Padtoets: Citroën C3 HDi

Flinke Franse Verleiding!

Franse motors was nog al die jare anders as die res. Vra maar vir enige eienaar van die klassieke Citroëns, Peugeots en Renaults uit die jare Vyftig, Sestig of selfs so laat as die Sewentigs. En nie al die kommentare gaan net positief wees nie; sommige elementêre onderhoudstake kon nie sonder spesiale gereedskap en kundigheid gedoen word nie!
Maar dit was tóé en ons leef in die nóú.

Die Citroën ID, DS en Pallas was hoogs gesofistikeerde motors met gekompliseerde lug-olie suspensies, snaakse pedale, snaakse rathefbome en bakpanele wat in sekondes afgeskroef kon word. Die klassieke en unieke eienskap was dat hy op drie wiele kon loop en sy vering aan hom die vermoë gegee het dat hy nie ‘n gewone domkrag nodig gehad het nie.

Nadat Peugeot die wankelrige maatskappy ‘n dekade of twee gelede oorgeneem het, het die Citroën talle van sy eienaardighede verloor en is die nuwe Citroëns almal toegerus met Peugeot kernkomponente. Die C3 HDi, met sy turbodieselenjin van 1 560 cc, is uit en uit ‘n Peugeot enjin met die elegante Engelse benaming van Airdream.

Hoewel daar in Europa verskillende weergawes van die 1,6 liter dieselenjin is, waar daar gebruik gemaak word van rekenaarskyfies om krag en wringkrag dramaties te verhoog, ontwikkel die plaaslike Citroën 68 kW teen 4 000 rpm en stel 230 Nm wringkrag teen 1 750 rpm beskikbaar. Hierdie krag word deur ‘n normale 5-gang ratkas na die voorwiele oorgedra. Tipies Frans is die koppelaar “sag” en die ratkas ‘n vreugde om te gebruik. Sommige dinge en eienskappe verander nie – soos ook die soepel vering van die Fransman.

Met hierdie eienskappe in gedagte, is dit nie vreemd dat Citroën buitengewone goeie brandstofverbruik vir hulle C3 aangee nie; in hierdie geval ‘n miskien optimistiese 3,7 liter per 100 km in die algehele toetssiklus. Toegegee, die  outomatiese afskakeling, Stop&Start stelsel by verkeersligte en stilstaan-situasies as die ratkas in neutraal is, dra by tot hierdie verskynsel. ‘n Goeie begevolg van hierdie lae verbruik is die baie lae uitlaatgasvrystelling van slegs 98 g/km wat hom van die skoonste motors op die mark maak en hom vrystel van ekstra uitlaatgas belasting.

Soos dit ‘n Franse motor betaam is die kurwes van die C3 verleidelik en die afwerking aan die binnekant is stylvol sonder om funksionaliteit op te offer. Hierdie weergawe van Citroën is dus heel paslik genaamd Seduction! Die sitplekke is gemaklik, die kontroles almal binne maklike bereik en al die veiligheidstoerusting is aanwesig. So ook die moet-hê dinge soos ABS+EBD remstelsel, ISOFIX monteerpunte vir kinderstoeltjies, veiligheidsgordels met outomatiese styftrek-aksie in geval van ‘n ongeluk, vier lugsakke en sy-botsing impak-werende stawe in die deure.

Volgens die Duitse motortydskrif Auto Motor und Sport versnel hierdie C3 van 0-100 km in11,3 sekondes en laat die naald by 180 km/h draai. Die kattebakgrootte word ook aangegee as 300 liter wat verder vergroot kan word tot 1 000 liter as die agterste sitplekke afgeslaan word. Volgens dieselfde tydskrif is die C4 dié Citroën model wat die beste in Duitsland verkoop – en hiedie feit dra gewig in die land van die Germane. Die rede vir hierdie sukses is dan ook volgens hulle die “nugterheid” van hierdie model met sy panorama-dak en suinige verbruik. En natuurlik ook die suspensie wat die toets van hoë-spoed Autobahn ryery deurstaan.

Op die pad is dit dan ook die suspensie wat aan die bestuurder (en passasiers) groot gemak en genot verskaf; en op ons unieke soort paaie word slaggate netjies uitgesorteer! Met relatief min agentskappe gaan daar relatief min kopers in die diep platteland wees omdat dit eenvoudig te ver is om vir dienste na groter dorpe of stede te ry.

Maar as daar ‘n handelaar om die hoek is, is dit die moeite werd om die motor met die korporaalstrepe (Engels Chevron)  vir ‘n toetsrit te neem. En diegene wat nog nooit ‘n dieselmotor bestuur het nie, wag daar die aangename verrassing van krag, en veral wringkrag, wat van hierdie motor ‘n kragbuks maak.

Wat gaan ‘n mens vir hierdie plesierigheid betaal? N$222 900, maar dit sluit in ‘n driejaar of , 100 000 km fabriekswaarborg (met ‘n opsionele verlenging tot 5 jaar of 100 000 km) plus ‘n vierjaar of 60 000 km diensplan.

Indien die prys effens te hoog is, en jy hou van die elegante, klassieke bakwerk, is die 1,2 liter petrolmodel teen N$172 900 ‘n goeie alternatief.

1 thought on “Padtoets: Citroën C3 HDi”

Leave a Comment