Toyota se nuwe familiemotor
Toyota sal sekerlik die vergelyking verskoon as mens sou sê dat die eerste kennismaking met die veeldoelige Innova (MPV) jou laat dink aan die seuntjie wat op sy eerste dag skool toe gaan in ‘n broek, baadjie en skoene wat ooglopend te groot vir hom is.
En miskien nog erger – die “hand downs” van ‘n ouer boetie is! Maar tog weet jy dis funksioneel en met die loop van tyd word dit ‘n deernisvolle deel van die groter prentjie.
En ja, by die Innova het die ouer boetie beslis ‘n rol gespeel want hierdie puik en bekostigbare familievoertuig is gebou op dieselfde platform as die die bekende en betroubare Hilux en Fortuner modelle van Toyota. Daarby is daar geen onnodige tegniese of kosmetiese fieterjasies nie en is die Innova eenvoudig toegerus met die lang bewese VVTi 2.7 liter viersilinder petrolenjin met genoegsame kraglewering van 118 kW en 241 Nm wringkrag.
Met sy agterwielaandrywing deur middel van ‘n ietwat stram vyfgangratkas is die Innova dus ‘n tipiese familiemotor maar geskoei op die betroubare fondament van die Hilux. Die onderstel van die Innova is daarom ook ietwat aangepas vir sy rol as familiemotor maar is nog steeds ferm genoeg om met vertroue bestuur te kan word.
So, moenie dat enige van bogenoemde enigiemand afskrik nie. Die Innova is ‘n yslike verrassing in menige opsigte en bied dieselfde gehalte en betroubaarheid as sy ouer boeties.
Die Innova bied daarby beslis ook iets vir die oog. ‘n Wye skouerlyn vloei vanaf die hoofligte oor die kante en sluit aan by die opvallend groot groep agterligte. Syspieëls in dieselfde kleur as die bak huisves ook aanwysers vir die flikkerligte. Die interieur is ook nie afgeskeep nie. Die instrumentepaneel is in silwer detail met turkoois beligting en die houtkleurige insetsels op die paneel sowel as die basis van die kontroles op die deurpaneel verleen ‘n luukse atmosfeer aan die Innova.
Ten spyte van die feit dat die Innova eerder bedoel is as ‘n funksionele voertuig en nie ‘n swierige een nie het Toyota tog gesorg vir die basiese toerusting en nog veel meer. Dit sluit in ABS-remme, twee lugsakke, balkversterking aan die kante, afstandbeheerde sluitmeganisme, hoogteverstelling van die bestuurder se sitplek, voorste misligte, outomatiese temperatuurbeheer, ‘n veër en ontmister vir die agterruit, ‘n ses-luidspreker radio en CD-speler met ‘n USB-inproppunt, Bluetooth fasiliteit en buitespieëls en ruite wat outomaties beheer word. Voeg hierby nog ‘n aanboord togrekenaar en dis genoeg om enige koper in hierdie marksegment tweemaal te laat dink.
Twee modell van die Innova is beskikbaar. Die agtsitplekmodel se sitplekbekleedse is in dubbelkleurige material afgewerk en bied ‘n 2:3:3-sitplek kombinasie met ‘n tweede ry wat ook verstelbaar is en vorentoe afslaan om maklike toegang tot die agterste sitplekke te verleen. Die meer luukse sewesitplekmodel bied leerbekleedsel en leerinsetsels op die stuurwiel sowel as die rathefboom, allooi wiele en‘n trukamera vir veilige parkering. Die middelste twee sitplekke by die sewesitter bestaan uit twee individuele stoele.
Die ekstra luukse bykomstighede by laasgenoemde model word dan ook weerspieël in die prys van hierdie model naamlik N$265 500 teenoor die N$249 700 vir die minder luukse agtsitplekmodel.
In beide modelle is daar genoegsaam voorsiening gemaak vir ruimte vir voorste sowel as vir passasiers in die middelste ry. Soos die geval met die meeste motors in hierdie segment is die derde ry sitplekke egter meestal geskik kinders of passasiers van kleiner omvang.
Die Innova is toergerus met ‘n 65 liter brandstoftenk en ‘n brandstofverbruik van ongeveer 11,2 liter/100 km wat jou teoreties gesproke ‘n afstandreikte van 580 km in die gekombineerde siklus behoort te gee. Natuurlik sal hierdie syfers meer ekonomies op die langpad wees. Grondhoogte van die Innova is 168 mm en die draaisirkel sleg 5,7 meter met ‘n 750 kg sleepkapasiteit.
Die Innova kom met ‘n waarborg van 3 jaar/100 000 km, ‘n diensplan van 5 jaar/90 000 km en die diensintervalle is elke 15 000 km. Voornemende kopers het ‘n keuse van sewe kleure om van te kies as hulle op hierdie geld-vir-waarde voertuig sou besluit.
Om op te som. Miskien nie die mees uitsonderlike familiemotor in terme van voorkoms en miskien nie die mees opwindendste voertuig om te bestuur nie, maar die Innova betree die mark met bewese tegnologie, die regte hoeveelheid ruimte vir die familie, die regte handelsmerk en die regte prys.