Padtoets: Chrysler 300C CRD

Amerikaanse Boere Aristokrasie

Alles verander, elke dag. Oor dekades heen word die verandering soms dramaties en amper onherkenbaar, dit woel en werskaf en niks bly dieselfde nie. Wat wel behoue gebly het is simbole en handelsmerke waarmee ‘n mens groot geword het en goed vertroud geraak het.

Dit is hier waar ons ouer lesers ‘n voordeel het oor die jonges wat te jonk is om van die legendes van destyds te weet.

Was dit nie vir jongmanne soos Valiant Swart en Dana Snyman nie; het die begripe Valiant en sy moedermaatskappy, Chrysler, so stilweg uit die geheue verdwyn. Dit is hierdie manne wat nog jeug-herinneringe aan die Chrysler Valiant van die sestigs en sewentigs het. Maar daar moet nog talle ander wees wat op die ruim agterbanke van die Valiants grootgeword het want op hulle dae het hierdie Amerikaner kort agter die Volkswagen Kewer gelê as die topverkoper in die land.

Ná die oliekrisis van 1973 het hierdie ruimteskepe geleidelik hulle populariteit verloor onder die boere, predikante en onderwysers begin verloor en met talle tweedehandse Valiants op die mark, het die eerste swart entrepreneurs die relatief goedkoop Valiant as die ideale taxi ontdek. Die res is geskiedenis; die Toyota HiAce het op sy beurt die mark oorgeneem en het die swart taxibedryf bygedra tot ‘n suider-Afrikaanse ekonomiese mirakel.

Destyds het ten minste één boer, Soon Grobler in Wes-Transvaal, wat altyd Valiants gery het, eintlik na ‘n Chrysler gesmag; dit was net ‘n kwessie of die oes groot genoeg sou wees om die duurder en luukser model te koop. Dit was dus half-en-half ‘n effense ontnugtering toe Chrysler met sy hertoetrede tot ons mark ‘n klein Chryslertjie hier kom verkoop het, en saam met die sedan, ook die PT Cruiser met 1937 Ford agterkant! Maar hierdie ligte mistykie is nou reggestel met die Chrysler 300C; ‘n motor in die egte Amerikaanse styl waarna boere met stetsons weer kan aspireer, veral omdat hy boonop met ‘n stewige turbodiesel beskikbaar is wat volmaak op die plaas net soveel makliker maak.

Chrysler het natuurlik gebaat uit die samesmelting met Daimler-Benz in die laat negentigs en kon gebruik maak van die Mercedes E-Klas se onderstel om beter vering en hantering vir sy nuwe reeks groot motors te verseker. So ook die beskikbaarstelling van diesel alternatiewe wat ongelukkig nog baie weerstand in die VSA ontvang; diesel hoort volgens hulle by groot trokke en nie in motors nie.

Oor die jare heen, het ons half tred verloor met die groot Amerikaanse kruisers. Dit was dus ook met skeptisimse wat ons die Chrysler 300C ontvang het. Die bonkige, groot formaat is amper half skokkend vir die oog wat aan meer vloeiende lyne en kurwes gewoond geraak het. Maar tydens die eerste kilometer met die ware Amerikaner het die prentjie drasties verander; alle vooroordele het verdwyn totdat daar met hom by die plaaslike Mall parkeer moes word. Maar dit was op die ou einde ook nie só intimiderend nie; sien, daar is ‘n tru-kamera wat jou mooi laat sien waar om te in en waar om te uit.

Binne is die Chrysler groot en wyd soos in die ou dae. Al verskil is die teenwoordigheid van elektroniese spitstegnologie; wat elektries kan oopmaak en toemaak is alles daar en dan natuurlik ook al die veiligheidskenmerke wat elke duurderige motor deesdae as standaard-toerusting saamdra. As ‘n voornemende koper aan engtevrees lei, is die Chrysler die antwoord op sy vrese.

Dit wel gesê as hy vrede kan maak met die kleinerige vensters aan die kant; weereens ‘n Amerikaanse stilering wat op sy ergste by die (oorlede) Hummer aangetref word. Die wielnisse word volgemaak deur indrukwekkende 20” wiele wat veral onder jong entoesiaste met mindere rygoed se koppe twee keer sal laat draai!

Met die Duitse invloed onder die bakwerk is die hantering van die groot Chrysler uitstekend en is verrigting op standaard. Die 3-liter V6 turbodiesel is, danksy sy nuwe vennootskap met FIAT, van Europese oorsprong. Die enjin ontwikkel 176 kW en lewer ‘n baie gesonde 550 Nm teen ‘n optimale 1 800 rpmwat hom in staat stel om teen meer as 100 km/h teen amper luiersnelheid te loop.

Die oordra van die krag na die wiele geskied deur ‘n outomtiese vyf-gang ratkas. Brandstofverbruik vir so ‘n ou grote is dus uitstekend en kan ‘n verbruik van so min as 7 l/ 100 km uit hom gehaal word. Maar hy is ook wakker en sal tot 100 km/h in minder as 8 sekondes versnel en die naald laat draai by meer as 230 km/h; ‘n haastige Amerikaanse haas!

Wie gaan hierdie Yank koop? Waarskynlik nie meer die boere wat op afgeleë plase in die binneland woon nie want Chrysler agentskappe het in hierdie gedeeltes van die land min en wyd geraak. Aan die ander kant is die Jeep nou ‘n Chrysler handelsmerk, ‘n voertuig wat destyds, letterlik en figuurlik, diep spore in die Kalahari getrap het. Maar is die Jeep nog ‘n boere werksbakkie?

Die antwoord is dus dat ware individualiste, wat nie ‘n Duitse of Japannese luukse sedan wil hê nie, en nog altyd ‘n gerieflike en gróót motor voor die huis wil hê, die koper gaan wees. Vir hom is daar benewens die ekoomiese diesel ook die “egte” en kragtige 6,5 liter petrolmodel.

Die dieselmodel gaan die koper N$539 990 uit die sak jaag; die petrol weergawe N$629 990. Hiervoor kry die koper ‘n 3-jaar/100 000 motorpland. Die cowboyhoed is ekstra.

Leave a Comment