Meer gemak met die nuwe CVT ratkas
Die nuwe Toyota Verso-reeks het nou ‘n nuweling wat van ry nou lekker-ry maak. Hierdie lekker-ry is te danke aan die nuwe palwisselratkas wat nou in die reeks beskikbaar is. Maar wat is hierdie palwisselratkas? Die CVT, of op Engels, continuously variable transmission, is in wese ‘n outomatiese kas waar die enjinspoed konstant bly op die punt waar hy die meeste wringkrag vrystel en beste verrigting teen die laagste brandstofverbruik lewer.
Toyota se outomatiese CTV is natuurlik nie die eerste van sy soort in die land nie; hier rondom 1960 is die Nederlandse DAF motortjie hier bemark en het hy van rubberbande gebruik gemaak wat oor twee katrolle gehardloop het en heen en weer beweeg het na gelang van die kragte wat op hom uitgeoefen was. Uiteraard was hierdie bande en katrolle blootgestel aan stof en modder en was die leeftyd van die komponente beperk. Maar wat interessant van die DAF was, was die feit dat hy ewe vinnig agtertoe as vorentoe kon beweeg en het die Hollanders in trurat op Nederlandse renbane teen mekaar meegeding!
Toyota noem hulle stelsel die Multidrive S en is toegerus is met ’n nuwe laespoed sluit-koppelaar wat ’n gewigsbesparing van ongeveer 30 kg teenoor ’n tradisionele outomatiese ratkas beteken. Dit beteken ook dat die nuwe ratkas beter versnelling bied as vorige generasie CVT- en ander outomatiese ratkaste.
Die CVT-ratkas, soos nou beskikbaar in die Verso 1,8 SX-model, verteenwoordig die nuutste innovasies in die ontwikkeling van CVT-ratkaste aangesien hierdie ratkas nie net enjinkrag en bestuursinsette in ag neem nie, maar ook die las wat ter enige tyd op die enjin geplaas word en die bestuursomstandighede – ten einde deurentyd splitsekonde aanpassings te maak om die mees optimale ratverhouding te bied. Verder is daar ‘n klein wringomsetter en ratskakelbestuurstelsels vir op- en afdraandes. Laasgenoemde sorg vir gladder afskakeling wanneer die voertuig teen ’n opdraande beweeg en beter enjin-remming en ratverhoudings teen afdraandes.
Die CVT-ratkas bied egter ook die moontlikheid om self ratte met die ratkierie in die Manual modus te wissel, óf of met die klein spane wat aan die stuurwiel aangebring is. Beter verrigting kan ook verkry word deur die ratkas in die Sport-modus te plaas en vinniger versnelling en sterker enjinremming teen afdraandes te verseker.
Daar is ook ander veranderinge aangebring deur onder andere donkerglas agter en langs die kant te gebruik; hiermee word skelm oë gepypkan en laat dit minder hitte deur in die somer. ‘n Nuttige ekstratjie is die nuwe hooflig-skoonmaakstelsel! En verder is daar nuwe aantreklike allooivellings wat op die SX en TX modelle beskikbaar is.
Binne is ’n klank- en bykomstighede-sok wat bestuurders en passasiers die kans gee om enige musiekspeler aan die klankstelsel te koppel; iPods kan boonop deur die radio beheer word.
In vergelyking met die vorige Verso, is die nuwe een 70 mm langer 20 mm wyer.Dit het Toyota in staat gestel om sy Toyota Easy Flat-7 stelsel in die voertuig in te bou. Met hierdie stelsel is daar so veel as 32 verskillende maniere waarop die drie rye sitplekke gewissel kan word!
Die Toyota Easy Flat-7 stelsel bied ’n vragruimte wat geheel en al plat is wanneer die tweede en derde ry sitplekke platgeslaan is. Die pakruimte, met al die sitplekke opgeslaan, is ook aansienlik groter as in die vorige model en is een van die beste in hierdie segment.
Die nuwe Verso is beskikbaar met die keuse van twee petrol en een diesel enjin.Die nuwe-generasie 1.6 liter Valvematic-enjin leweer 97 kW teen 6 400 rpm en maksimum wringkrag van 160 Nm word teen 4 400 rpm vrygestel. Met ‘n sesgang-handratkas kan hy so min as 6,8 liter brandstof per 100 km gebruik.
Die 1,8 liter Valvematic-enjin lewer 108 kW teen 6 400 rpm en maksimum wringkrag van 180 Nm teen 4 000 rpm. Hierdie enjin is ook gekoppel aan die liggewig sesgang-handratkas die nuwe-generasie CVT-ratkas. Brandstofverbruik op hierdie enjin is slegs 7 liter per 100 km; op die CVT-weergawe styg dit slegs tot 7,1 liter/100 km.
Die 2,0 liter turbodiesel-enjin is ook die nuutste weergawe van sy soort met piezo-spuitstukke. Hierdie enjin lewer maksimum krag van 93 kW teen 3 600 rpm en maksimum wringkrag van 310 Nm is in ’n wye band tussen 1 800 rpm en 2 400 rpm beskikbaar. Brandstofverbruik vir hierdie enjin is 5,5 liter / 100 km.
Besonder nuttig op al die modelle, behalwe die intree S-model, is opdraand-wegtrekhulp (die ou bekende hill-holder) wat deur die rempedaal aktiveer word en wat verhoed dat die voertuig terugrol wanneer die bestuurder teen ’n steilte wegtrek.
En hoe voel hy op die teerpad en grondpad met sinkplaat en slaggate? Puik!
Die nuwe Toyota Verso-reeks is reeds by Toyota handelaars regoor die land beskikbaar. Alle modelle (vyf van hulle) word verkoop met ’n 5 jaar / 90 000 ToyotaCare diensplan en ‘n 3 jaar / 100 000 km waarborg. Pryse begin by N$244,400 vir die Verso 1.6 S; die Verso 1.8 SX CVT verkoop vir N$283,500 en die topmodel is die Verso 2.0D TX wat die eienaar N$311,700 uit die sak gaan jaag! My persoonlike keuse? Die CVT-een!