Sportwa by uitstek
Ons beurt om die Honda Accord stasiewa te toets, nadat hy al ‘n jaar op die mark is, was nou een van die aangenaamste verrassings in ‘n lang tyd. Stasiewaens verkoop nie eintlik regtig goed in Namibië of Suid-Afrika nie; anders as in Duitsland waar BMW, Mercedes en Audi volop is en hulle op die Autobahn amper harder gery word as Porsches.
Nee, ons mense verkies SUV’s; motors met goeie vryhoogte en wat ten minste lyk soos 4×4’s en talle sal die CR-V Honda verkies bo die Accord Tourer stasiewa. Maar ek het my motortande op ‘n Borgward Combi geslyp en was daarna nog altyd ‘n stasiewa-aanhanger.
Dit mag na ‘n teenstelling klink, maar die Accord Tourer turbodiesel, met sy outomatiese ratkas, is seker van die mees sportiewe voertuie wat ons in ‘n lang tyd onder hande gehad het. En om verskeie redes waarvan die voorkoms een van die belangrikste punte is; die Duitsers kan by Honda kom leer hoe ‘n kompakte sportwa moet lyk en hier verdien Honda 10/10.
En dan natuurlik die binneruim met sy uitsonderlike hoë graad van afwerking, gemak en al die moontlike luukses wat daar is; inlsuitende ‘n sondak. Die reeks Accord stasiewaens wat hier beskikbaar is, kom almal uit in die hoogste spesifikasies. En vanselfsprekend, al die elektroniese veiligheidseienskappe wat daar op die mark is. Hierdie is inderdaad ‘n “klaargemaakte” motor. Koppel hierdie eienskappe aan die ekstra laaivlak wat die stasiewa-uitleg bied, en daar is die ideale kombinasies van gemak en praktiese toepassings.
Maar hoekom dan nie maar die CR-V wat ook oor al die deugde van die Tourer beskik nie? Die antwoord lê in die laer profiel van die pad af; jou fisika-wette lui eenvoudig dat hoe laer ‘n voertuig van die grond af is, hoe beter gaan hy daardie vinnige draaie kan vat! En dit is dan ook die ware verskil tussen die twee; die Tourer is terselfdertyd ook ‘n warm sportmotor.
Maar kan ‘n sportmotor/wa met ‘n dieselenjin en outomatiese ratkas toegerus wees en nog steeds die “sport” etiket dra? Veertig jaar gelede nie, maar vandag wel. Kyk maar na Le Mans waar die groot diesels uit Frankryk en Duitsland dit uitspook. En met die intelligente ratkaste van die laaste dekade of twee, is dit slegs die baie vernuftige bestuurder wat op die ou einde effens vinniger van 0-200 km/h met ‘n handrat-model kan versnel as met die outomatiese weergawe.
Dit is nie sonder ‘n goeie rede na die haastige Duitse stasiewaens se enjins; diesels is by hulle gróót! En van die ratkas gepraat; die Accord het behalwe die normale verstelling, ook ‘n “sport” modus wat onmiddelik aan hom ‘n ander karakter gee as maar net nóg ‘n outomatiese model.
Die hart van die Honda is natuurlik sy beproefde enjin van 2 199 cc wat 110 kW teen 4 000 pm uitskop; ‘n syfer wat nou nie eintlik die koppe sal laat draai nie. Maar dit is die wringkrag wat tel; 350 Nm teen 2 000 rpm is meer as genoeg om van ‘n swaar lorrie ‘n windhond te maak.
Die Tourer sal dus in minder as 10 sekondes van 0-100 km/h versnel en die naald net duskant 210 km/h laat draai. En dis hier waar die diesel bekostigbare verrigting tot gevolg het; die algehele verbruik in die kombinasie van stad en oop pad kom op ‘n gemiddeld van 7 liter/100 km te staan!
So ver wat die lofliedere van ‘n uitstaande voertuig betref. Maar wat gaan hierdie begeerlikheid kos? Dis hier waar die enigste negatiewe punt sy kop uitsteek want die handelaar gaan van die nuwe eienaar N$412 859 vra voordat hy hom oorhandig.
Die positiewe punt is egter dat daar ‘n 5-jaar/ 100 000 km saam met die nuwe Honda kom. En dan ook die wete dat Honda en kwaliteit seker vir die meeste Namibiers een en dieselfde ding beteken.