‘n Briesie uit verre Tsjeggië
Die wêreld het sedert die val van die Berlynse Muur in 1989 radikaal verander, Wes is nie meer Wes nie en Oos nie meer Oos nie. Maar ook nie heeltemal nie. Wie het ‘n dekade of twee gelede gedink dat Citroëns en Toyotas in die voormalige Tseggoslowakye gebou sou word en uiteindelik ‘n alledaagse verskynsel op Namibiese en Suid-Afrikaanse paaie sou word?
Dis nie heeltemal so nuut nie want in die jare rondom 1960 is die Tsjeggiese Skoda hier verkoop – en ook Russiese Volgas! Dit ten spyte van ekonomiese boikotte van die lande agter die Ystergordyn.
Die Citroën C1 is ‘n produk van die samewerking tussen Toyota, Peugeot en Citroën wat ‘n gemeenskaplike aanleg in Kolin in die Tjeggiese Republiek besit. In essensie beteken dit dat die motors met hierdie handelsname dieselfde meganiese komponente deel.
In hierdie geval is die 3-silinder 998 cc twaalf-klep petrolenjin afkomstig uit die Toyotastal en die 4-silinder 1398 cc ag-klep dieselenjin dié van Peugeot-Citroën. Beide enjins is besonder omgewingsvriendelik en laat onderskeidelik ‘n 106 en 109 g/km koolstofspoor agter. Ongelukkig is slegs die petrolweergawes in Suid-Afrika beskikbaar.
Die Citroën C1 het by ons opgedaag nét na ons die DS5 met sy kragtige turbodiesel getoets het en was die klein 1-liter enjintjie, met sy Harley Davidson klank en gevoel aanvanklik ‘n teleurstelling.
Toegegee, daar is die talle entoesiaste wat in vervoering raak oor die klanke en byklanke van die enjin as hy teen hoë toere hardloop maar dan moet die vyfgangratkas vryelik gebruik word en moet die lepel getrap word om die ponie te laat spring. As die lepel getrap word, ontwikkel die enjin 50 kW teen 6 000 toere en is daar 93 Nm beskikbaar by ‘n redelike skaflike 3 600 rpm. Maar dit beteken dat die toere altyd aan die hoë kant moet wees om die bulte uit te kom en flink deur die vyfgang-ratkas te versnel.
Gelukkig werk die ratkas glad en is die Peugeot-afkoms hier duidelik te bespeur. Hy versnel dan ook van 0-100 km/h in omtrent 14 sekondes en laat die naald verby160 km/h draai. Weens die klein 3-silinder onder die enjinkap kan ‘n gemiddelde verbruik van tussen 5 en 6 km/100 liter brandstof verwag word.
Maar vergeet maar hierdie paar opmerkings want die C1 is in die eerste plek ontwerp as ‘n stadsmotor vir vier mense wat elkeen sy eie deur het om maklik in en uit te klim. Dit is in hierdie lig waarna ‘n mens na die mooi klein ponie moet kyk. En mooi en byderwets is hy en die lyne sal veral onder dames byval vind.
En modern is hy ook met deurskynende plastiek wat dit in die donker maklik maak om die outydse maar nuttige skuifkontroles vir warm/koud te hanteer. Daar is geen raaiselwerk oor watter knoppies beheer wat nie. Dit is nou Franse funksionele chic op sy beste.
Vanweë sy klein afmetings is dit die ideale motor vir die stad en die weeklikse besoek aan die plaaslike mall. Hierdie aspek is prakties getoets en dit is ‘n feit dat vier Pick ‘n Pay sakke gemaklik agterin pas. Maar dan is daar nie juis meer plek vir ander bagasie nie tensy die sitplekke afgeslaan word nie en dan is dit nie meer ‘n viersitplekker nie.
Maar gepraat van die agterstewe; hy is regtig byderwets en aantreklik met sy baie glas. Maar hierdie eienskappe deel hy natuurlik met sy maats uit dieselfde fabriek in Europa.
Die C1 is in twee weergawes beskikbaar; die toetsmodel was die Seduction model wat ‘n paar “luukses” het soos ‘n radio/CD kombinasie, vier lugsakke en voorruite wat elektries beheer word plus ‘n toereteller wat apart en hoog op die paneelbord gemonteer is. In hierdie uitvoering jaag hy die koper R123 000 uit die sak.
Belangrik is dat ABS-remme standaardtoerusting op al die modelle is. Die eenvoudiger Attraction het wel twee lugsakke maar die ander toersuting is almal opsionele ekstras wat die koper kan spesifiseer en met die handelaar kan onderhandel. Die positiewe sy is egter dat die intreeprys dan ook onder die magiese N$100 000 is, om presies te wees, N$99 900! Maar daar gaan seker nie baie mense wees wat nie ‘n paar ekstras sal wil bestel nie.
Hoe betroubaar is hierdie kosmopolitiese ponie? Volgens ‘n onlangse opname in Duitsland is die motors uit Kolin uit kom, die mees betroubare in sy groep met die minste klagtes oor foute en breekspulle. Dit boesem vertroue in.
Anders as by die groter DS-reeks, is die motorplan nie standaard nie en sal dit die koper nog R11 000 moet opdok om ‘n diensplan vir vier jaar of 50 000 km te verkry. Hierdie is een ekstra wat ek persoonlik sal aanbeveel.
Wie gaan hierdie ponie aanskaf, veral in die lig van die feit dat Peugeot en Toyota feitlik soortgelyk modelle hier aanbied en die pryse baie wissel vir motors wat meganies identies is? Dit gaan afhang van die besluit tussen emosie en praktiese dinge soos waar die naaste handelaar met ‘n diensstasie of werkswinkel is! Emosie en tradisie is egter dinge wat nie ‘n randwaarde het nie. Maar mooi is eenvoudig mooi, en dit is die Citroën C1!