Die wag werd?
Nissan het sowat agt jaar geneem om die nuwe Navara bakkie uit te bring, maar daar is belowe dat dit ‘n nuwe bakkie in die meer luukse bakkie segment sal wees. Kompeterend met die Volkswagen Amarok en soortgelyke opsies, word die geklasifiseer as ‘n werks-, maar ook familie vriendelike voertuig. Was die wag vir die nuwe Navara egter die moeite werd?
Hoewel die nuwe Navara al ‘n tyd lank op die mark is, het daar ook nuwe nuus ontwikkel met die koms van die nuwe Mercedes Benz X-klas bakkie. Na raming die duurste bakkie nóg, sal dit heel moontlik die mees eksklusiewe en luuksste bakkie op die mark wees. Van meer belang, egter is die feit dat die X-klas gebou sal word op dieselfde tipe onderstel as dié van die Navara en met goeie rede.
Een van die grootste veranderinge om die bakkie meer gemaklik te maak is natuurlik die verandering na ‘n spoel agtersuspensie, wat ry gemak baie verbeter (veral sonder enige gewig op die laaibak). Hoewel die suspensie goed en gemaklik is, voel die Navara egter steeds soos ‘n bakkie. Dit is egter ter verstane met so ‘n groot voertuig, wat nie maklik in stedelike verkeer pas nie nie.
Die 2.3 turbodiesel (140kW en 450Nm) het ook ‘n goeie resultaat van 10.91 sekondes gelewer. Soos altyd, maak hierdie syfers nie veel sin met dié tipe voertuig nie en moet daar eerder gekyk word na die wringkrag, wat met hierdie enjin redelik sterk is! ‘n Sewe spoed outomatiese ratkas is ook glad met krag lewering, wat onmiddelik is en ‘n goeie brandstofverbruik (onder 7.6 liter per 100km) lewer.
Met só baie wringkrag is hierdie Navara in staat om tot een ton se gewig te dra terwyl dit ook 750kg (nie-gerem) kan sleep met geremde sleepwaens van tot 3.5 ton. Dis dan ook hier waar die Navara uitblink.
Om nog meer in die luukse bakkie klas te val, het die LE model waarme ons gery het; LED dagligte, ‘n leer bekleedte multi funksionele stuurwiel, spoed beheer, CD / Radio / auxiliary/ USB en ‘n relatiewe groot streelpaneel met 3D navigasie en Bluetooth.
Die LE kom ook met sleutellose beheer, outomatiese ligte, ventilasie vir die agterste passasiers, 18-duim allooiwiele, dakrak arms, start/stop aktivering, dubbele klimaat beheer, trurat parkering sensors, heuwel ‘hulp’ en afdraandse (heuwel) hulp.
Nog ‘n goeie en indrukwekkende byvoegsel is die elektriese glyvenster, tussen die tweede ry sitplekke en laaibak.
In terme van veiligheid kom die Navara ook met ABS, EBD, traksie beheer en volle kajuit lugsakke (voor, knieë, sykant en agter). Hierdie is ‘n kwessie wat sekere vervaardigers steeds ‘n agterstand gee.
Ná ons toetsrit met die Navara LE is dit verstaanbaar dat die nuwe X-klas op hierdie platform geloods sal word. Nie net is die Navara ‘n luukse voorlooper in die bakkie segment nie, maar is dit ook goed in staat om ‘n veelvoudige werksvoertuig te wees met 4-wiel verrigting en selfs ‘n kruiprat.
Hoewel ons genoem het dat hierdie bakkie ‘n swaarstuur voertuig is, is di e en van die mees gemaklike bakkies op die huidige mark. Die enjin is stil, met padlawaai wat minimaal is en revolusies wat onder die 3 000 opm merk bly teen 120km/h (te danke aan die 7-spoed outomatiese ratkas).
Hoewel die LE outomatiese weergawe, teen R584 900, sowat R19 000 duurder is as die handrat weergawe (R565 900), is dit steeds ‘n goeie koop. Veral as die 6-jaar / 150 000km waarborg en 3-jaar / 90 000km diensplan ingereken word.
Vir beide die langpad, stad en meer uitdagende plaaspaaie, mag die Nissan Navara dalk net een van jou beste opsies wees. Dit is beslis een van die aantreklikste op die huidige mark! Die nuwe Navara is ‘n geweldige stap vorentoe op die reeds suksesvolle vorige model en is ‘n goeie mededinger in die luukse bakkie segment.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media