Bekendstelling: Nuwe Fluence [2011]

Renault raak ernstig!

Met die bekendstelling van die nuwe Fluence, was die plaaslike bestuur van Renault baie eerlik om te erken dat alles die afgelope paar jaar in Suid-Afrika nie reg geloop het nie. Hulle is ook baie ernstig om dit reg te stel en om so die negatiewe persepsies wat kopers van die modelle en diens het, om te swaai.

Daarvoor het hulle Renault Confiance laat herlewe en gestroomlyn vir alle nuwe Renault voertuie. Dit behels die “Volledige Gemoedsrus Program” wat op die onderstaande vyf punte gebaseer is: 5 – jaar / 150 000 km waarborg, diens- en onderhoudplanne (standaard of aangepas), 24 uur padbystand en veiligheid, beskikbaarheid van onderdele en (soos vroeër) vasgestelde tariewe vir dienste

Na die sukses wat Renault in 2010 behaal het,veral met die Sandero, word die momentum nou voortgesit met die bekendstelling van ‘n nuwe vyfsitplek gesinsmotor in die mededingende C-segment sedan mark, die Fluence. Renault verwag dat hierdie segment verder sal groei en het laas ‘n 2007 ‘n model in hierdie segment in Suid-Afrika gehad met die Megane Sedan.

Renault sê reguit dat hulle wil die Fluence bemark vir wat die kopers wil hê. Die klem is dus op gerief, gemoedsrus, veiligheid en ekonomie, eerder as werkverrigting. Die 2 liter het egter meer as voldoende verrigting terwyl die 1,6 liter modelle beduidend minder krag het, veral as mens eers die 2 liter bestuur het, maar die krag is voldoende vir normale rytoestande.

Daar is drie modelle om van te kies en twee enjins. Twee modelle word aangedryf deur die 1,6 liter enjin: die intreemodel, die Expression, en ‘n meer luukse model, die Dynamique met  o.a. leersitplekke. Die top model is die Privilége en is slegs met ‘n 2 liter enjin beskikbaar. Met baie ruimte vir die insittendes en in die bagasiebak is dit die doel om saam met die hoë vlak van luukse toerusting as standaardtoerusting, potensiële kliënte ook van motors in hoër segmente te trek.

Renault steun sterk op sy verbintenis met Nissan en beide die enjin en ratkas is in samewerking met Nissan ontwikkel. Die 2 liter enjin is dieselfde wat in die Qashqai gebruik word. Die Fluence word gebou by die Busan-Renault fabriek in Suid-Korea waar die hoogaangeskrewe Koleos ook vervaardig word.

Die binneruim is, volgens Renault, die grootste in sy klas en die kattebak is ‘n enorme 530dm³ – ook groter as dié van sy mededingers.

Insiggewend is dat selfs die intreevlak, Expression, ‘n Carminat TomTom geïntegreerde satelliet navigasiestelsel het. Die groterige skerm van die navigasiestelsel word ook gebruik vir die RadioSat Classic klankstelsel. Die klankstelsel, ‘n CD/radio met MP3 het afstandbeheer op die stuurwiel en 3D “rondom klank”. Alle modelle het elektriese vensters voor en agter asook lugreëling as standaard – met die twee luukser modelle s’n klimaatbeheer.

Die stuurwiel se hoogte en diepte kan by alle modelle gestel word en die Privilége het ‘n leerbedekte stuurwiel. Verder is daar outomatiese hoofligte en ruitveërs met sensors op die Dynamique en Privilége weergawes.

Vir veiligheid is daar dubbel lugsakke voor en aan die kant en gordyn lugsakke – altesaam ses, op alle modelle. Verdere veiligheidskenmerke is ABS en EBD (Eletronic Brake-force Distribution) en EBA (Emergency Brake Assist ) vir die remme op al die modelle. Verder het die Privilége ook ESP (Electronic Stability Control) met ASR (Anti-Slip Regulation).

Ten spyte daarvan dat die Fluence nie as sportief beskou word nie, is die  handtering van die motor puik, en veral die 2 liter Privilége voel stewig en padvas. Die groot wiele met onderskeidelik 205/60/R16 en 205/55/R17 bande dra ook hiertoe by. Die Fluence voldoen in hierdie opsig aan alles wat ‘n mens van ‘n moderne gesinsmotor verwag.

Kraglewering is 81kW @ 6000rpm en 156Nm @ 4400rpm vir die 1600 en 105kW @ 6000rpm en 195Nm @ 4400rpm vir die 2 liter. Renault gee die topspoed van die 1,6 modelle as 185km/h aan en 195km/h vir die 2 liter. Versnelling van 0 – 100km/h word aangegee 11,7 sekondes en 10,5 onderskeidelik.

Al drie modelle het ‘n 60 liter petroltenk wat beteken dat ‘n tenk vol petrol jou meer as 750 kilometer kan neem teen ‘n verbruik van 7,8 l/100km vir die 2 liter model en meer as 900 km met die 1,6 liter model teen 6,5 l/100km. (amptelike syfers) en volgens Renault  beter as die meeste van sy mededingers.

Die Fluence sal direk meeding met die Toyota Corolla, Chevrolet Cruze, Ford Focus, Volkswagen Jetta en Mazda 3.

Met Renault Suid-Afrika se verbintenis en belofte tot goeie diens en ‘n diensplan van 5-jaar/100 000km, is die Fluence ‘n motor om ernstig te oorweeg. Die pryse vir die Fluence 1,6 Expression is N$199 900, die van die 1,6 Dynamique N$229 900 en die 2,0 Privilége sal die koper N$244 900 uit die sak jaag.

Leave a Comment