Mahindra se “Batman” voertuig
Net voor 2022 het Mahindra ‘n reuse swaai gemaak om meer luukse voertuie te vervaardig; ’n goeie skuif, siende dat die XUV reeks sedertien reuse sukses behaal het. Nie net het hierdie XUV700 die Indiese voertuig van die jaar geword nie, maar het verkope in Suider-Afrika ook sterk geklim.

Soos ons ook in ons XUV 3XO artikel verwys het, is Mahindra nou ’n konstante top-10 verkoper in Suider Afrika. Hierdie is as gevolg van Mahindra se sterk klem op betroubaarheid, sowel as bekostigbaarheid.
’n Prominente mark, saam met “bakkies”, is die groter 7-sitplek SNV mark, waar diegene soos die Toyota Fortuner, Ford Everest, Isuzu MU-X, en die Mitsubishi Pajero Sport, sterk voorlopers is.

Ongelukkig begin die pryse van hierdie 7-sitplek voertuie rondom die R650 000 merk, en eindig nou al Noord van ’n miljoen Rand. Sulke pryse bring verbruikers effe tot op hul knieë.
Gelukkig bied Mahindra se XUV700 reeks ’n alternatief. In 2023 het ons reeds die 2.0L AX7L getoets; ’n voertuig wat ons heel verras het. Nou, in 2025, het Mahindra ’n nuwe vlagskip model onder die XUV700 vaandel geheg, genaamd die “Black Edition”.

Soos die naam verwys, is hierdie XUV700 model totaal bedek in ’n swart kleurskema. Behalwe vir die LED ligte, is die hele voertuig van kop tot tone (of dalk tot wiele) in swart beklee.
Nes met die vorige XUV700 AX7L vlagskip model, kry die Black Edition ook ‘n 2L (turbo 4 silinder) enjin, wat 149kW en 380Nm verrig deur middel van ‘n 6-spoed outomatiese ratkas.

Soortgelyk kry die Black Edition ook funksies soos blinde kol monitors, ‘n 360 grade kamera, ’n Sony klanksisteem, 7 lugsakke, draadlose foon laaibaarheid, en aanpasbare spoedbeheer.
Ongelukkig, nes die vorige vlagskip model, bly die stop/start funksionaliteit steeds onveranderd, wat neig om problematies te wees. Ons verkies om die sisteem te deaktiveer tydens elke rit, siende dat die sisteem die enjin afskakel en “vergeet” om dit weer aan die lewe te bring, wat redelik frustrerend kan wees.

Vir R27 901 meer as die normale XUV700 AX7L, kom die Black Edition dus net met ’n swart bekleedsel. Die voertuig is letterlik van kop-tot-tone (oftewel dak-tot-wiele) in swart beklee. Hierdie sluit die 18” allooi wiele en die (normaalweg wit) leer bekleedsel in.
Dog bly Mahindra se XUV700 AX7 reeks vir ons ’n goeie en meer bekostigbare alternatief in die 7-sitplek SNV mark. Die normale XUV700 AX7 kan teen slegs R551 399 gekoop word, terwyl die AX7L model vir net onder R600 000 gekoop kan word.

Die Black Edition kan aangekoop word teen R627 900, elk met ‘n 5-jaar / 150 000km waarborg en ‘n 5-jaar / 100 000km diensplan.
Dog sien ons steeds die AX7L as die model wat die prys neem vir beste waarde vir geld. Met al die funksionaliteit van die duurder “Black Edition”, en heelwat meer bekostigbaar as ander 7-sitplek alternatiewe in die mark, bied Mahindra se XUV700 AX7 reeks uitstekende waarde vir geld.
