Jan Alleman se gesinsmotor van die jaar?
Die motormark het die jaar goed begin met ‘n hele aantal nuwe, klein luikmotors wat die verbeelding aangryp, veral omdat die pryse reg is in ‘n ekonomie wat maar net nie op dreef wil kom nie. Ons almal weet wat die redes daarvoor is, of ons dink ons weet!
Maar wat van jong gesinne wat ‘n bekostigbare middelslag-sedanmotor wil koop vir die klein familie, wat ‘n ruim bagasiebak soek vir al die kinders (en ma) se bagasie en allerlei ander dinge wat saamgekarwei moet word en ook musiekvermaak vir die langpad moet kan verskaf. Miskien is die antwoord te kry in ‘n jongeling uit die Verre Ooste in die vorm van die GWM C30 wat al ‘n tydjie in die land is.
Die C30 is ‘n moderne ontwerp wat kan kersvashou by die manne uit beide Europa en die Ooste, bygesê die meer konserwatiewe maats en nou nie die uitspattiges nie. Van die kant gesien is die profiel moeilik om te onderskei van motors wat dubbeld, of nog méér, kos as die C30.
Binne is alles in orde, die materiaal-bedekte sitplekke is gemaklik, die kontroles gerieflik byderhand met goeie aanduidings vir watter dinge wat moet doen en die stuurwiel is vir hoogte en afstand verstelbaar. Vanselfsprekend is die motor toegerus met kragstuur, lugversorging en outomatiese afstandbeheerde sentrale sluiting. Die ruite word ook elektries beheer, so ook die spieëls. Natuurlik is daar vir veiligheid lugsakke voor om die insittendes in die geval van ‘n botsing te beskerm; so ook ABS-remme en remhulpbystand met skyfremme rondom en geventileerde skywe voor.
Vir vermaak is daar ‘n standaard radio met sokke vir ‘n USB-poort en MP3-kontakpunt. Vir veilige bestuur en gesels op die selfoon is daar ook die spreekwoordelike bloutand-verbinding. Saamgevat; alles wat daar moet wees, is daar. Boonop is die agterste sitplekke verdeel en kan die sitplekke afslaan om lang voorwerpe te huisves. Prakties. So ook die ruim kattebak wat 475 liter bagasie kan huisves.
Die hart van die C30 is ‘n 1,5 liter viersilinderenjin wat 71 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 138 Nm teen 4 200 rpm beskikbaar stel; vir die beste verrigting moet die vyfgang-ratkas dus vryelik gebruik word. Die maksimum snelheid word aangegee as 170 km/h wat vir ‘n gesinsmotor voldoende is. Volgens die vervaardiger kan ‘n gunstige verbruik van 7,3 l/100 km verwag word. Maar dit word bepaal deur die bestuurder se persoonlike bestuurstyl.
Vir die vering word McPherson stutte voor gebruik en wringstawe agter wat ‘n goeie balans aan die C30 verskaf en waarmee daar nie op draaierige teerpaaie fout gevind kan word nie. Hierdie is die mees algemene uitleg in beide Duitse en Japannese motors van sy grootte en ‘n welbeproefde een. Die vering is ‘n goeie balans tussen ferm en “gemaklik”en sal in die meeste motoriste se smaak val.
Het die C30 tekortkominge? Die noodwiel is ‘n ware noodwiel en is nie soos die gewone 15” wiele magnesium-allooivellings nie. Aan die positiewe kant is daar wél ‘n spaarwiel al is hy aan die dun kant; sommige van die mees bekende vervaardigers verskaf deesdae nie eens ‘n noodwiel nie, slegs ‘n blikkie met ‘n taai vloeistof wat onder druk is om die lek te seël. Soos almal weet werk hierdie doepa nie altyd nie!
GWM het vertroue in hul C30, hy kom met ‘n 5 jaar/100 000 km waarborg. ‘n Diensplan vir 5 jaar of 50 000 km kan addisioneel bygekoop word en is maakpas vir mense wat ‘n motor óf vir die eerste keer koop, óf as ‘n aftreemotor waar verskuilde onkostes nie sal opduik nie.
En die prys? Die C30 is te koop by handelaars teen N$159 900. Gedurende Desember-Januarie het die handelaars die C30 teen N$10 000 afslag verkoop; hierdie spesiale aanbod het intussen verval maar moontlik kan kopers tog nog ‘n goeie afslag ontvang? Alleen die handelaar sal hierdie vraag kan antwoord. Vra gerus!
‘n Laaste woord; die vroulike lede van die familie wou na die week toetsrit een koop, die waarde vir geld was net te aantreklik!