Welkom aan almal, by die splinternuwe Suzuki Jimny en ‘n ellelange waglys. Waarom is die splinternuwe Jimny so popular? Wel, ons het die Jimny vir ‘n maand lank getoets, spesifiek om hierdie punt te bewys.
Vele sien die nuwe Jimny as die produk van ‘n passievolle aand tussen ‘n Defender en ‘n G-Wagon. So kom ons spreek dit sommer gou hier aan. Die heel eerste Suzuki LJ is in 1970 bekend gestel, ietwat vroeër as die bogenoemde modelle.

Uiteraard bevat die nuwe Jimny ook kenmerke vanaf vorige generasies, met die voorste kopligte (nou LED dagligte), wat kenmerkend is vanaf die eerste LJ en SJ modelle. Die voorste verkoelingsgate kom ook reguit vanaf die onlangse derde generasie, met die agterligte wat kenmerkend is vanaf die eerste generasie (om meer spasie aan die binneruim van die nuwe vierdie generasie toe te laat).

Ons het reeds die Jimny deur die 4×4 passe van die beeldskone Nelspruit geplaas (https://www.namwheels.com/launch-report-2018-suzuki-jimny/), maar nou was die top prys om te kyk of ons ‘n volle maand daarmee sou kon uithou as ‘n alledaagse voertuig.
Ons eerste naweek met die voertuig is gespandeer op die harde grondpaaie van Riebeeck Wes en hoewel dit nie nodig was om die Jimny oor te sit in 4×4 of kruiprat nie (wat nou in die GLX en GA modelle voorkom), het ons wel baie gate en sinkplaatpaaie gery.

Die kort wielaste is nie na almal se smaak nie, maar die nuwe Jimny is alreeds ‘n groot verbetering op die derde generasie. Plaas ietwat dikker bande op om die grondpaaie aan te durf en die Jimny sal heel gemaklik voel.
Natuurlik dra die algehele baklengte (nou 3.6 meter), breedte (nou 1.6 meter) en algehele hoogte (1.7m) ook by tot die beter skok-absorbering van die voertuig. Hoewel die Jimny ‘n leer-raam inhet en dalk vir sommige ongewens sou wees op die oop pad, het Suzuki nou die aste tot reg op die punte van die voertuig geskuif. Hierdie dra nie net by tot gemak en hantering op die langpad nie, maar ook uiterste 4×4 vermoëns. Die nuwe Jimny het ‘n intreegraad van 37-grade, uitgangsgraad van 49-grade, sowel as ‘n middelvlakgraad van 27 grade.

Gepaard met ‘n grondhoogtevlak van 210 mm en ‘n draaisirkel van 4.9 meter, sal hierdie Jimny enige ander 4×4 les laat opsê. Elk van hierdie vorige punte sowel as ‘n kombinasie van ‘n algehele lae gewig (1095kg), 75kW (teen 6000 opm), 130Nm (teen 4000 opm), sowel as nuwe tegnologie soos “Hill descent & Hill Ascent” beheer, maak hierdie Jimny moeiteloos op enige ongemaklike grondoppervlakte.

‘n Eerste opmerking vanaf vele vorige Jimny eienaars is natuurlik die padhouvermoë, wat nou baie meer stabiel is. Daar is egter nog probleme om die Jimny in ‘n reguit lyn te hou in sterk winde, sodra die voertuig 80km/h of vinniger ry.
Dit is egter ter verstane met só ‘n bak ontwerp en lae gewig.
Wat egter verrassend is en ‘n sterk kontras met hantering in die wind, is die lae brandstofverbruik. Die derde generasie het gebruik gemaak van ‘n 1.3 liter petrol motor, waar die nuwe Jimny aangedryf word deur ‘n 1.5 liter petrol enjin. Met effe meer krag en minder gewig, het die brandstofverbruik geweldig verminder. Ons algehele brandstof verbruik was 7.2 liter / 100km, wat veel beter is as die vorige model.

Binne word die GLX model toegerus met ‘n netjiese rubber afwerking, sowel as ‘n versteekte bagasieplek. Die binneruim is goed afgerond met harde plastiek, sowel as ‘n maklike informasiestelsel / streelpaneel, wat ook sonder probleme aan enige selfoon (Apple Carplay / Android Auto) of USB gekoppel kan word. Die sewe-duim streelpaneel is eenvoudig en maklik om te hanteer.
Die materiaalsitplekke is ook baie gemaklik, en hoewel die stuurwiel net vir hoogte verstel kan word (geen lengte verstelling), is dit heel goed geplaas. Die hoë enjinkap gee ook die illusie dat die bestuurder in ‘n veel hoër voertuig sit.

Veiligheid is ook aangepas met ‘n ABS / EBD remstelsel en twee lugsakke vir die voorste insittendes.
Spasie is die grootste binneruimverskil tussen die derde en vierde generasies met die voorste passasiers wat nou verder vanaf mekaar sit en nie noodwendig die ander se been hoef te vryf as daar van ratte verwissel word nie.

Die voorste ry het ook 30mm meer beenspasie, met die agterste ry wat nou 40mm meer het. Howel ons vier volwasse persone in die voertuig gehad het van tyd tot tyd, sal dit nie gewens word om die langpad aan te durf met vier volgroeide persone nie.
Vir twee persone en ‘n bagasieruimte van net meer as 1000 liter (met die agterste banke afgeslaan), is die Jimny perfek om enige naweek, enige (letterlik) grondpad aan te pak en in die digte bos te gaan kamp.

Die nuwe Jimny is opreg die perfekte voertuig vir enige avontuurlustige persone (solank die avontuurlustiges nie ‘n familie van vier behels nie).
Dit was met ‘n uiterste swaar hart dat ons die Jimny moes terugbesorg aan Suzuki. In ‘n maand se tyd het dit werklik deel van ons alledaagse roetine geword. ‘n Gemaklike voertuig om in die beknopte stad te gebruik, enige knap parkeerspasie in te neem, sowel as om aan die einde van ‘n week na die stiltes te ontsnap.

Die Jimny is as’t ware ‘n “Jack of all trades”.
Die nuwe Jimny kan aangekoop word in die volgende spesifikasies:
- 1.5 GA Handrat (twee-jaar of 60,000km diensplan) R 264 900
- 1.5 GLX Handrat R 299 900
- 1.5 GLX Outomaties R 319 900
Die GLX modelle kan aangekoop word met ‘n vyf-jaar/200 000km waarborg, sowel as ‘n vier-jaar / 60,000km diensplan.

contents are masterpiece.
I enjoy this website got some usefull stuff on it