Padtoets: Isuzu KB-reeks LX 300 4×4

Kyk weer!

Oor die jare heen het Isuzu bakkies ‘n reputasie opgebou vir enjins wat hou. Die eerste gewone dieselenjins wat jare lank hulle ding onder die enjinkgap gedoen het, sonder turbo-aanjaging, was onverwoesbaar. Daarna het die Isuzu bakkie vir ‘n tyd lank in die sewentigerjare as die Chevrolet LUV bekend gestaan; amper soos die Corsa wat ook nou die korporatiewe handelsnaam gekry het.

Met die bekendstelling van die Isuzu 4×4 in die vroeë tagtigs het hy naam gemaak as dié 4×4 bakkie wat die naaste aan sedanmotor-ry kon kom weens die gebruik van onafhanklike vering aan die voorkant. Boonop het hy ook nie so hoog van die grond af gestaan soos sy mededingers nie – wat op daardie stadium beperk was tot die Toyota en Nissan Tracker. (Van die hardebaard 4×4 veterane het destyds gesweer dat die onafhanklike vering voor, van hom ‘n “sagte” 4×4 gemaak het omdat hy dan nou nie so goed rowwe terrain sou kon hanteer nie. Dieselfde manne moes toe op die einde tog hulle woorde sluk toe van die “hardebaard” vervaardigers ook na onafhanklike vering oorgeslaan het).

Hoewel destyds nou nie so indrukwekkend soos sy mededingers wat hoogte betref nie, het hy nie vir hulle teruggestaan nie. Vra maar, het self egte 4×4 paaie destyds met hom gery!

Die jongste reeks KB 4×4 Isuzu bakkies is in lyn met die jongste tegnologie en voorkoms en is die lyne van die Isuzu onbeskaamd deur die Chinese nageboots om vinnig die regte voorkoms vir hulle voertuie te kry. En nabootsing is natuurlik die beste kompliment wat iemand kan kry.

Die nuwe geslag KB-reeks is nie meer so nuut nie aangesien hulle reeds meer as twee  jaar gelede bekendgestel is. Maar die wyse waarop Isuzu intussen verbeter is, is miskien nie so algemeen bekend nie.  Hierdie verberinge is dan ook spesifiek vir die Suid-Afrikaanse mark aangebring wat besondere en unieke eise stel aan voertuie in hierdie segment.

Die Isuzu-naam word al vir meer as 70 jaar aan dieseltegnologie gekoppel en die maatskappy is een van die grootste vervaardigers van dieselenjins.  Dit is dus geen wonder nie dat die nuwe 3.0 liter D-TEQ enjin van die KB-300 seker die mees uitstaande verbetering van die nuwe reeks is. Die turbodiesel ontwikkel 120 kW teen 3 600 rpm en stel 360 Nm wringkrag tussen 1 800 en 2 800 rpm vry. Hierdie krag word deur ‘n vyfgang handratkas na die vier wiele oorgedra deur die gewone ratkas of tien snelhede as die oordraratkas ingespan word. En hiervoor hoef nie ‘n ekstra hefboom gebruik te word nie; ‘n mens druk net ‘n knoppie om die laestrekratte in te span. Maklik.

Die Isuzu in nie ontwerp om aan Le Mans wedrenne deel te neem nie maar 0-100 km/h word in rondom 14 sekondes bereik en die naald sal op gelykpad en sonder wind by rondom 170 km/h gaan draai.

Die D-TEQ enjin se diesel word onder hoë druk in die ontbrandingstel ingespuit en is voorsien van ‘n gevorderde turbo-aanjaer wat deur ‘n luginlaat op die enjinkap afgekoel word. Die vervaardigers maak ook daarop aanspraak dat die enjin aansienlik stiller is en minder vibrasie veroorsaak as vorige soortgelyke enjins en dat skadelike gasuitlate ook baie minder is.

Een van die nuttige eienskappe van die bakkie is dat die agterklap sluit en dat die seilkappie nie hoef losgemaak te word as daar vinnig iets onder die seil gesoek word nie.
Wat voorkoms en kenmerke betref hang die Isuzu saam  met die bestes uit.

Beide die stuurwiel en bestuurdersitplek kan verstel in hoogte terwyl lugreëling en ‘n radio/CD-speler standaartoerusting is. Die ruite en kantspieëls word elektries beheer en die deurslotte sluit outomaties oop of toe as dit aan- of afgeskakel word en die bakkie beweeg.

ABS remme waarvan die remkrag elektronies eweredig na alle vier wiele versprei word asook twee lugsakke voor is standaardtoerusting. Die kantpanele is ook versterk om groter veiligheid en duursaamheid in geval van botsings van die kant af te verseker.

Die Isuzu LX 300 word deur ‘n driejaar/100 000 km gedek en ook ‘n vyfjaar/100 000 km padbystandsplan. Diensintervalle is 15 000 km.

Die toetsvoertuig verkoop teen N$394 300. Maar as die prys te hoog is, is daar die 2,5 liter weergawe beskikbaar teen N$355 000.

Gaan kyk maar weer hoe dit by die General Motors agente gaan!

Leave a Comment