Bekendstelling: Toyota Auris [2013]

Toyota wys sy nuwe Auris

Ontmoet mens die huidige dinamiese en charismatiese hoofuitvoerende beampte van die Toyota maatskappy, Akio Toyoda, is dit byna vanselfsprekend dat die familienaam êrens ‘n aansluiting moet hê met die produk self.  En dit is dan ook inderdaad so.

Met die registrasie van die Toyota motormaatskappy in 1937 was dit die einste Akio se oupa, Kiichiro, wat die leiding geneem het met die vervaardiging van die eerste passasiersmotors uit die Toyota stal.  Die afdeling vir motorvervaardiging het in 1936 as aparte maatskappy van die Toyota Automatic Loom Works wat deur Kiichiro se pa in 1924 gestig is, begin.  Die familienaam het dan ook daartoe gelei dat die eerste modelle die naam “Toyoda” gedra het maar met die stigting van die maatskappy na “Toyota” verander is.  In 1936  is die eerste model, die Toyota AA, bekendgestel en in 2008 beklee die maatskappy die eerste plek as die wêreld se grootste voertuigvervaardiger.

Aki Toyoda, ‘n ingenieur en renjaer in eie reg, is daarop uit  om motors te bou wat ’n meer lonende ry-ervaring gee maar tog hul legendariese gehalte en betroubaarheid behou.  Hierdie vasberadenheid het reeds tot die briljante nuwe 86 gelei, waarna die ingenieurs die oog op Toyota se middelgrootte luikrug in die C-segment gefokus het. Die gevolg? Die indrukwekkende  splinternuwe 2013-Auris, ’n motor wat jy “ewe oortuigend met jou hart as met jou verstand kan aanskaf”.

Die Auris, wat van meet af ontwerp is om die voordele van sy minder gewig en laer swaartekragmiddelpunt te benut, het ’n splinternuwe buitekant met ’n sterker profiel wat van groter selfvertroue getuig.  Die motor pronk aan die voorkant met die nuwe “familie-gesig” met karakterlyne en fyn detail, soos die nuwe kopligte wat die motor se breedte en hurkende houding laag bokant die pad beklemtoon. Die sierrooster behels ’n groot, onderste deel wat tot in die voorste buffer strek, en die kleiner boonste gedeelte wat oor die hele breedte tussen die kopligte strek. Die lae enjinkaplyn aan die onderkant, wat oorheers word deur ’n nuwe, groter Toyota-kenteken wat laer as dié van sy voorganger aangebring is, sit net bokant die boonste sierrooster met sy middelgemonteerde verchroomde dwarsbalkie wat op die oog af tot in die kopligsamestelling strek om die breedte van die voertuig te beklemtoon.

Die motor het van die kant gesien ook ’n sterker voorkoms, met ’n skuinser windskerm en die kantglas wat verder agtertoe verleng is. Die buite-truspieël is tot binne die vensterraam verskuif, terwyl die middelste en agterste pilare wat verswart is tesame met die skerper hoek van die agterpilaar, verdere visuele slaankrag lewer. Buiten die estetiese voordele bied die nuwe ontwerp aansienlike lugdinamiese voordele, wat in die geheel tot beter brandstofdoeltreffendheid en rybaarheid lei.

Die binneruim, wat meer ruimte en groter gemak vir die insittendes bied, kombineer ’n sterk, horisontale ontwerplyn om die breedte en ruimte van die voorste kajuit te beklemtoon, met ’n meer ergonomiese, bestuurder-geöriënteerde uitleg van die instrumente en skakelaars.  Die nuutontwikkelde sitplekke kan verder skuif en hoër gestel word, en sorg vir uitstekende gemak. Die sitplekhoogte is met 40mm verminder, terwyl die stuurkolom se kantelhoek met twee grade verlaag is, wat ’n meer betrokke bestuursposisie skep.

Die intreevlak-1.3 X- en 1.6 Xi-modelle is goed toegerus. Dié modelle se standaardtoerusting is kleurgepaste deurhandvatsels en buite-truspieëls, afstand beheerde sentrale sluiting, lugversorging, klankstelsel met CD-speler en vier luidsprekers en stuurwielkontroles, USB/iPod-verbinding, elektriese vensters voor en agter, elektries verstelbare buite-truspieëls sowel as ’n leerbedekte stuurwiel en ratkierieknop, om maar net ’n paar van die grootste hoogtepunte te noem.

Die beter toegeruste 1.6 XS-weergawe het allerlei bykomstighede soos die klankstelsel-vertoonskerm met truratkamera, ses luidsprekers, sportsitplekke voor, misligte en Bluetooth.

Die vlagskip-XR het buiten die standaardtoerusting ook leerbekleedsel regdeur, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, verhitte sitplekke voor, laer- rugsteun, outomatiese kopligte, elektrochromatiese binne-truspieël, sleutellose toegang en aansitterknop.

Die wegspringpunt in die Auris-reeks is die 1,3-liter-petrolenjin wat met dubbele intelligente veranderlike kleptydbeheer (VVT-i) toegerus is. Dié enjin lewer 73 kW en ontwikkel sy maksimum wringkrag van 128 Nm teen 3 800 r/min.  Hierdie dinamiese verrigting word met ’n gemiddelde brandstofverbruik van 5,8 ℓ/100km en 134 g/km se CO2-uitlaatgasse gekombineer.

Die 1,6-liter-Valvematic-enjin, wat met ’n 6-gang-handratkas of die Multidrive S-palwisseltransmissie beskikbaar is, skop 97 kW uit en ontwikkel 160 Nm se wringkrag teen net 4,400 r/min. Die enjin het in samewerking met die handratkas ’n brandstofverbruik van 6,2ℓ/100km in die gekombineerde siklus, en stel net 145g/km se CO2-uitlaatgasse vry.

Die nuwe Auris behou Toyota se hoë standaard vir aktiewe en passiewe veiligheid, en is daarop uit om vyf sterre in die 2013-Euro NCAP-botstoetsgradering te verkry. Voetganger-impak minimalisering het ten spyte van die feit dat die voorste enjinkaplyn heelwat laer is, nie in die slag gebly nie, en ’n verskeidenheid energie-absorberende komponente, waaronder die buffersteunpunte en onderste pan, help om botsenergie te beperk.

Al die modelle in die Auris-reeks is toegerus met ABS, EBD en Remhulp. Daarbenewens het al die modelle lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, sowel as kantlugsakke voor. Die XR-modelle kry gordynskild-lugsakke sowel as ’n knielugsak vir die bestuurder.

Die nuwe Auris, met ’n wegspringprys onder N$200 000, word die mees bekostigbare intreevlak-model in die uiters mededingende C-segment.  Volledige pryse is as volg:

1.3 X – N$195 000 (BTW ingesluit)
1.6 Xi – N$217 500
1.6 XS – N$228 600
1.6 XR – N$253 200
1.6 XR CVT – N$265 600

Die nuwe Auris word deur ’n drie jaar/100 000km-waarborg bevoordeel. Al die Auris-modelle het ’n vyf jaar/90 000km-diensplan. Die nuwe modelle word ook deur die ToyotaCare-padbystandsdiens gedek, wat 24 uur se padhulp aan klante bied om algehele gemoedsrus te help verseker.

Leave a Comment