Kleinboet raak Ouboet
Ons het in 1997 ‘n paar maande in Berlyn gewoon toe Kleinboet-Benz die lig gesien het; die A-Klas van Mercedes het ‘n Sweedse toets gedop en dit het ‘n hele tydjie geduur om oor die skok te kom. Maar soos dit gaan met kinders wat ‘n terugslaggie op skool ervaar, het die ouers vinnig ingegryp om te kyk wat daar met Kleinboet skort – en of die probleme opgelos en vermy kan word. Al kos dit nou ook geld en ekstra voorbereiding om Kleinboet weer op die been te kry.
Wat Mercedes-Benz inderdaad gedoen het. Die A-Klas het probleme met sy (spreekwoordelike) skoene gehad, en so ‘n effense lamte in die bene. Wat die ingenieurs gedoen het, klink baie soos die verhaal met die Toyota Fortuner wat ook fout met sy bande gehad het en so ‘n paar veranderinge aan die suspensie om hom plaaslik weer die koning van die pad te maak. Mercedes het dadelik ander bande gespesifiseer en ‘n drastiese aanpassing gemaak op die elektroniese beheerstelsels op die A-Klas. Die heel jongste tegnologie wat elektroniese glybeheer, gekoppel aan die ABS-remstelsel en ander elektronika wat slegs in véél duurder motors voorkom, het die tandekry-probleme van Kleinboet uitgeskakel. Hierdie dramatiese aanpassings, wat duur tegnologie behels het, het van die A-Klas een van die veiligste motors gemaak, en dit sonder om die prys in gelyke verhouding te laat styg.
‘n Jaar of twee, drie na Berlyn het ek die A-Klas plaaslik getoets; dit nadat skoonsuster Elizabeth reeds een gekoop het en in die wolke was oor die gemak en goeie uitsig wat die klein Mercedes met die hoë voorkoms gebied het. En natuurlik ook die gerief van die outomatiese ratkas. Met sy half-futuristiese ontwerp, het hy oral die aandag getrek, aangehelp deur vars kleurskemas. Maar wat ek kan onthou van daardie eerste toetsrit was dat my gedagtes teruggegaan het na my studentedae en my vyfdehandse Vespa bromponie; die eenvoudige uitleg van die A-Klas se snelheidsmeter was amper ‘n kloon van die 1956 Vespa s’n.
Die nuwe A-Klas, wat ‘n paar jaar gelede die lig gesien het, het egter ‘n metamorfose ondergaan; die nuwe modelle is nou nie meer, soos die Engelse sê, funky nie; hy is nou egte, regte Benz deur en deur. Dit geld vir die binne-afwerking, die nuwe stilering wat meer konserwatief is en wat die indruk skep van sofistikasie. Maar met die behoud van al die elektroniese veiligheidseienskappe en lugsakke en “gordyne” om die passasiers te beskerm. Geen wonder dan ook dat hy die taai Europese EuroNCP botsingstoets met vyf sterre geslaag het nie.
Maar dit is nie net die veiligheidseienskappe wat van belang is nie; die klein geriefies wat motorry lekker is almal daar; van sentrale sluiting tot ‘n uitstekende klankstelsel wat jongmense en oueres wat van harde operamusiek hou, ewe veel in vervoering sal bring. En dit bring my by die moontlike kopers van die A-Klas. Is dit jongmense of ouer mense wat hom gaan koop? My raaiskoot lê by die ouer geslag wat binnekort gaan aftree en begin kyk na ‘n ryding wat waarskynlik hulle laaste motorkoop sal wees. Hiervoor is die A-Klas ‘n uitstekende kandidaat: Die kompakte afmetings en luikrug uitleg maak hom maklik om te parkeer; die outomatiese ratkas (‘n CVT-eenheid waarvan ek baie hou) en goeie sig na alle kante toe maak hom maklike motor om te bestuur. So ook die hoogte van die sitplek van die grond af is net reg; geen lae sitplekke om ouer mense met rugpyne moeilikheid te gee nie!
Maar die A-Klas is ook ‘n motor vir ouer mense met ‘n jong gees; maksimum snelhede wissel tussen 180 en 200 km/h as mens haastig wil raak en nie skrik vir groot boetes nie. En selfs die stadigste model neem minder as 9 sekondes om tot 100 km/h te versnel.
Pryse wissel na gelang van die modelle; doe “intreemodel”, die A180 handrat weeg in teen ‘n bekostigbare N$242 400, die outomatiese model kos N$257 400 en die diesel met outomatiese ratkas (CDI CVT) sal die eienaar N$287 300 uit die sak jaag. Laasgenoemde is my keuse – indien my beursie dik genoeg sou wees.
Die belangrikste faktor om ‘n nuwe A-Klas te koop, behalwe vir die statigheid wat hy aan die eienaar verleen, is waarskynlik die feit dat die A-Klas se prys ook ‘n 6-jaar of 120 000 km diensplan insluit. Hiermee verdwyn die versteekte kostes wat ons almal vrees!