Padtoets: Chevrolet Cruze 1.4 T Luikrug

General Motors se vars aanslag

General Motors het op ‘n vroeë stadium al Chevrolet/Opel luikrugmodelle op ons mark aangebied. Vriend Frans, die veelsydige arts en motorkenner wat moeilik ‘n winskoop kan laat verbygaan, het onlangs ‘n Opel luikrug uit die tagtigerjare gekoop – om later natuurlik weer te verkoop.

Sy motivering vir die koop? “Hy loop so sag soos ‘n muis met slippers”. Dit sê alles wat daar oor ‘n Chev/Opel te sê is. Hy het ook geweet dat hy nie enigiets op die nuwe/ou ryding hoef te spandeer nie.

Hierdie saggies loop van Chevrolets kom al ‘n baie lang pad in ons land; as kind reeds was ek beïndruk deur hoe sag ‘n Chev geloop het teenoor die raserige V8 Fords van die tyd. Of hierdie reël nog geld is ek onseker want die groot Australiese Chevs met hulle grooooot enjins is in ‘n klas van hulle eie.

Dit is nou al ‘n hele klompie jae gelede wat ons die bekendstelling van die eerste Cruze “wêreldmotor” in Natal bygewoon het. Die Cruze het my toe laat dink aan die groter Opels wat nie meer by ons beskikbaar was nie, ook GM se latere Cadillac wat eintlik maar net ‘n SAAB was met ‘n baie spoggerige logo op die rooster. Uit laasgenoemde model se handelsnaam kan daar afgelei word dat dit om kwaliteit handel. Die nuwe luikrug Cruze gee dieselfde gevoel.

Die stilering van hierdie Cruze is uit die boonste rakke en General Motors beweer dat daar ‘n poging was om die legendariese Chevrolet Malibu, wat by ons baie skaars was, effens na te boots. Die poging was uiters suksesvol en ons glo dat die Cruze op hierdie stadium seker die treffendste ontwerp in die luikrug kategorie is.

Die goeie ontwerp word aan die binnekant voortgesit in ‘n smaakvolle styl. Verder is daar die sogenaamde Chevrolet “MyLink Infotainment” aan boord, ‘n vermaaklikheidstelsel wat aan elke moontlike elektroniese stelsel verbind kan word en waar bevele mondelings deur jou selfoon gegee kan word om sekere aksies te laat plaasvind. Op die lang pad kan die passasier al hierdie nuwighede op die proef stel en word die lang pad net soveel korter.

Ons toetsmodel was die 1.4 turbo-model wat aan ‘n sesgang handratkas gekoppel is. Die kraglewering van die enjin is interessant in dié opsig dat volgens General Motors die maksimum kilowatt nie teen ‘n spesifieke toeretal bereik word nie, bv. 5 300 opm of so nie maar wel tussen 4 900 – 6 000 opm.

Of was dit ‘n drukfout?

As dit korrek is, is dit eerlikwaar die eerste keer wat ons so ‘n plat kragkurwe teëgekom het. Die wringkragkurwe is natuurlik altyd plat en is wringkrag beskikbaar tussen ‘n gemaklike 1 850 tot  4 900 rpm. Daar hoef dus selde ratte verwissel te word in gewone padgebruik.

Die voordeel van ‘n kleinerige turbo-eenheid is dat brandstofverbruik ook goed is – sonder om krag in te boet. Die vervaardiger gee dan ook ‘n gemiddelde verbruik van net minder as 6 liter/100km vir algemene rytoestande in die stad en oop pad.

Die luikrug is ook vinnig en versnel van 0-100 km/h in 9,3 sekondes en laat die naald draai by 195 km/h. In alle opsigte is hierdie klein turbo-weergawe die groter 1.6 liter se tier; laasgenoemde se versnellingstyd is 12.8 sekondes en sy naald draai maar by 185 km/h.

Die stuur en vering is op die standaard van die Duitse modelle in die algemeen; om in Duitsland kompeterend te wees, moet jy met die ander manne kan saampraat. Die rit is ferm sonder om stamperig te wees.

Al die standaard elektroniese en ander veiligheidstelsels is aan boord, van lugsakke, sysakke en luggordyne tot die ABS en elektroniese hulpstelsels en voorspan-veiligheidsgordels. Opel het immers al in die 1930s bots- en roltoetse met hulle destydse Olympia en Rekord-modelle uitgevoer!

Opel het sy “oppe” en sy “affe” oor die dekades gehad maar het steeds met nuwe gedagtes en konsepte gekom; die Cruze is een van die wenresepte vir ‘n wêreldfamiliemotor wat in enige motormarksegment inpas. Sonder ophef, sonder probleme en met al die moderne gerief waaraan ons gewoond geraak het. En hy het die mooiste luikrug in die land, volgens ons oordeel!

Die koper van die Cruze kry saam met die motor ‘n diensplan wat oor 3 jaar strek of 60 000 km en ‘n waarborg van 5 jaar of 120 000 km vir sy kapitale uitleg van N$265 200. Of as jy van die bakvorm hou maar minder wil betaal, is die 1.6 liter beskikbaar teen N$248 300.

GM / Chevrolet Cruze prentjies

Press shots

Leave a Comment