Padtoets: Citroën C4 Aircross

Franse styl vir die platteland

Dit is alleen op die langpad wat ‘n mens ‘n motor werklik leer ken. Die KKNK op Oudtshoorn het die geleentheid gebied om die Citroën Aircross deeglik op die proef te stel op goeie teerpad en modderige grondpaaie rondom Calitzdorp.

Citroën was nog al die jare bekend vir sy fanatiese aanhangers; een van hulle, ‘n nou reeds afgetrede geneesheer in Vleesbaai, het in die jare sewentig vas geglo dat die hemel ‘n plek is waar jy Citroëns sou kry met groot V8-silinder enjins! Daar is ook nog talle wat hulle ID en DS vuurwaens, met hulle hidrouliese suspensie, met liefde en toewyding koester en blink hou!

Ten spyte van al die uitstaande en positiewe eienskappe van Citroëns was hulle  nooit blitsverkoper in Suid-Afrika nie; selfs nie nadat hierdie roemryke handelsmerk in die Peugeot-stal beland het nie. Die feit dat beide Citroën en Peugeot in die tagtigerjare uit die land getrek het, het dinge nie makliker gemaak nie en moes die handelaarnetwerk van meet af aan opgebou word.

Die C4 Aircross is myns insiens dié Citroën wat weer die handelsmerk in ere gaan herstel. Die nutsvoertuig met sy goeie grondvryafstand, en wat in beide voorwielaandrywing en 4×4 weergawes beskikbaar is, kan sy man teen enige ander in hierdie segment, staan. Boonop is daar verskillende weergawes met grade van luuksheid sodat die koper self kan besluit wat sy beursie gaan pas: Attraction, Seduction en Exclusive.

Om mee weg te trek; met sy kurwes op die regte plekke is hy sag op die oog en kry hy die eerse plek vir voorkoms wanneer hy gemeet word aan sy broers, die Mitsubishi ASX en die Peugeot 4008. Dit is dan ook sy direkte verwantskap met die Japannees wat hy ook deur plattelanders, ver weg van enige Citroën handelaar, gekoop kan word omdat die meganika dieselfde is as die van die Mitsubishi wat talle agentskappe dwarsoor die lengte en breedte van die land het.

Ons toetsmotor was die basiese Attraction-weergawe wat teen N$269 900 verkoop word en teen hierdie prys dan ook aantreklik is en die  Attraction-etiket verdien. (Die duurste is die 4X4 Exlusive met outomatiese ratkas teen N$369 900).

Die Attraction word deur  ‘n beproefde petrolenjin van 1 998 cc wat 113 kW teen 6 000 toere per minuut ontwikkel en teen198 Nm teen 4 200 rpm beskikbaar stel. Dit stel die motor in staat om vanaf 0-100 km/h in 9 sekondes te versnel en die naald by 200 km/h te laat draai as die kalf in die put is. Boonop is hierdie Citroën, wat die krag deur ‘n vyfgang-handratkas na die voorwiele oordra, ook ‘n suinige knaap; tydens die rit Oudtshoorn toe en terug, het die verbruiksyfer op die rekenaar so laag as 8,2 liter 100/km gelees; dit ondanks ‘n swaar vrag en die maksimum toelaatbare snelheid wat deurgaans gehandhaaf is.

Die binnekant van die Citroën is ruim en die bestuurder het die voordeel dat al die instrumente maklik bereikbaar is; die sitplekke is gemaklik en al die luukses wat vereis word, is daar; so ook die veiligheidseienskappe wat deesdae as vanselfsprekend aanvaar word. Veral gemaklik en ook vir veiligheid, is die stuurwiel wat ook kontroles vir die radio en ander toerusting bevat en die bestuurder se aandag kan by die pad bly. Talle ongelukke word immers veroorsaak wanneer die bestuurder se aandag net vir ‘n oomblik afgelei word deur die radio te verstel. Dis nie ‘n luukse nie, dit is bloot prakties. So ook die twee kragproppe om ‘n selfoon te laai terwyl die Garmin ook ingeprop is en die meervuldige klein rekenaarskerm wat brandstof verbruik en reikafstand met die bestaande brandstofinhoud aandui.

Die 16” wiele met ‘n redelik hoë profiel verskaf ‘n gemaklike rit op grondpaaie en sinkplaatpaaie en die Macpherson-vering voor, met multiskakel agtervering, verseker stabiliteit onder normale ry-omstandighede. Die stuur gebruik elektriese kraghulp en is “net reg” omdat die gevoel vandie pad nog altyd waarneembaar is.

Wie gaan hierdie Citroën koop? Miskien is dit die ideale voertuig is vir ouer mense met baie tyd tot hul beskikking en wat nog lank wil rondry op al die agterpaadjies van die land. Maar hy is ook net so nuttig vir die jonges met gesinne wat pakplek nodig het vir al die kleintjies, of sporttoerusting wat saamgery moet word! Daar is immers 384 liter pakruimte beskikbaar sonder dat enige van die agterste  (verdeelde) sitplekke afgeslaan is. En wat oulik is van die agterste sitplekke is, is die feit dat hulle rugleuning se helling ook verstel kan word!

In die gees van Citroën wat al uit die heel vroegste jare klem geplaas het op veiligheid, is daar ook frommelsones wat beteken dat die kajuit in die meeste gevalle ongeskonde gaan bly in die geval van ‘n ernstige ongeluk. Belangrik ook is die neus wat beserings aan voetgangers so onskadelik as moontlik maak; ‘n eienskap wat reeds uit die dae van die ou DS-modelle kom.

Die Citroën Aircross reeks word gedek deur ‘n 3-jaar/100 000 km waarborg asook ‘n baie aantreklike 5-jaar of 100 000 km diensplan met die opsie om die waarborgtydperk te verleng.   ‘n FreeDrive- plan verleng beide die waarborg en diensplan om te verseker dat daar geen onverwagte kostes sal opduik nie. Dit stel ‘n mens gerus en mag talle kopers na die Citroën, met sy twee strepe wat die sitrusboom simboliseer, lok.

Leave a Comment