‘n Spesiale ervaring
Johann van Tonder
Ek gee nie om hoeveel voertuie jy al bestuur het nie. As jy agter die stuur van ‘n nuwe Lamborghini inskuif en die aansitter druk, is dit ‘n spesiale oomblik. Die voorreg het ons te beurt geval toe ons onlangs die nuwe Lamborghini Huracán in Kaapstad van nader leer ken het.
Die Lamborghini Huracán, soos sy stalmaats, ontleen sy naam van beroemde Spaanse veg-bulle. Huracán was ‘n besonderse bul wat in 1879 bekendheid verwerf het vir sy waagmoed en dapperheid. ‘n Gepaste naam dus vir ‘n motor wat in die spore van die baie gewilde Lamborghini Gallardo volg. Die Gallardo het in sy 10 jaar van produksie meer as 14 000 eenhede verkoop, die helfte van Lamborghini se algehele verkope van alle tye.
Die Gallardo was steeds ‘n handvol om te bestuur, maar darem meer gebruikersvriendelik as die Lamborghinis wat hom vooraf gegaan het. Dit is juis die toeganklikheid wat van die Gallardo ‘n sukses gemaak het. Die Huracán sit die tradisie voort en is waarskynlik die gebruikersvriendelikste Lamborghini tot op hede.
Neem jy posisie in die tweesitplek kajuit in word jy omring deur skerms en knoppies, amper asof jy jou in ‘n vegvliegtuig bevind. Hoewel jy laag sit, is die motor verbasend gerieflik as jy eers in is. Heelwat aandag is geskenk aan die binneruim en al die luukses, van sitplek verwarmers tot Bluetooth koppeling en GPS navigasie is teenwoordig. Die afwerking is uit die boonste rakke met leer en dubbelstiksel en gee die idee van duursaamheid. Om die Huracán aan te skakel moet jy ‘n rooi klappie bo die aansitter op lig voor jy die knoppie kan druk. Dis baie James Bond en jy is nie seker of jy dalk ‘n missiel gaan af vuur of deur die dak gaan skiet nie.
Maar as daardie 5,2 liter V10 die lewe in brul is daar geen twyfel dat hierdie Lamborghini die ware jakop is nie. Dit is ‘n vurige gebrul as die toere opjaag en ‘n bevredigende gebrom en klap as die toere teen kompressie daal, amper soos die sewende simfonie in ‘n motor entoesias se ore.
Onder aan die stuurwiel is daar ‘n verstelling met ‘n keuse van drie bestuursmodusse genaamd Strada, Sport en Corsa. Strada is die modus vir alledaagse stads gebruik, Sport is soos die naam beskryf die meer sportiewe opsie en Corsa is die modus vir die renbaan. In Strada is die Huracán meer bedeesd, as dit moontlik is vir ‘n V10 Lamborghini om bedeesd te wees, maar die Huracán is verbasend so.
Die sport motor ry in verkeer soos ‘n gewone motor, anders as byvoorbeeld die Gallardo wat in stadige verkeer nogal ‘n handvol kon wees. Eerstens is die Huracán se vering in Strada modus sagter as die van sy voorganger, wat die rit ‘n geriefliker ervaring maak. Daarby is 75% van die Huracán se totale krag reeds van 1000 toere beskikbaar, so jy kan sonder ‘n gejuig en ‘n geraas gemaklik in stadige stadsverkeer ry.
In druk verkeer het ons toetsmodel gerieflik teen 38km/h in vyfde rat saam met die verkeer beweeg. Die 7-spoed outokas wissel soomloos tussen die ratte en hierdie is moontlik die eerste Lamborghini wat jy met ‘n outokas eerder as handrat sal verkies.
Sodra die verkeer egter uitdun en die pad voor jou oop raak verander jy na Sport modus en min indien enige iets kan jou voorberei vir wat gebeur as jy die eerste keer die Huracán se versneller plant. Hierdie motor met sy 5.2-liter V10 enjin wat 448 kW en 560 Nm wringkrag lewer versnel van 0 tot 100 km/h in 3 sekondes en bly versnel tot ‘n top snelheid van 325 km/h.
Die Huracán druk jou letterlik in jou sitplek vas terwyl die V10 agter jou ontplof in klank en die sewegang ratkas deur die ratte vlieg. Jou hart se tempo skiet die hoogte in en al jou adrenalien word met eens in jou bloedstroom vrygestel. Die beeld in jou periferie raak uit fokus soos jou pupille vernou en jy net konsentreer op die pad voor jou. Op die pad en om die draaie klou die Huracán soos ‘n neet en die gebruikersvriendelike aard van die motor is gerusstellend en laat jou voel soos ‘n bekwame renjaer.
Dit is besonder vervullend om met so vinnige motor met selfvertroue deur die draaie te swiep en dan het ons waarskynlik nie eens naastenby die Huracán se volle potensiaal ontgin nie.
In die Huracán het Lamborghini nou ‘n eksotiese motor met hoe verrigting wat ter selfde tyd gerieflik en gemaklik ‘n lopie na die stad kan doen. Met die toeganklikheid het die Huracán die potensiaal om die suksesse van die Gallardo te herhaal en moontlik selfs te verbeter. Nog modelle van die Huracán word in die vooruitsig gestel en ons sien veral uit na hoe die daklose weergawe daarna sal uitsien.
Ons het al voorheen sportmotors bestuur, Porsche, Aston Martin, Ferrari en Lamborghini onder hulle, maar dit bly ‘n spesiale ervaring elke keer as jy die geleentheid kry om in so motor te ry. Ek hoop van harte dat diegene wat bevoorreg genoeg is om so motor te besit nooit blase raak oor die bestuurservaring nie.
Die Lamborghini Huracán verkoop vanaf N$4 750 000, terwyl ‘n model met al die opsionele ekstras jou in die omgewing van N$5 700 000 uit die sak sal jaag.
Die Lamborghini Huracán is goedgunstiglik beskikbaar gestel deur Lamborghini Kaapstad.