Bekendstelling: Suzuki Swift Sport [2012]

Warm, maar mooi

Met hierdie slagspreuk hot but smart het Suzuki so pas sy opgegradeerde Swift Sport bekend gestel en mik hulle daarna om ongeveer 150 eenhede per maand te verkoop.

Van wat gesien en ervaar is van hierdie verbeterde uitgawe van die Swift Sport is daar geen twyfel dat Suzuki hierdie verkoopsyfer maklik gaan behaal nie. Die Swift is nie net kosmeties opgegradeer nie, maar lewer nou ook aansienlik meer krag en ‘n aansienlike verbetering wat brandstofverbruik betref as die vorige uitgawe van hierdie gewilde handelsmerk.

Die Suzuki Swift was een van twee modelle wat aan die spits was toe Suzuki Auto Suid-Afrika in Junie 2008 bekend gestel is. Die jongste generasie van Suzuki se bekroonde wêreldmotor het tydens 2011 in Suid-Afrika en Namibië aangekom, en nou word die reeks verder uitgebrei met die toevoeging van die vlagskip-Swift Sport 1600.

Die Suzuki Swift is ‘n luikrug met ‘n oortuigende sportiewe karakter, wat van sy mededingers onderskei word deur puik rit- en hanteringseienskappe. Die Swift Sport is ‘n verlengstuk van hierdie inherente karaktereienskappe, en danksy die groter enjin, sowel as die nou-verhouding-sesgang handratkas wat deel is van die pakket, lewer dié motor opwindende hantering met lewendige verrigting.

Met die nuwe bakontwerp was die doel van meet af aan om ‘n motor te skep met nog beter bestuureienskappe en verrigting as die vorige Swift Sport. Die nuwe Swift se stilering kan as aggressief en verfyn beskryf word, ‘n mengsel van eienskappe wat byval by ‘n groot aantal bestuurders sal vind. Die algehele gevoel van die motor is een van gespierde stabiliteit, wat dit laat voel asof die Swift as’t ware aan die pad vasklou.

Van voor af word die sportiewe bedoelinge duidelik gedefinieër deur groot hulse vir die misligte en met unieke vinne wat ‘n beeld van krag (of aggressie?) oordra. Die groot sierrooster bied die leidraad vir ‘n enjin met aansienlike verrigting, en die hoë-intensiteit-voorligte (HID) se stilering is skerp, met grys bedekkings. Die algehele ontwerp van die voorkant dra beide krag en uitsonderlikheid oor.

Kantskorte help om die Sport se lae voorkoms te bevorder, en help ook om die lugvloei onder die bakwerk egalig te stuur. Multispeek-allooiwiele van sestien duim, geskoei met rubber van 195/50R16, komplementeer die voertuig se stylvolle uiterlike verder.  Dubbele uitlate en ‘n metaalgrys lugverspreier gee die voertuig ‘n sterk agteraansig, wat verder ondersteun word deur die treffende lugskort.

Wat die binneruim betref is daar, soos by die vorige model, ‘n sportiewe kontras tussen die silwerkleurige instrumente en swart. Die nuwe Swift Sport bied egter nou nog meer, danksy ‘n fyn chroom-lyn vir die instrumentepaneel, en aanloklike rooi stiksel op die stuurwiel, sitplekke en rathefboom-hulsel.

Die sportgevoel van die kajuit word verder verhoog deur vlekvryestaal-pedale, sowel as ‘n eksklusiewe, chronograaf-styl instrumentepaneel. Die metaalringe rondom die instrumente is dikker as dié in die vorige Swift, en daar’s ook ‘n metaalring wat die veeldoelvertoonpaneel omsirkel. Die resultaat is ‘n groep van vyf ringe wat ‘n sprankelende gevoel bied, terwyl die agtergrond en nommers op die insturmente self beide duidelik leesbaar, sowel as verfynd voorkom.

Die voorsitplekke is gegrond op die gerieflike sitplekke van die vorige Swift, maar is toegerus met ekstra kantsteun op die sitplekrame. Die sportiewe sportsitplekke word gekomplementeer deur eksklusiewe bekleedsel, met die woord Sport ingeborduur.

Die enjin en ratkas wat die hart van die sportiewe nuwe vlagskip vorm, verteenwoordig ‘n balans tussen die behoefte vir meer krag sowel as verbeterde omgewingsvriendelikheid. Die Swift Sport se viersilinder-petrolenjin van 1,586cc ontwikkel nou 100 kW, en staan intern as die M16A bekend. Dit is 8 kW, oftewel 9%, meer krag as in die vorige Swift Sport, en 30 kW meer as die 1.4 literenjin van die nuwe Swift.

Wringkrag is ook verbeter van 148Nm in die vorige Swift Sport, na 160Nm in die jongste weergawe, ‘n verbetering van 8%. Maksimum kraglewering gebeur by 6 900 rpm terwyl die top wringkraglewering nou by 4 400 rpm geskied. Dit is 400 rpm laer as in die vorige weergawe, wat sorg vir minder ratwisselings en laer brandstofverbruik in gewone rytoestande.

Die kombinasie van die verbeterde M16A-enjin, sesgang ratkas en laer voertuigmassa lewer ‘n 13% verbetering in brandstofverbruik, vergeleke met die vorige model. Nuwe Swift Sport lewer 6.5l /100 km in die gekombineerde toets, teenoor die 7.5 l/100 km van sy voorganger.

Die koopprys van N$213 900 sluit metaalvlokverf in, asook Suzuki se Complete-pakket – ‘n volle spektrum van naverkopediens. Dit bestaan uit ‘n driejaar/100 000 km-waarborg met sesjaar-teenroesdekking, ‘n vierjaar/60 000 km-diensplan en ‘n AA-ondersteuningsplan wat ‘n insleepdiens, hulpbystand, 24-uur patrollies, batterye en brandstof dienste, sowel as nooddienste insluit.

Leave a Comment