierige pad sonder om oor te hang of sy neus te laat sak as daar skielik rem getrap word. Volgens Waaghals Dirk ding die Lexus mee met die bestes op die Europese vasteland.

En ek kan as passasier dit net beaam! Deel van die geheim lê in die aanwending van baie aluminium in die onderstel en stuurstelsel om ongeveerde gewig te bekamp.

Met ‘n blitsperd is veiligheid van groot belang. Hier is die gebruik van 8 lugsakke sinvol asook die mees gevorderde rem en beheerstelsels om die (swak) bestuurder deur die drif te trek as hy meegevoer sou word deur die spoed van die Lexus.

Nou wat betaal ‘n man (of vrou) vir hierdie begeerlikheid? Die IS 350 EX weeg in teen N$499 700 en die meer luukse IS 350 SE teen N$548 600. As die prys effens hoog is, maar die bakvorm lyk na die ware Jakob en die 0-100 km/h nie ‘n faktor is nie, is die IS 250 E teen N$368 900 ‘n goeie plaasvervanger.

Die mooi ding van die Lexus (alle modelle) is die 4-jaar of 100 000 km waarborg wat gepaard gaan met ‘n motorplan waar daar in die geval van die SE modelle alle onderhoud gedek word behalwe bande. Voornemend klante kan by www.lexus.co.za nog meer inligting bekom voordat hy 9of sy) besluit om die tjekboek uit te haal!

Leave a Comment