Honda Jazz – en ander mooi musiek ook!
Met die bekendstelling van die nuutse Jazz het van ons ouer joernaliste die glorie van Honda se eerste toetrede tot die Suider-Afrikaanse mark weer herleef. Dit was vroeg in die sestigerjare toe ek nog op skool was en my eerste besoek aan die renbaan in Oos-Londen gebring het.
Wat ek onthou van die byeenkoms was die klein Alfa Giullieta van Ernie Pieterse; die motortjie het so ‘n breë laat-my-vinnig-lyk streep van voor tot agter gehad en het die bynaam “Streepmuis” gehad. Die ander ding was die rooi 250 cc Honda van Jim Redman van die destydse Rhodesië wat die toere so hoog laat draai het dat niemand naby hom kon kom nie en die toeskouers nie uitgepraat kon raak oor die nuwe, onbekende klank van ‘n enjin wat oor die 10 000 rpm gedraai het nie!
In 1962 het CAR magazine sy lesers ingelig oor Honda se toetrede tot Formule 1 wedrenne maar die storie het half by my verby gegaan totdat ek in 1967 ‘n klein Honda Sportmotor in Blantyre sien. Het die Malawiërs toe al iets van ‘n goeie ding geweet waarvan ons nog onbewus was? Dit was eers hier vroeg in die tagtigerjare wat Honda, onder die vlerk van Mercedes-Benz, met die Ballade sy merk hier op die motormark kom maak het. Die res is geskiedenis; vanaf die intrapslag was kwaliteit dié eienskap wat met hierdie Japannese vervaardiger vereenselwig word.
Die Jazz, in Japan “Fit” genoem, het in 2001 die lig gesien en vinnig wêreldwyd entoesiastiese kopers gevind. Nou is die derde-geslag Jazz met ons en het hy nou nog beter geword. Dit is nie net die vloeiende lyne wat die oog vang nie maar ook die verbeterde suspensie danksy ‘n langer asafstand en veiligheidsfaktore soos sy ses lugsakke wat dwarsdeur die reeks standaardtoerusting is. Ja, hy is nie net mooier nie, hy is beter ook en ruimer ook met meer beenspasie en pakruimte en is in ‘n reeks nuwe kleure beskikbaar. Die kattebak het ook gegroei en het plek vir ‘n baie skaflike 363 liter vloeibare bagasie wat groei tot 881 liter met die agterste sitplekke platgeslaan.
Onder die enjinkap is daar nou te kies uit twee enjins en twee ratkaste. Die “intreemodel”, die Trend is beskikbaar met ‘n 1,2 liter (nie-turbo) enjin wat 66 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 110 Nm wringkrag teen ‘n effens hoë 4 800 rpm beskikbaar stel. Dit is nogal tipies Honda en dit beteken dat die vyfgangratkas vryelik ingespan moet word as daar hard gery gaan word. Dit stel die knapie in staat om van 0-100 km/h te versnel en die naald by 175 km/h te laat draai. Desondanks beweer Honda dat ‘n suinige verbruik van 5,6 l/100km binne sy vermoë is. Die 1,2 Comfort modelle is met beide handrat en palwissel-outomatiese ratkaste beskikbaar en is verrigting net effens minder. Die wielnisse word mooi gevul met 15” wiele en is die Comfort modelle toegerus met allooivellings; ‘n Standaardgrootte spaarwiel is ook ‘n bonus!
Die 1,5 liter weergawes ontwikkel aansienlik meer krag; 88 kW teen 6 600 rpm en daar word 145 Nm teen 4 600 rpm beskikbaar gestel; dit wil sê ‘n beter kragkurwe vir alledaagse gebruik. Ook hier is twee weergawes; die Elegance en die vlagskip Dynamic wat oor die outomatiese ratkas beskik. By al die variante in hierdie reeks is die versnelling tot 100 km/h rondom 10 sekondes en kan ‘n verbruik van ongeveer 6 l/100km verwag word; die topsnelheid is 180 km/h en hierdie reeks is met 16” wiele toegerus.
Maar hoe ry hy? Op draaierige teerpaaie en agterpaaie klou hy soos ‘n neet danksy die beproefde McPherson mikstutte voor en wringstawe agter. Die kragstuur is elektries ondersteun en gee die ideale terugvoer om te weet wat op die pad aangaan. En as ‘n draai net te vinnig geneem word, is al die elektroniese hulpmiddels daar om te help as die bestuurder nie meer raad het nie.
Wat nog? Behalwe vir die intreemodel, word al die ander gedek deur ‘n 4 jaar of 60 000 km diensplan en geld ‘n 3 jaar of 100 000 algemene fabriekswaarborg. Diensintervalle is elke 15 000 km.
Die blywende indruk? Kwaliteit en deeglikheid – soos ‘n mens van Honda verwag. Enige nadeel? Die nuwe Jazz is eers in Februarie by die handelaars beskikbaar. En die handelaarsnetwerk is ongelukkig nie so wyd versprei soos wat ons dit sou wou hê nie!