‘n Plesierige Boksie Buksie by uitstek!
Oor die jare heen was KIA nog altyd vir my half en half ‘n misterie, veral nadat ek meer as tien jaar gelede in Duitsland gesien het dat die KIA handelsmerk een van die mees bekendes daar was. Soveel so dat een van die handelaars daar ook Volkswagens verkoop het! Dit terwyl Hyundai by ons die groot Koreaanse verkoper was en KIA’s tweede viool gespeel het.
Intussen het my mening verander nadat ons met verskillende KIA’s kennis gemaak het, ook met hulle flink klein dieselmodelle. Maar net toe ons begin vrede maak met die nuwe modelle kom verkoop hulle toe die Soul hier in die Kaap. Smaak verskil, maar dit was vir my die lelikste model van die dekade – totdat ons onlangs die nuutste Soul kon toets!
Ek moet my vorige vooroordeel bely; die boksie-buksie is ‘n fees. Maar dan moet bygevoeg word dat die nuwe model uiterlik aansienlik beter lyk as sy voorganger. Boonop is daar nou ook ‘n Chinese model op die mark wat op ‘n haar soos hy lyk; nabootsing is die beste kompliment vir ‘n goeie ontwerp!
Die uiterlike veranderinge sluit in subtiele veranderings aan die voor- en agterkante deur die hoof- en agterligte te verander, ‘n meer breëbors en wyer voorkoms en nuwe 18-duim wiele wat die buksie goed pas. Dan is daar ook LED liggies vir gewone padgebruik wat maar dwarsdeur die dag aangehou kan word sonder om duur gloeilampe te vervang.
Maar die groot verandering is onder die enjinkap waar die aandrywing nou deur ‘n 2-liter enjin verskaf word. Die 1 999 cc sestienklep enjin met verstelbare nokasse ontwikkel 122 kW teen 6 500 rpm en stel ‘n stewige 200 Nm beskikbaar teen 4 800 rpm.
Hierdie krag word na die voorwiele oorgedra deur ses-gang hand of outomatiese ratkaste. Versnelling is dan ook uitstekend met 9,2 sekondes om 100 km/h te bereik en ‘n naald wat by 185 km/h gaan laat draai. Vir die outomatiese model is die verrigting net ‘n fraksie swakker. Volgens die vervaardiger kan ‘n gemiddelde brandstofverbruik van rondom 7 liter/100 km verwag word.
Maar behalwe die op-en-wakker nuwe enjin is daar ‘n paar ander ekstras wat bestuur net soveel makliker maak; in die binnespieël is daar ook ‘n klein TV-skerm waarvan die kamera agter toe afneem as trurat geskakel word met soemers wat waarsku as daar voorwerpe naby die agterbuffer is; sleutellose toegang en aanskakeling en ‘n uitstekende klankstelsel wat die boksie-bussie in ‘n klankteater verander.
En op die langpad deur die Karoo kan spoedbeheer op die outomatiese ratkasweergawe ingestel word en die bestuurder ontspan met goeie musiek. ‘n Opsionele ekstra is ‘n sondak vir die tussenseisoene wanneer die son darem nie te fel op ons koppe skyn nie!
Op die veiligheidsfront is die Soul toegerus met ABS-remme (skywe rondom) en ook elektroniese stabiliteitsbeheer en vastrapbeheer. Maar die lekkerste eienskap is die elektroniese wegtrekbeheer! Dit is veral van toepassing vir (a) die jongetjies wat nog moet uitpasseer en nog nie regtig teen ‘n bult kan wegtrek sonder om die motor agteruit te laat loop nie, en (b) die oues van dae wat al effens doof is en nie so lekker kan hoor wanneer die koppelaar al vasgebyt het nie en die enjintoere hóóg loop nie!
Dus, die Soul is vir die jongetjies en en moontlik veral vir die senior burgers – dink maar aan die klein bakwerk wat maklik parkeer en dan nog die hulp van ‘n tru-kamera ook het. En met die hoë bakwerk is daar ook uiteraard genoeg ruimte in die motor.
Daar is natuurlik ander luukses ook soos die donker ruite, die volle klimaatbeheer waar die verkose hittegraad slegs ingestel word en verder wat oop en toe kan maak op luukser modelle en ook die luukse van leersitplekke en pakplekkies vir Afrika vir die kleiner goeters wat altyd ‘n lêplek soek.
Die Soul is beskikbaar in ‘n wye reeks kleurskemas wat, weereens, by alle ouderdomsportuurgroepe aanklank sal vind; hier dink ‘n mens kleure vanaf sober wit, helder silwer en sulke eksotiese name soos groentee, tamatierooi en maanligblou!
En wat kos hierdie kleurvolle boksie plesier? N$229 995 vir die handrat en N$239 995 vir die outomatiese model. Dit sluit ‘n waarborg van 5 jaar/100 000 km in asook ‘n diensplan van 4 jaar/90 000 km met padbystand vir 3 jaar lank. As die beursie nie dik genoeg is nie, is daar die 1,6 liter handratweergawe teen N$193 995 en outomaties teen N$203 995.