Boere Rolls Royce? ‘n Mercedes bly ‘n Mercedes!
Ten spyte van al die nuutste tegnologie en hoë-verrigting modelle van ander Duitse vervaardigers bly die driepuntige ster op die sierrooster steeds dié simbool wat getuig van vakmanskap, tydlose styl en goeie, gesofistikeerde smaak!
Net meer as ‘n jaar gelede het ons die bekendstelling van Mercedes-Benz se GLC-reeks op rowwe grondpaaie in Namibië meegemaak. Destyds het ons die meeste van die tyd agter die stuur van die vierwieltrek 250 dieselmodel deurgebring. Nou het ons dieselfde model vir ‘n week lank deur sy passies gesit op teerpaaie en bergpasse in die Boland. Dié trippies het my positiewe oordeel oor die vervaardiger verder versterk.
Mercedes (en Peugeot) was die voorlopers om dieselmotors in Suidelike Afrika gewild te maak. Weens goedkoop landboudiesel wat in tenks op die plase afgelaai was, was dit dan ook boere se keuse om dieselmotors aan te hou – al was die gebruik daarvan in motors verbode! Maar dit was moeilik om te bewys waar die diesel nou eintlik vandaan gekom het.
Tussen toe en nou het Mercedes diesels ‘n radikale transformasie beleef, hoofsaaklik as gevolg van die koms van turbo-aangedrewe enjins.
Met sy gladde voorkoms is die GLC die ideale toermotor vir die langpad met ‘n ruim kajuit, gemaklike sitplekke, uitstekende klankstelsel en natuurlik die jongste elektroniese hulpmiddels wat van die swak bestuurder ‘n goeie bestuurder maak as daar op los gruispaaie, of teerpaaie, ‘n foutjie kom. Wat op die toetsmodel beïndruk het, is die rem-aksie wat vanself plaasvind indien daar op die teerpad onbedoeld na links van die pad beweeg word! Indrukwekkend wat GPS saam met elektronika kan doen! So ook dieselfde aksie as ‘n motor voor jou vinnig stop en jou gedagtes vir ‘n oomblik op ‘n ander plek is. Veiligheid, en die voorkoming van ongelukke, is hierdie Mercedes se sterk punt.
Verder is alles wat kan oop en toemaak in hierdie Mercedes. En ook al die versteekte hulpmiddels waarvan die eienaar nie bewus is nie; tegnologie op sy beste.
Aan die ander kant van die skaal kan die draai van die knoppie ook die bakwerk laat lig as daar op rowwe grondpad gery word. Dit is nou oulik. En tussen hierdie uiterstes in is daar ook verstellings om ‘n meer gemaklike rit te laat plaasvind, die sogenaamde “comfort” verstelling. ‘n Verstelling wat hier min gebruik sal word is dié een vir paaie waar ‘n yslagie gevorm het. Dit moet ook in ag geneem word dat hierdie koepee-agtige 4×4 Mercedes meer bedoel is vir sneeu in Europa as vir Kalahari sandduine.
Die hart van hierdie besondere model is ‘n 2.2-liter turbodiesel wat 150kW ontwikkel en ‘n ontsagwekkende 500Nm beskikbaar stel. Dit danksy die rekenaarprogrammatuur want die goedkoper 220 d het dieselfde grootte enjin maar stel (net!) 400Nm beskikbaar. Aandrywing na die vier wiele vind plaas deur die outomatiese 9-gang ratkas. Iewers in die middel, by die 6de gang is die aandrywing direk een tot een, die ander hoër ratte is almal snelgange.
Met die skryf van hierdie artikel was ek aangewese op inligting op die amptelike inligtingstuk van Mercedes toe ek tegniese gegewens gesoek het. Dit is hier waar ek kritiek moet lewer want die enjinomwentelinge waarteen krag en wringkrag gelewer word ontbreek. Wat wél verskaf word is die CO2 syfers vir die verskillende modelle. Interesant is dat die syfers, 143 vir beide die 220 d en 250 d identies is.
Die deurlees van die inligtingstuk het ook talle ander belangrike inligting aan die lig laat kom soos die ongelooflike verskeidenheid bybehore wat beskikbaar is; onder andere is daar ‘n keuse van 16 verskillende allooivellings waaruit daar gekies kan word. Ook dat die Premium Drive diensplan nie by die basiese koopprys van N$696,500 ingesluit is nie. Gelukkig is daar ‘n “configurator” wat jou in staat stel om die uiteindelike prys van jou eie, individuele GLC saam te stel!
Vir die rekord: Die goedkoopste GLC verkoop teen N$690,000 en die duurste GLC 300 teen N$750,000.
Indien die kraglewering van hierdie GLC-modelle nie genoeg vir ‘n kragvraat is nie is dit die moeite werd om te wag vir die GLC 63 4MATIC+ wat in die tweede helfte van die jaar beskikbaar raak en tussen 650 en 700Nm beskikbaar stel. Wees net geduldig!