Padtoets: 2011 Chevrolet Captiva

Meer as net voorkoms wat verander

Die Chevrolet naam is besig om weer goed gevestig te raak in Suid-Afrika en die wêreld en het bygedra om GM weer eie grootste vervaardiger in die wêreld vir die eerste ses maande van 2011 te maak.

Die Koreaanse tak van die maatskappy lewer nou ‘n reeks voertuie na meeste mense se behoefte met die Spark, Aveo, Cruze en die Captiva en die splinternuwe Orlando.

Daar is seker heelwat verskillende redes hoekom mense sogenaamde SNV’s (sportnutsvoertuie) koop. Van die redes is die spasie en dat jy lekker hoog sit  met goeie sig op die pad, ens. Maar vir my is die meer logiese motivering om af te wyk van die hoofroetes om die mooi dele van die land te sien wat jy nie kans sien om met jou met ‘n gewone sedan te ry nie. Almal kan nie die swaar en duur 4×4 modelle bekostig nie en het dit ook nie nodig nie. Dus is daar deesdae heelwat van die sogenaamde “sagte”  SNV’s waarvan  meeste ook ‘n 4×4 weergawe te kry is.  So ‘n voertuig is die Chevrolet Captiva.

Die Chevrolet Captiva is nou al ‘n paar jaar op die SA mark en het redelik goed gevaar. En met rede: ‘n ruim SNV teen ‘n bekostigbare prys en met handelaars regoor die land wat kan bystaan wanneer dit nodig is. Onlangs het die Captiva ‘n vernuwing ondergaan wat nie net die voorkoms insluit nie. Die voorkant het nou ‘n nuwe meer prominente sierrooster wat in twee verdeel is met strook wat dieselfde kleur is as die res van die kar met die goue Chevrolet  “strikdas” daarop. Ook die hoofligte is herontwerp en ook die voorruit.

Binne skep die nuwe sitplek materiaal en afwerking ’n meer luukse atmosfeer. Ergonomika en gemak is verbeter met kontroles vir die verskuif van die voorste sitplekke wat nou meer in bereik van die bestuurder is. Alle modelle het  nou ‘n ses-CD en radio kombinasie met agt luidsprekers, MP3 versoenbaarheid, Bluetooth en ‘n Aux-sok.

Met sy groot binne afmetings en baie plek vir bagasie en genoeg beenruimte, is die Captiva ideaal vir langafstand vakansies. Daar is nog twee sitplekke agter wat plat in die vloer toegevou word en gee die Captiva sitplek vir sewe mense. Dan word die area vir bagasie egter verminder na slegs 103 liter. Met alle sitplekke toegevou kan die spasie tot 1 577 liter vergroot word.

Daar is vier modelle om te kies. Drie met die nuwe sterker 2,4 liter petrol enjin en ook ‘n nuwe 3 liter V6 in plaas van die ou 3.2liter.  Die krag van die 2,4 liter enjin is op van 100 kW tot 123kW met wringkrag wat van 220Nm tot 230Nm opgestoot is.

Daar is op die oomblik geen diesel weergawe beskikbaar nie, maar daar is sprake dat daar teen Januarie 2012 een op die Suid-Afrikaanse mark sal wees. Dit sal waarskynlik ‘n 2,2 liter diesel wees.

Volgens GM kan die Captiva se brandstofverbruik so min soos 8,8 l/100km wees, maar die gemiddelde in alle toestande is nader aan die 12 l/100km. Maksimum snelheid is 186 km/h en die versnelling van 0 to 100 km/h is 10,3 sekendes. Die brandstoftenk kan 65 liter petrol neem.

Op die pad is die Captiva gemaklik en stil. Die 2,4 liter enjin is miskien nie gemaak vir asemrowende werkverrigting nie, maar vir die doel van die voertuig doen dit sy werk goed. Die handrat model versnel van 0 tot 100km/h in ‘n skaflike 10,3 sekondes en bereik ‘n spoed van meer as 185km/h. Maar dit is op ‘n grondpad wat hierdie voertuig  baie goed vaar. Met die bande ‘n effe laer druk  het die Captiva werklik goeie padgedrag geopenbaar. Ek het net met die 2,4 handrat gery met die deeltydse 4×4 modus.  Die Capiva was padvas op losserige oppervlaktes en het knikke in pad maklik hanteer. Die 4×4 aandrywing kom in werking wanneer die voorwiele nie meer goed vastrap nie. Dan maak dit gebruik van “Intelligent Torque Controlling Coupling” om krag na die agterwiele te bring. Dit help natuurlik baie met die stabiliteit op los grondpaaie.

Die Captiva is verder toegerus met ‘n aantal moderne veiligheids kenmerke om  beter hantering te verskaf. Dit sluit Chevrolet se Elektroniese Stabilitietsprogram in wat gekoppel is aan die nuutste ABS remstelsel. Daar is ook ‘n aantal addisionele stelsel in gebou wat HBA (Hydraulic Brake assist) HDC (Hill Descent Control)  en ARP (Active Rollover Protection) insluit. Daar is ook heelwat werk gedoen aan die veerstelsel en die styfheid van die bak om geraas te verminder en stabiliteit te verbeter.

Pryse vir die Captiva is as volg: N$299 900 vir die 2,4 LT 2×4 handrat en N$314 700 vir die outomatiese weergawe. Die viertrek 2,4 LT sal jou N$341 200 uit die sak jaag en die 3,0 LTZ 4×4 outomaties, N$434 900.

Alle Captiva’s word verkoop met ‘n standaard  5 jaar of 120 000km waarborg en diensplan van 3 jaar of 60 000km. Die diensintervalle is elke 15 000km.

Leave a Comment