Bekendstelling: Nissan Micra [2011]

Maar nou eintlik ‘n Macro!

Dit is nou ‘n hele paar jaar al wat die Nissan Micra op die toneel is. Met die bekendstelling van die reeks destyds, het ek gedink dat die bakvorm effens soos dié van die Nuwe Kewer gelyk het. Maar daar was ‘n groot verskil want hy was ook as ‘n vierdeurmodel beskikbaar.

As daar ‘n Nuwe Kewer met vyf deure sou ontstaan, sou dié waarskynlik ‘n nabootsing van die Nissan moes wees. Daar was egter ‘n belangrike verskil; die Nissan Micra was ‘n bekostigbare motor in die tradisie van die oorspronklike Duitse konsep van ‘n bekostigbare “volksmotor”.

Die nuwe Micra is ‘n splinternuwe motor van bo tot onder. Bolangs, wat ‘n mens kan sien, is die stilering op die voorpunt hoewel daar enkele ooreenkomste met die vorige model is, veral by die hoofligte voor. Maar gaan na die agterstewe toe en die meer hoekige ontwerp val ‘n mens op. Dit het natuurlik die voordeel dat daar nou meer kopruimte is en ook meer plek vir bagasie; om presies te wees, 265 liter. Hierdie verbetering is al klaar ‘n groot bate.

Nissan Suid-Afrika gebruik die slagspreuk “in sinkronisasie met die stad/en of omgewing” om die nuwe Micra te beskryf. Ook dat hierdie nuwe model die jongmense as kopers teiken, en ook ouer mense wat in stede bly en hoofsaaklik die plaaslike inkopiesentrums besoek – vandaar dan ook die groter laairuimte agter waar die inkopies onder die rakkie agter weggesteek kan word en ‘n mindere versoeking vir potensiële diewe is!

Hierdie jongmens/stadsmotor mark is egter nie die volle verhaal nie; die Micra kan net so wel vir ‘n vinnige – en goedkoop – rit na Windhoek of Messina ingespan word. En die goedkoop rit is dan ook waar die “sinkronisasie met die omgewing” toepaslik is want sy koolstof spoortjie is klein vanweë die nuwe 1,2 liter, driesilinder enjin wat in die goedkoop-weergawe van die Micra beskikbaar is en hom, na bewering, in staat stel om tot 20 km per liter te behaal.

Dit is nou werklik, in terme van lae verbruik, dieselterrein wat hulle met ‘n petrolenjin aandurf. Maar as die diesel-soort verbruik  nie van soveel belang is nie, en daar na werkverrigting gesoek word, is die wakker 1,5 liter viersilinder enjin net die ware Jakob.

Meer oor die enjins: die 1198 cc 3-silinder ontwikkel 56 kW teen 6 000 rpm en die optimale wringkrag van 104 Nm is beskikbaar teen 4 400 rpm. Dit beteken dat die ratkas en – enjintoere vryelik – gebruik moet word om hom ten volle te geniet. En dit is waarvan jongmense hou!

Die groter 4-silinder petrolenjin ontwikkel 73 kW – ook  teen 6 000 rpm en sy wringkrag word teen nog hoër revolusies as dié van die driesilinder ontwikkel, naamlik 4 800 rpm. Weereens gemik op die jonger garde. Die turbo-dieselweergawe wat 1 498 cc verplaas is waarskynlik die ouer groep wat wringkrag eerste stel; die diesel ontwikkel ‘n skrale 47 kW maar stel ‘n kragtige 160 Nm vry teen so laag as 2 000 rpm!

Jy sit hom in vyfde rat en verander nooit weer ratte al die pad deur die Karoo nie! Hierdie model is nie vir stadsgebruik nie, die langpad is waar hy tuishoort. Die gemiddelde verbruik van die Micra reeks word dan ook as volg aangegee vir die Micra modelle: die 1,2 se verbruik is volgens Nissan 5,2 liter / 100 km; die 1,5 liter is 6,2 en die diesel s’n 4,7 liter / 100 km. Die CO2 vrystelling van die 1,2 liter is slegs 124 g/km en die diesel s’n 125 g/km. Dus omgewingsvriendelik by uitstek.

Die Micra is tydens ‘n aandbyeenkoms in Kaapstad en die skiereiland bekend gestel; die eerste keer wat dit op so ‘n manier aangebied was. Dit het die fokus op die uitstekende ligte van die Micra geplaas en ook die aandag gevestig op wat binne in die kajuit aangaan. Weens die goeie plasing van die instrumente was dit maklik om gou gewoond te raak aan die uitleg en was daar nie ‘n gesukkel om uit te vind wat is waar nie.

Vir motorjoernaliste is dit belangrik omdat in die geval van sommige motors eers ‘n studie gemaak moet word van wat sit waar. En hoe duurder die motors, hoe moeiliker raak die voorafstudie! Met die enkele verdwaalslag, en omdraaislag in die donker, het die Micra se klein draaisirkel weereens die stadsmotor ontwerp beklemtoon; hy draai op die spreekwoordelike tiekie.

Die groter ruimte binne die kajuit het ook die effense beknopte gevoel van die vorige model weggeneem.

Die toerusting op die Micra is volledig met ABS remme en lugsakke op al die modelle; hoe meer luuks, hoe meer lugsakke en op die topreeks, ook sygordyne. Slegs op die basiese modelle ontbreek ‘n klankstelsel maar dié is ook beskikbaar teen N$2 000 meer. Op die topmodelle is alles wat kan oop- en toemaak daar, en harder en sagter wat vanaf die stuurwiel beheer kan word.

Die nuwe Micra verhewig die stryd op intreevlak en is die moeite werd om eers toetsbestuur te word voordat ‘n keuse gemaak word. Wat aanloklik is, is die 3 jaar/ 100 000 km waarborg. ‘n Diensplan is opsioneel. Maar die groot faktor is die pryse; die 1,2 Visia verkoop teen N$108 400, die Visa + teen N$119 500 en die Accenta teen N$127 500. Die 1,5 liter diesel verkoop teen N$140 400 (my keuse) en die petrolmodel met alle toebehore as standaarduitrusting teen N$143 400.

Hou die Micra se verkoopsyfers vorentoe maar dop!

Leave a Comment