Opel se Adam en ………… Martin Luther
Met die naam “Adam” vir die verassende en vars nuwe Opel wat van Januarie 2015 plaaslik op die mark gaan verskyn dink ‘n mens onwillekeurig aan die bekende braaivleisliedjie “Adam en Eva en die Appeltjie” – of iets dergeliks. Maar waar kom Martin Luther in die prentjie?
Die Adam word in die Oos-Duitse stadjie Eisenach gebou, klipgooi van die Wartburg kasteel waar Luther homelf in self-ballingskap bevind het en die Bybel uit Latyn in Duits vertaal het. Dit is ook hier waar die Wartburg motors agter die Ystergordyn vervaardig was en suksesvol na Engeland (en ook Suid-Afrika) uitgevoer was.
Ná die val van die Muur het Opel die gewese Wartburg aanleg gekoop en begin om die gewilde Corsa daar te bou. En nou word die Adam in dieselfde fabriek gebou!
Die Adam is ‘n motor wat hier by ons beslis gewild gaan wees; hy is hipermodern in sy ontwerp, lyk prettig, beskik oor ‘n wakker klein turbo-enjin wat omgewingsvriendelik is en wat so Duits is soos Martin Luther self. Dit is juis die voortreflike Duitse ingenieursvernuf wat van hierdie klein tweedeur, pretmotor ‘n wenner maak nog voordat hy in die vertoonlokale gaan verskyn. Kyk maar na die foto by hierdie artikel om self ‘n oordeel te fel. Maar nog beter as die foto, wederhelf se kommentaar oor die voorkoms aan my studente-dogter was: “Jy gaan mal wees oor hierdie karretjie”. Dit spreek boekdele!
Die Adam is in drie weergawes van luuksheid beskikbaar; die standaard Adam, die Adam JAM en die Adam GLAM weergawes. Boonop is daar twee enjin-weergawes, die standaard-model gebruik die beproefde viersilinder 1,4 ECOTEC-enjin wat 74 kW ontwikkel en 130 Nm wringkrag beskikbaar stel en die krag via ‘n vyfgangratkas na die voorwiele oordra. Volgens Opel stel dit die Adam in staat om van 0-100 km binne 11,5 sekondes te versnel en die naald by 185 km/h te laat draai. ‘n Gemiddelde verbruik van 5,3 l/100 km kan verwag word.
Die tweede kragbron, wat in die die duurder modelle gebruik word, is die 1.0 liter ecoFLEX driesilinder turbo-enjin wat 85 kW ontwikkel en 170 Nm wringkrag vrystel. Hierdie eenheid is gekoppel aan ‘n sesgang handratkas wat vryelik gebruik moet word om aan die Adam ‘n ware sportiewe karakter te verleen. Dit stel hom in staat om van 0-100 km/h in minder as 10 sekondes te versnel en die naald te laat draai by 196 km/h. Knap gedaan vir so ‘n klein enjintjie.
Behalwe die drie variante is daar talle ekstras waarmee die Adam bestel kan word; onder andere die baie praktiese navigasiestelsel wat via ‘n slimfoon gekoppel word om op die 7” skerm gevolg kan word, die sogenaamde BringGo-stelsel. En natuurlik is al die musiek- en vermaaklikheidskoppelings daar wat vir die jonger garde van soveel belang is. Die Adam is in elk geval ‘n motor wat baie aftrek gaan kry by die jong, “opkomende” geslag, veral by professionele en “in” dames. Maar Opel beklemtoon natuurlik ook die feit dat hulle ook reken op die adamsgeslag om hulle nuwe motor te koop. Bygesê, moet ook nie die ouer geslag as kopers uitskakel nie! Daar is vandag talle wat al afgetree het en uit die beroepslewe getree het en in hulle jong en familiedae groter Opels gery het en net goeie herinneringe oor die handelsnaam het. Miskien moet daar vir hulle smake ook voorsiening gemaak word. Dit is juis hulle wat die stadsbestuurmodus van die Adam sal waardeer waarin die kragstuur-effek versterk word. Net so handig is die blindekol waarskuwing wat aangaan as ‘n motor in jou blindekol inbeweeg; dit is ewe handig vir jong bestuurders as vir die oues!
Ewe prakties op die JAM en GLAM modelle is die outomatiese parkeerfunksie; iets wat ervaar moet word om te waardeer. Die motor parkeer homself letterlik in die kleinste moontlike gaping tussen twee motors en die stuurwiel draai outomaties! Vir talle bestuurders bly parallel parkering een van die groot probleme in besige strate waar parkeerplek skraps is. ‘n Demonstrasie van hierdie gerief sal talle voonemende kopers dadelik oorreed om die Adam aan te skaf!
Hoe maak hy op die pad? Die toetsroete het die kuspad tussen Rooi-Els en Gordonsbaai ingesluit en om die draaie klou hy soos ‘n neet. Die suspensie is ‘n goeie kombinasie van ‘n ferm suspensie wat nie stamperig is nie. En krag om verby te steek met die 1 liter turbo enjin is geen probleem nie. Rat net af en sit voet in die hoek.
Wat kos hierdie vermaaklike nuwigheid met die mansnaam? Die pryse is nog nie gefinaliseer nie maar gaan wissel tussen N$200 000 en N$250 000. Daarmee saam kom ook ‘n 5-jaar of 120 000 fabriekswaarborg en diensplan van 3 jaar of 60 000 km.
Hou die vertoonvenster dop!