Padtoets: 2020 Jaguar i-Pace

Skuif opsy, jou “auto Boomer”

Die voertuig of “auto” industrie word tans van twee kante aangevat. Aan die een kant is daar die nie-voertuig liefhebbers, wat glo dat elke voertuig dieselfde is en dat daar nie regtig enige genot uit die aankoop van ‘n nuwe voertuig geput kan word nie. Aan die ander kant van die spektrum, kry ons (vir die eenvoudige redes sal ons na hulle verwys as…) “voertuig Boomers”. Hierdie is wel voertuig liefhebbers, maar dié, wat glo dat die auto industrie se toekoms vervelig lyk. Binnekort sal die nie-voertuig liefhebbers en die huidige “boomers” dus transformeer in een (vervelige en voorspelbare) homogene massa.



Nota: Hierdie is gewoontlik diegene, wat eerder na die die grootte van ‘n LCD paneel in ‘n voertuig, die mate van swart geverfde wieldoppe en die “cuteness” van die hoofligte kyk, eerder as na die Globale NCAP (veiligheids) erkenning. Wees op die uitkyk vir hierdie bestuurders op die pad en hou jou afstand. Ons is mos nou al goed in geoefen na 2020.

Terselfdetyd het ons by NamWheels in die afgelope tyd geweldige negatiewe kommentaar raakgelees vanaf doem profete, wat die koms van die “elektriese of hibriede” voertuig sien as die einde van die wêreld. Natuurlik kan hierdie doem profete gewoonlik herken word aan hul ouderdom of geografiese ligging. Ouer persone in ontwikkelende lande is dus aan die voorpunt van hierdie lys.

Die rede hiervoor is simplisties. Met ‘n sukkelende voertuig infrastruktuur, meer afstand tussen klein dorpies / stede sowel as nuwe tegnologie, wat nog in die fetus-fase van ontwikkeling is, lyk die vooruitsig en opinies geweldig anders as dié van reeds ontwikkelde lande.

Hier is stede veel groter en is daar veel meer tegnologies gevorderde infrastruktuur. Kom ons vergelyk Europa en Brittanje (ja… die twee is nie meer een nie), met Suider Afrika. Hoewel huidige vinnige laaipunte sowat 150 – 200km uit mekaar gespasieer is, is hierdie afstand veel korter in eers genoemde lande en kan ‘n vinnige laaipunt rondom elke hoek en draai gevind word. Dus is “afstandsangs” veel meer van ‘n hoë bloeddruk katalisator in ontwikkelinde lande.

Laat ons eerlik wees. Elektriese voertuie gaan nie noodwendig klimaat verandering, wel, verander nie. Dit dien egter as ‘n alternatief om die oorsaak te help. En nes die selfoon in die 1980/90’s ingekom het as alternatief tot die telefoon; of die tv in die 50 / 60’s ingekom het as alternatief tot die koerant, is dit nie hier om totaal oor te nie. Terselfdetyd sal daar ook hier en daar ‘n paar kinkels in die kabel wees, nes selfone op ‘n stadium spontaan ontplof het (mag ons net hier noem dat hierdie selfs nog tot op hede met sommige petrol voertuie gebeur).

Ok, so dinge verander, maar wat gaan word van die “opwinding”?

Natuurlik is die klank van ‘n groot oorverdowende binnebrand enjin, of die reuk van verbrande petrol vir sommige verslawend. Ek moet bieg dat die bywoning van ‘n motorport gebeurtenis of die klank van ‘n V10 formule 1 enjin, my laat glimlag soos ‘n verliefde tiener. Waarom dink jy dan sal ‘n CD met die klankgrepe van ‘n Dakar geboude Toyota Hilux V8 meer van ‘n treffer wees as enige nuwe Kurt Darren vrystelling?

Die elektriese voertuig bied egter ‘n ander vorm van opwinding. Een, wat meer gefokus is op die bestuurder en insittendes, eerder as die toeskouers.

Ons kan bieg hiertoe, siende dat ons vir ‘n week lank ‘n splinternuwe Jaguar I-Pace gehad het om hierdie steekproef analise te doen. Daar is ‘n goeie rede, waarom hierdie die Suid-Afrikaanse voertuig van die jaar is.

Eerder as om net ‘n glimlag soos ‘n stoute tiener te kry, sal insittendes (nie voertuig-entoesiaste asook Boomers) ‘n oomblik van stilte (of eerder skok) ervaar, voordat die bekende tiener glimlag op elkeen se gesigte verskyn. Met die Jaguar I-Pace, kon ons as die toetsbestuurders ons passasiere se gesigsuitdrukkings voorspel.  

Die rede hiervoor is omdat elektriese voertuie, onmiddelike krag verskaf. Dus, inplaas daarvan dat jou voertuig die maksimum versnellings krag behaal teen 1 500 opm (of ‘n skreuende 6 000 opm as jy ‘n CVT ry), behaal ‘jou’ elektriese voertuig hierdie kapasiteit vanaf stillstand.

Met die I-Pace is hierdie 294kW en 696Nm, waar ‘n 0-100km/h afgehandel word in 4.6 sekondes (gaan kyk gerus na ons Galimoto Media YouTube video). Neem in ag dat hierdie voertuig 2.2 ton weeg. Waar die skok inkom, is dat hierdie versnelling onmiddelik, sonder enige klank of skreuende bande is. Nes die gly van jou vingers om ‘n selfoon oproep te beeïndig, die satisfaksie daaruit neem om die foon in iemand se ore neer te slaan, neem, vat die Jaguar I-Pace ook die satisfaksie daaruit om met skreuende bande vanaf iemand te versnel.  

Terselfdertyd, hoewel die I-Pace soos ‘n SUV mag lyk, kan dit met mening om draaie geslinger word, sonder dat dit sal omval. Die rede hiervoor: Die gewig van die batterye tussen die twee wiel aste, sowel as geen enjin gewig, dra by tot beter en laer gewig, nader aan die grond. Gekombineerd met ‘n direkte en gemaklike stuur, verseker hierdie meer self versekering vir die bestuurder.

Nog iets om aan gewoont te raak is die ‘regeneratiewe’ rem aksie. Dog het ek so vining hieraan gewoond geraak, dat ek met die oorspring na ‘n ‘normale’ voertuig na die I-Pace toets, amper in voertuie voor my vas gery het. Laat ek verduidelik…

Om energie te bespaar en die battery sover as moontlik vol te hou, hoef die bestuurder slegs hul voet van die brandstof (uhm… Volt) koppelaar te haal en die kinetiese energies al die voertuig stelselmatig tot stillstand bring. Die rem hoef egter net teen ‘n hoë spoed of skielike rem aksie gebruik word. Vele elektriese voertuig eienaars sien dus ‘n maksimum leeftyd van hul remme.

Bygesê het die I-Pace ‘n rustige atmosfeer. Dit is geweldig stile n ek het dit geniet om soggens met oop ruite teen 80km/h nog die voëls en boslewe te hoor naby my woning. Op die oop pad is die kajuit net so stil en het insittendes (behalwe die bestuurder) maklik ingehaal op slapelose nagte. Plaas jou voet op die “volt” pedaal teen 120km/h en dieselfde skielike versnellings aksie sal gevoel word. Hierdie is die absolute pole van die I-Pace, wat dit naby aan perfeksie bring.  

Beenspasie in die tweede ry is meer as voldoende, met 890mm se beenspasie. Die kattebak verskaf ook ‘n massiewe 656 liter se laaispasie en kan vermeerder tot 1453 liter met die tweede ry opgeslaan.

In terme van battery kapasiteit sal die 90kWh battery volgens Jaguar ‘n afstand van 470km kan aflê. Ons moet bieg dat ons hierdie syfer nader aan die 300km kapasiteit gekry het. By die huis vanaf ‘n normale kragprop, sal dit ook ongeveer 26 ure neem om die I-Pace vol te laai. Doen hierdie egter by ‘n vining laaibare stasie end it sal veel vinniger neem.

Ons het ons toets eenheid na Jaguar N1 stad geneem in die Tygerberg area, waar die I-Pace vanaf kwart tenk na net meer as drie-kwart gelaai is in ‘n skrale 70 minute. Kliënte kan ook ‘n vining laaibare pakket van 7.4kWh by hul wonings installeer, wat die I-Pace van leeg na vol in 12 ure behoort te laai.

Te danke aan lug suspensie, kan die I-Pace ook grondpaaie en modderbaddens aanpak (Moenie bang wees nie; die battery is geisoleer vanaf enige vogtigheid).

Ter slotte is die Ipace dus ‘n bitter belangrike voertuig. Die elektriese revolusie mag dalk rof, met klomp kritiek begin het, maar nes die Nokia 3310 ‘n verbetering van die baksteen mobiele telefoon was en ‘n opening tot die toekoms was, net so is die Jaguar I-Pace. Dit mag miskien nie perfek wees nie. Veral in ‘n ontwikkelinde land mag ‘n prys van R1.6 miljoen dalk moeilik bereikbaar wees. Net so mag dit dalk nie volledig ons afstandsangs vrees blus nie, maar vir ‘n ontwikkelende land, is die I-Pace eintlik die perfekte voertuig.

Die bekendstelling hiervan in Suider-Afrika is dus nie om die publiek in ‘n koue sweet te skok nie, maar eerder ‘n visioen van die nabye toekoms te gee. Huidiglik sal die gebruik van elektriese voertuie in Suider Afrikaanse stede nog as veilig gesien word, met meer laai stasies, wat stelselmatig langs hoof roetes en in kleiner dorpe opgerig word. Vir nou sal ‘n langer ekskursie dus noukerig beplan moet word, maar nie meer vir lank nie.

Hierna sien ons geweldig uit…

Leave a Comment