Kanniedood Diesel
Einde verlede jaar het die Isuzu KB-reeks ‘n ligte uiterlike opknapping gekry om by te bly by die bakkiemodes. Historici sê mos dat verandering ‘n historiese wet is; of die politici met hulle uitspraak dat as jy nie aanpas nie; sterf jy uit.
Eintlik het Isuzu, soos ‘n paar ander bakkies ook, nie hierdie uiterlike veranderinge nodig nie want hulle is goed genoeg en het reeds die toets van die tyd deurstaan. En dit maak ook sin; menige lesers het al te kenne gegee dat die sogenaamde langtermyn toetse van voertuie oor 20 000 of so nie regtig tel nie; dit is eers na 100 000 km se kant toe wat ‘n motor of bakkie sy ware kleure begin toon. Maar daaraan kan ons nie veel doen nie.
Isuzu bakkies is al dekades lank met ons. Onthou u nog die Chev LUV wat niks anders was as ‘n Isuzu met ‘n Chevrolet strikdas op die rooster nie. En dan natuurlik ook die 4×4 van destyds met sy onafhanklike suspensie voor? Isuzu se opponente het destyds beweer dat so-iets nie by ‘n ware 4×4 gepas het nie. Maar dit was destyds en die meeste Japannese bakkies gebruik deesdae hierdie uitleg. Wat ek wel weet is dat die eerste Isuzu 4×4 bakkies sonder twyfel net so gemaklik soos ‘n goeie Duitse sedan op teer- en grondpaaie gery het.
Isuzu is van die eerste Japanse maatskappye wat dieselenjins gebou het. En reeds in die sestigerjare was hulle die eerste Oosterse vervaardigers wat ook dieselmotors op die mark geplaas het. Ongelukkig was hierdie motors, die stylvolle Bellet, nooit op die plaaslike mark beskikbaar nie. Maar in Europa het die Opel Frontera (die Isuzu Trooper by ons) diep spore getrap en is vandag steeds gesogte voertuie op die tweedehandse mark. En as die Duitsers gedink het hy is goed, dan is dit so …….
Terug na die hede: Ons onlangse toetsvoertuig was die dubbelkajuit KB 4×4 met die 2 999 cc enkelspoor turbodiesel wat myns insiens die koning van die wye KB-reeks is. (Enjingroottes begin by ‘n 2,4 liter petrol tot by ‘n 3,6 liter eenheid met die legendariese 2,5 liter diesel tussenin).
Die 3-liter turbo-eenheid ontwikkel ‘n matige 120 kW teen 3 600 rpm maar die angel is natuurlik die 360 Nm wat tussen 1 800 en 2 800 rpm beskikbaar gestel word en wat deur wáre 4×4 manne waardeer word. (Of die plaasboer wat ‘n sleepwa trek wat eintlik agter ‘n groot, groen John Deere hoort). Dit is dan ook op hierdie gebied wat hy die groter 3,6 petrolenjin beskaam. Hierdie krag word deur ‘n vyfgang handratkas na die agterwiele oorgedra – soos dit hoort by ‘n regte bakkie. Maar dis vreemd dat die 3-liter se wettige 1 100 kg sleepwa wat hy kan trek, 100 kg minder is as dié van die 2,5 4×2 met die outomatiese ratkas.
Die jongste opkikkering, meestal aan die voorkant, gee aan die KB ‘n “jong” voorkoms en dit is geen wonder dat die toonaangewende Chinese bakkiebouers die Isuzu as voorbeeld gebruik het vir hulle voertuie nie. En binne is daar al die gerief wat ‘n mens aan kan dink; alles wat elektries verstel kan word is daar en natuurlik ook die jongste toerusting op die klankfront met ‘n radio/cd/MP3 en goeie luidsprekers om daarby te pas. Ook ‘n multi-funksie ritrekenaar wat ook buite-temperatuur aandui. Ook natuurlik lugsakke wat onder andere in die stuurwiel met sy leerbekleding ingebou is. Noem dit, en dit is op die top Isuzu se lysie van “ekstras”. Dieselfde geld vir die ander veiligheidstoerusting soos ABS-remme met skywe voor en dromme agter.
Alles goed en wel, maar hoe maak hy op die pad? Soos te wagte uit ervaring met vorige KB modelle is hy flink op die teerpad maar sy ware karakter kom eers tereg op grondpaaie; en hoe swakker die oppervlakte, hoe gemakliker ry hy. Vrag of nie vrag nie. Rygemak bly vir my die uitstaande kenmerk van die Isuzu – en dit was ook die mening van die vrouens in die huishouding wat saamgery het.
Die Isuzu het natuurlik ook oor die jare heen ‘n reputasie as ‘n kanniedood ontwikkel. Dit kom waarskynlik uit die dae toe ‘n mens óf ‘n Ford óf ‘n GM man was en hierdie twee fabrikante in letterlik elke groterige dorp aangetref was. Dit is ook dikwels op die mees onverwagte dorpe waar daar nog steeds ‘n GM-handelaar is waar ander groter vervaardigers besluit het dat dit nie meer lonend vir hulle is nie en verkas het. Hierdie is een van GM se groot pluspunte want niemand hou daarvan om ‘n paar honderd kilometer te ry om sy voertuig te laat diens nie.
Goeie nuus vir kopers is natuurlik die 5 jaar of 90 000 km diensplan wat op die hele KB-reeks betrekking het. Diensintervalle is 15 000 km of jaarliks. Die omvattende waarborg is geldig vir 5 jaar of 120 000 km.
En wat betaal ‘n mens vir die vreugde om die vlagskip aan te skaf? N$385 400. Of beding met die handelaar!