Peugeot se nuwe plesierige nommertjie
Peugeot is nie ‘n vervaardiger wat elke jaar met ‘n nuwe model te voorskyn kom nie, al verander hulle die vookoms van hulle leeu-embleem elke paar jaar. As die nuwe model dus wel sy verskyning maak, is dit die moeite werd om ernstig notisie te neem van die geleentheid.
Die 208 is die waardige opvolger van die voorwielaangedrewe 204 wat reeds in die jare sestig sy verskyning op ons bodem gemaak het. Peugeot se stylvolle klein tydrenwenner en wegholsukses, die 205, was ons egter nie beskore nie, maar wel die 206 en 207 opvolgers. En nou is die nuwe nommer hier, die 208.
En hierdie knaap gaan beslis daartoe bydra om Peugeot se reputasie stewig te help vestig as ‘n motor wat mooi op die oog is, gerieflik, klein genoeg om maklik te hanteer maar steeds groot genoeg aan die binnekant is vir ‘n paar voorrymanne. Of stewige hokkiespelers. (Die 208 het in vergelyking met sy voorganger, heelwat gewig afgegooi en meer kompak geword maar in die proses groter beenspasie gewen. Oulik).
Die manne wat weet beskryf die bakwerk van die Fransman (of Dame?) as atleties met ‘n gesofistikeerde silhoeët. Die lyne is vloeiend en die atletiese karakter kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat daar nie ‘n onnodige gram oortolligheid aan die buitekant is nie. En in Peugeot se beproefde resep van destyds is daar nie onnodige oorhange voor en agter nie en is die wiele geplaas waar hulle hoort; op die vier uiterstes van die bakwerk.
Hierdeur word die hantering van die motor op die oop pad en draaie maksimaal benut. Dit, tesame met die Franse veringtegnologie van ferm maar nie stamperig nie, maak van die 208 sommer ‘n netjiese, bestuurbare motor wat byval by ‘n groot groep jong en ook ouer mense gaan kry; veral dié wat aanstap in jare maar steeds jonk van gees is.
Die soepelheid van die suspensie is baie deeglik oor die Weskus se goeie en slegte teerpaaie en ook Bainskloof se kort draaie deur die motorjoernaliste getoets. Hier het die nuwe Fransmannetjie uitmuntend gevaar en was hy getrou aan sy lang bloedlyn wat gerief met funksionaliteit laat saamsmelt. Die elektriese stuurhulp werk onberispelik en gee deurgaans goeie terugvoer aan die bestuurder.
Nuut onder die enjinkap is die twee enjins waarin hy beskikbaar is; ‘n “tradisionele” 1,6-liter viersilinder wat 88 kW teen 6 000 r/min uitskop en 160 Nm beskikbaar stel teen 4 250 r/min en die 1,2-liter drieslinder wat 60 kW teen 5 750 r/min ontwikkel. Wat die meeste van die kleiner enjin beïndruk is die 118 Nm wringkrag wat teen so min as 2 750 r/min vrygestel word.
Laasgenoemde syfer beteken dan ook dat die vyfgangratkas selde gebruik moet word om hom soos ‘n renperd te laat hardloop en gee hierdie model so effens van ‘n voorsprong oor sy boetie met die groter enjin.
Boonop maak Peugeot daarop aanspraak dat beide enjins besonder omgewingsvriendelike is en is die CO2 uitlaatgasse so laag as 134 g/km en 104 g CO2 per kilometer onderskeidelik. Die vervaardiger het ook besonder lae brandstof-verbruiksyfers verskaf maar tydens die toetsritte is meer as die aangeduide 5,8 l/100 km en 4,5 liter/100 km op die nuttige ritrekenaars aangetoon. Miskien ry joernaliste met swaarder regtervoete as die deursnee motoris.
Wat nie verskaf is nie, is die verrigtingsyfers. Maar as die syfers van die 207 as riglyn gebruik word, moet die maksimum snelheid vir die 1,6 model méér as 190 km/h wees en gaan hy in minder as 9,6 sekondes van 100 km/h versnel. Die driesilinder is splinternuut en dus was ons nie in staat om vergelykende verrigtingsyfers te verkry nie.
Hoewel ek self nie ‘n voorstaander van hierdie tipe enjin is nie, is daar van my kamerade wat mal is oor die klank wat hulle voortbring! Maar na my eie bestuurservaring van die driesilinder, moes ek my woorde behoorlik sluk! Dit is slegs teen laer toere wat die verskil gehoor kan word.
Uiterlik word die modelle onderskei deur die gebruik van 15” en 16” allooivellings op die twee duurder modelle. En natuurlik is al die jongste elektroniese veiligheidstoerusting daar wat insluit lugsakke, ABS-remstelsel met remverspreiding (EBD) en noodrembystand (EBA).
‘n Verandering vanaf die 207 is die herposisionering van die instrumente na ‘n hoër vlak wat meer in lyn is met die bestuurder se uitsig op die pad. Dit, gepaard met ‘n kleiner stuurwiel, is ‘n stap na groter beheer oor die motor, veral op draaierige paaie.
Binne is daar al die toerusting wat deesdae van ‘n katelknaap met styl verwag word; ‘n raakskerm (op die duurder modelle) wat al die nodige reisinligting verskaf sonder dat daar met knoppies of mini-muise gepeuter hoef te word en ‘n uitstekende klankstelsel met ‘n FM/AM radio, Bluetooth verbinding en toegang tot musiek van jou keuse deur middel van ‘n USB-poort of die gebruik van Bluetooth.
Lugversorging is natuurlik standaard op die goedkoper modelle met volle outomatiese klimaatbeheer op die topmodel. Die spesifikasies vir die drie modelle wat tans bemark word, verskil natuurlik volgens prys met die “intreemodel” genaamd die 208 1.2 VTi Access (N$154 900), die 208 1.2 VTi Active (N$169 900) en die topmodel, die 208 1.6 VTi Allure (N$189 900).
Die mooiste ding van die nuwe chic model uit Frankryk is nie met die oog sigbaar nie maar in harde kontant; die 208 kom met ‘n vyfjaar/60 000 km Premium onderhoudsplan en ‘n driejaar/100 000 km waarborg.
Slotgedagte: Hierdie Peugeot gaan senior burgers wat afgedwaal het na die leeutrop terugbring. En jonges gaan boonop vir die eerste keer by die trop aansluit!