Spasie vir die nasie!
Die huidige Daihatsu Terios is reeds vanaf 2006 op die Namibiese en Suid-Afrikaanse mark en is gevestig as ‘n betroubare en gewilde Sportnutsvoertuig. Die nuwe langbakweergawe is beskikbaar in beide 4×4 en 4×2 weergawes, laasgenoemde met sinvolle agterwiel- aandrywing.
Die 7-sitplek Terios deel die beproefde 1,5 liter enjin en 5-spoed ratkas van die reeks met ‘n outomatiese ratkas wat ook in die 4×2 weergawe beskikbaar is. Die enjin ontwikkel 77kW en 140Nm en het ‘n DVVT (Dynamic Variable Valve Timing) stelsel wat die enjin help om wringkrag teen laer snelhede te verbeter en dit sodoende lewendiger maak by wegtrek.
Dit ontwikkel meer krag teen hoë rewolusies en verbeter brandstofverbruik. Volgens Daihatsu is die gemiddelde brandstofverbruik vir ‘n kombinasie van stedelike en langpad toestande 8,1 l/100km. Die petroltenk het ‘n kapasiteit van 50 liter.
Die nuutste Terios het ‘n paar verbeteringe ondergaan, waaronder ‘n nuwe voorpaneel en middelkonsole, ‘n nuwe gesig vir die ingeboude radio/CD speler wat nou ook kontroles op die stuurwiel het. Standaard kenmerke sluit in lugversorging, kragstuur elektriese vensters, elektriese verstelbare buite truspieëls, ses bekerhouers, hoogte verstelbare bestuurdersitplek en misligte voor en agter.
Opsionele ekstras sluit ‘n ingeboude GPS stelsel, ‘n tasskerm DVD stelsel en kolligte in. ‘n Bosbreker-, sleepstang- en kanttrappe is opsioneel beskikbaar.
Die Terios is goed toegerus met die normale aantal veiligheidskenmerke wat jy vandag in meeste motors kry. Daar is twee voorste lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en nood remhulp (ABS, EBD en EBA) asook ‘n outomatiese afsny funksie van die brandstoftoevoer in die geval van ‘n ongeluk. Daar is sitplekgordels vir alle insittendes en ISOFIX kindersitplek aanhegpunte. Die Terios het ook ‘n 4-ster Euro-NCAP veiligheidsgradering verwerf.
Die ekstra 105mm wat die asafstand langer in hierdie model is, maak dat die binne afmetings in geheel met 640mm verleng word. Die gevolg is dat die beenruimte van die derde ry sitplekke die beste in sy klas is. Die padgedrag op grondpaaie is aanvaarbaar en die grondvryhoogte van 205 is selfs hoër as sommige duurder fabrikate wat spesifiek vir rowwe terreine gebou word.
Die grootte van die bande is 215/65R16. Die langer bak gee ook meer spasie vir bagasie wat 700 liter as die derde ry sitplekke opgeslaan is. Met die hierdie sitplekke egter in gebruik is die bagasieruimte slegs 200 liter.
Ek het die 4×2, sewe-sitplek Terios oor Sir Lowry’s Pas op die N2 tot op Caledon en daarna tot op Napier en terug bestuur. Op die distrikspaaie is die Terios baie tuis en so ook in stedelike gebiede. Die Terios bestuur gemaklik en die bestuurder sit lekker hoog en het ‘n goeie uitsig. Die stuur is lig wat veral op kronkel paaie en in die stad baie gerieflik is.
Teen die spoedgrens van 120km/h op die oop pad raak die 1,5 liter egter effe uitasem en die enjin draai teen amper 4 500 rpm, wat nogal hoog is. Dit maak egter dat die Terios nie so swaar kry teen bulte as wat mens sou verwag nie. Ek het nie die Terios sewe insittendes bestuur nie, maar ek vermoed dat redelike ratwisseling nodig sal wees om normale snelhede te handhaaf.
Die hantering teen hoër snelhede is dalk iets wat kan pla. Die hoogte van die voertuig, saam met die effens harde rit, maak nie van die Terios ‘n sportmotor nie. Maar die koper moet weet dat die Terios nie ‘n spoedvraat is nie en nie daarvoor ontwerp is nie. Hierdie Terios sal waarskynlik meer as ‘n klein bussie in die stad en oor korter afstande gebruik word as ‘n “hardebaard” 4×4.
Die 7-sitplek Terios kos N$224 995 en ‘n ekstra N$10 000 vir die outomatiese weergawe. Die duurste model met 4×4 aandrywing se prys begin nader beweeg aan meer spoggerige Koreaanse 4×4 voertuie. Dus is die 4×2 met sy 7 sitplekke die model wat die beste waarde vir geld bied. Die prys van die Terios sluit ‘n 3-jaar/75 000km diensplan en ‘n 3-jaar/100 000km waarborg in. Diensintervalle is 15 000 km.