Padtoets: Land Rover Freelander 2 2.2D SE

‘n “Regte Land Rover”

Wederhelf vertel toe onlangs aan ‘n vriendin dat ons (ook) ‘n Land Rover het. Toe ons op ‘n dag by hulle aankom, was hulle opmerklik onthuts omdat hulle ‘n Defender besit en ons nie ‘n “regtige” Land Rover besit nie!

Dit ondanks die vertoning van ons ouerige Freelander Series 1 wat hom net tevore met volle vrag in die Sederberge onderskei het! As kind in die vroeë vyftigs het ek by my oorlede pa geneul om ‘n Land Rover 88 stasiewa te koop sodat ons koloniale Afrika kon deurkruis.

Die geneulery het niks gehelp nie en die naaste wat ons aan ‘n Afrika-avontuur gekom het was ‘n kortpad Natal toe deur Swaziland met ‘n Zephyr 6. Maar later jare het ek tog die geleentheid gekry om in die bosse van Malawi die ongebaande weë aan te pak. Die ou 88 en 109 modelle was die staatmaker in Brits-Oos-Afrika.

So ‘n paar jaar gelede kry ek toe die kans om die Freelander op die langpad deur sy passies te sit. Net tevore het ek ‘n Japanese mededinger met ‘n 2,2 liter turbodiesel enjin getoets en my opmerking teenoor vriende was dat die ideale voertuig vir my ‘n Freelander sou wees – maar toegerus met die Japanees se 2,2 enjin.

En toe gebeur dit toe ook met die bekendstelling van die Freelander 2 so ‘n jaar of wat gelede dat die nuwe model met hierdie enjingrootte sy verskyning maak om hom net daardie ekstra woema te gee. (Hierdie ekstra woema was dan ook die rede vir ‘n spoedkaartjie in Ladismith; dus, wees versigtig met die krag van die nuwe model).

Die toetsgeleentheid was ‘n rit Uniondale toe om ‘n skool reünie te gaan bywoon. Die padtoestande was goeie teer, swak teer, goeie grondpad en ‘n regte 4×4 roete; die oorspronklike Bain’s Pas tussen Uniondale en Avontuur. Dit is veral op laasgenoemde pad wat die nuwe Freelander getoon het dat hy saam met die groot bulle kan saamstap.

Soos dit met alle voertuigreekse gaan, begin hulle klein en word dan geleidelik al hoe groter met die tyd. Dieselfde geld vir die Freelander. Hoewel die nuwe stilering minder dramaties is as in die geval van die jongste Discovery, maak die nuwe Freelander self ‘n bonkige en taai indruk.

Maar die vinnigste manier om die nuwe van die oue te onderskei, is die verdwyning van die noodwiel op die agterdeur. Dit laat hom groter lyk as sy voorganger, en maak die steel van ‘n spaarwiel moeiliker, maar tog mis ek die “rowwe” voorkoms met die tradisionele spaarwiel daar!

Die afwerking van die nuwe veldvoertuig is van die hoogste gehalte en laat ‘n mens dink aan Land Rover se  slagspreuk dink: Hoekom ‘n luukse sedan koop as jy ‘n Land Rover kan koop? Hy maak ‘n ewe goeie indruk voor die operagebou as in die rowwe veld!

Maar van rowwe veld gepraat; op die foto by die gedenkteken van die Freelander in die Poort by Avontuur, lyk dit of hy “Taxi tyres” het; die wit “sidewalls” is ‘n geskenk van die wit stof van die ou wapad tussen die Langkloof en die Klein Karoo en is iets wat die fietsryers van die Karoo tot die Kus fietsren sal ken!

Die Freelander 2 is in alle opsigte ‘n nuwe-generasie voertuig en het eintlik min van sy voorganger oorgehou. Een kleinigheid wat myns insiens nie ‘n verbetering is nie, is die plasing van die knoppies wat die ruite beheer. Hulle is nou almal in die bestuurder se deur geplaas – waar hierdie skakelaars in nege uit die tien gevalle gevind word. Maar die nadeel is dat as die ruit in reënweer oopgemaak word, water in die skakelaars kan kom.

In hulle veldvoertuie het Land Rover in die verlede die skakelaars op die sentrale beheerpaneel monteer – weg van die skade van water. Onortodoks, maar dit het gewerk.

Grondvryhoogte op die Freelander is uitstekend, so ook die inval- en vertrekhoeke. Die suspensie is soepel en die artikulasie van die aste uitstekend met ‘n ferm ritgehalte wat nie stamperig is nie. Dieselfde geld vir algehele verrigting en hantering op kronkelrige paaie wat teen hoë snelheid aangepak word. Maar neem in ag dat die Freelander op hierdie gebied nie met sportmotors gaan kompeteer nie.

Wat belangrik is, is die feit dat al die jongste elektroniese hulpmiddels daarin slaag om van die Freelander 2, wat nie oor ‘n laestrekratkas beskik nie, ‘n “hardebaard” onder die “sagtebaard” veldvoertuie te maak. Die steiltebeheer knoppie bring die eienskappe van ‘n “ware” 4X4 te vore; dit, gekoppel aan die outomatiese ratkas, plaas hom in ‘n baie bruikbare klas vir slegte terrein.

Die hart van die Freelander 2 is die 2 179 cc turbodiesel wat 110 kW teen 4 00 rpm ontwikkel en 420 Nm by 2 000 rpm beskikbaar maak; die soort kragkurwe wat 4X4 mense soek. Brandstofverbruik oor die toetsperiode was minder as 10 liter/100 km;  maksimum snelheid is nie getoets nie maar is soos die Rolls Royce mense altyd gesê het – “meer as voldoende”.

Wat het my hart vinniger laat klop? Die roemryke groen ovaal wapen met die geel logo; die ding wat my kinderhart in die laerskool al aangeraak het!

Goeie nuus is dat die nuwe Landy oor ‘n 5-jaar of 100 000 km diensplan verkoop word wat daardie ekstra gemoedsrus nodig het. Die prys van die SE turbodiesel met handrat gaan die koper N$453 995 uit die sak jaag. Maar vir die wat slegs die basiese model nodig het, byvoorbeeld sonder leerbekleedsel, is die S-model beskikbaar teen ‘n baie redelike N$407 995. Laasgenoemde sal my keuse wees.

Leave a Comment