Bakkie vir sport en plesier
Met die onlangse bekenstelling van SsangYong se dubbeldoelvoertuig, die Korando, is daar in ‘n vorige artikel melding gemaak van SsangYong se nuwe en byna rewolusionêre benadering ten opsigte van die ontwerp van sy nuutste produkte.
Hierdie tendens is dan ook duidelik te sien in die ontwerp van die nuwe Korando in vergelyking met die vorige model. Dit was vir SsangYong duidelik dat so ‘n vernuwende ontwerpstyl noodsaaklik was in die lig van die strawwe kompetisie in hierdie marksegment. Hiervoor is SsangYong dank verskuldig aan die bekende Italiaanse ontwerpingenieur, Giorgetto Giugiaro, wie se vaardighede in hierdie verband al deur verskeie motorvervaardigers aangewend is, onder andere deur BMW en Maserati.
Met die bekendstelling van SsangYong se nuwe Actyon Sports dubbelkajuit-bakkie is hierdie tendens tot ‘n meer sportiewe en alternatiewe voorkoms beslis ook gevolg en die resultaat is ‘n sportbakkie in die ware sin van wat die woord “sportbakkie” eintlik behoort te behels. Die nuwe Actyon Sports gaan beslis die koppe laat draai en met sy verskyning is die grense in hierdie segment beslis verskuif. Waar SsangYong in die verlede miskien aan die agterspeen gesuig het wat die bakkiemark betref, gaan sy mededingers beslis van die Actyon Sports kennis neem want hierdie bakkie bied vir sowel die buitelugmens as die boer en sakeman wat hy na soek in ‘n sportbakkie.
Dit is opvallend dat so baie handelsvoertuie, (en laat ons maar sê, bakkies), met enkele kleiner afwykings hier en daar, baie dieselfde voorkoms en stillering het wanneer hulle van buite af bekyk word. En ja, almal is prakties en funksioneel, maar beslis nie veel om opgewonde te raak in terme van voorkoms nie. Soms word die idee verkry dat die ontwerpers se uitgangspunt is dat, solank wat ookal op die bak gelaai kan word en vervoer word, die koper tevrede sal wees, so hoekom aandag gee aan die voorkoms? By SsangYong se Sport is dit beslis nie die geval nie en is dit beslis ‘n uiters verblydende en verfrissende benadering.
Hierdie kopskuif het beslis te doen met die 70% oorname van Ssangyong deur die Indiese motorvervaardiger, Mahindra, in Maart 2011. Dit is geen geheim dat SsangYong produkte voor hierdie oorname vasgevang was in ‘n bemarkingslugleegte en dat gehalte nie altyd die toets van die tyd deurstaan het nie. Maar gaan hierdie scenario verander? Mahindra se bemarkingsarm is daarvan oortuig omdat beide vervaardigers oor baie kennis en ervaring in die handelsvoertuigmark asook vervaardiging beskik.
Suid-Afrika sal dan ook vir Mahindra die eerste land buite Indië wees waar SsangYong se produkte bemark sal word. Daar word deur Mahindra gekyk na positiewe verkoopsyfers vir die eerste jaar met beplande groei oor die volgende vyf wat haalbaar kan wees mits die vertroue van die Suid-Afrikaanse mark gewen kan word. Die verwagting is dat twee nuwe opgegradeerde modelle in die volgende 12 maande bekendgestel kan word. Tyd sal egter leer.
SsangYong se ontwerpers van die nuwe Sports Actyon het beslis besluit op ‘n groter en beter voorkoms as sy voorganger – nie dat dit te moeilik kon wees nie! Die skerp lyne van die vooraansig, die aggressiewe voorkoms van die sierrooster en buffer asook die “arendsoog” voorkoms van die hoofligte gee aan die Sport ‘n ruwe maar tog sterk sportiewe voorkoms. Die sterk aerodinamiese lyne van die enjin- en kajuitgedeelte word egter ietwat versteur deur die skerp vertikale lyn net agter die dubbelkajuit – maar aan die einde van die dag vergoed die ekstra laaikapasiteit daarvoor sodat die 2 m2 laaioppervlak, die 2 300 kg sleepkapasiteit tesame met die meer as gewillige 2.0 liter turbo-dieselenjin perfek bydra tot die dubbeldoelligheid van die Actyon Sport bakkie. Kraglewering is ‘n uiters bruikkbare 104kW teen 4 000rpm en 310 Nm teen 2 400 rpm. Topsnelheid is 160 km/h terwyl die Actyon Sport seker van die mees ekonomiese brandstofverbruik van minder as 8liter/100km in sy klas moet hê.
Die toetsmodel was die 4×4 wat deur middel van elektroniese beheer in 2H, 4H of 4L modus aandrywing gery kan word, afhangende van die terrein. Die reeks word aangevul deur ‘n 4×2 wat, soos die 4×4, ‘n vyfgang handratverwisseling het asook ‘n 4×2 model met ‘n outomatiese sesgangratkas. Die puik onderstel sorg vir maksimum rygenot, hetsy op teer- of grondoppervlak terwyl wind- en oppervlakgeruis byna heeltemal uitgeskakel word om sodoente te sorg dat die puik klankstelsel optimaal geniet kan word.
Die binneruim van die SsangYong Sports bied soveel luukse kenmerke dat dit te enige tyd goed vergelyk met dié van ‘n luukse passasiersmotor. Lugreëling, kragverstelbare buitespieëls, voubare agtersitplekke, elektriese vensters, verstelbare stuurwiel en bestuursitplek, radio/CD speler met vier luidsprekers, sleutel- en veiligheidswaarskuwing, klankkontroles op die stuurwiel, getinte ruite en misligte is standaard kenmerke van die Actyon Sports. Daarby is daar aansluitingspunte vir Bluetooth, MP3-speler, USB en 2x12volt krag.
Veiligheidskenmerke sluit in ABS ondersteunde skyfremme regrondom, elektroniese remverspreiding (EBD), versterkte bakwerk met krummelsones voor en agter, lugsakke voor en veiligheidsluiting vir kinders.
Die prys? N$269 995 – wat ‘n 3-jaar / 60 000 km onderhoudsplan insluit.