Padtoets: Peugeot 508 Allure

Terug na die Toekoms

Peugeot het wyslik besluit om die 508-reeks in te voer. Daar is hoeveel Suid-Afrikaners wat lang en ver reise in hulle 504s oor die lengte en breedte van ons land onderneem het en net goeie herinneringe oorhou.

Die Peugeot 404 was in die middel sestigerjare onder die top sewe verkopers in die land. En vir die wat nog te jonk is om te weet, op ‘n stadium was die Chrysler Valiant die topverkoper met die Volkswagen Kewer laer af in die rangorde! Dit is dan ook interessant om te weet dat die Valiant voor die koms van die Toyota Minibus by uitstek dié gesogte taxi in die opkomende Swart Taximark was. En die Peugeot 404 het dieselfde rol in Zimbabwe vervul en is nog steeds die mees gesogte gebruikte voertuig in ons buurstaat!

Die bekendstelling van die 504 in Europa in 1968 het groot opslae gemaak toe die Franse vervaardiger die beste van die bestes in Duitsland direk aangepak het met ‘n middelslag- tot groot motor wat stilisties byderwets was en ‘n klas van sy eie gevestig het. En vir dié wat verrigting gesoek het, was daar die TI brandstofinspuiting-weergawe wat tydrenne in Oos- en Wes-Afrika gewen het. Sy opvolger, die 505, het ongelukkig by ons te laat op die toneel verskyn omdat die maatskappy kort daarna uit die land onttrek het. Maar die 505 GTI was ‘n deugdelike voertuig wat talle Duitse modelle op die neus laat kyk het.

Met so ‘n indrukwekkende stamboom van die 5-reekse, stel die nuwe 508 glad nie teleur nie. Hy gaan nie die verkoopsyfers van die 404 en 504-modelle ewenaar nie, maar bied nou ‘n alternatief vir kopers wat BMW’s, Audi’s en Mercedese as alledaags beskou. Die Peugeot 508 is ‘n motor vir die individualis en dit is nie vergesog om hom met die gewildheid van die Volvo in die VSA in die jare sewentig en tagtig te vergelyk nie.

Wat maak die 508 so besonders? Natuurlik kyk almal eerste na die voorkoms van ‘n motor. Die lyne is modern maar nie uitspattig nie, die vloeiende voorkoms skep ‘n harmonieuse geheel van die parmantige leeutjie op die neus tot by die agterbuffer. So ook die binnekant met Peugeot se kenmerkende gerieflike sitplekke en goeie uitleg van die instrumente. En al die moderne elektronika is daar; vanaf die klankstelsel wat “blou tand” en MP3 vriendelik is tot sleutellose toegang tot die motor en lugsakke wat die insittendes van voor en van die kant af beskerm – sou dinge ernstig verkeerd gaan. En as opsionele ekstra was die toetsmotor toegerus met GPS-navigasie.

Die elektroniese hulpmiddels om ongelukke te help voorkom is almal daar; u ken die lysie van Engelse afkortings: ESP, ABS, EBD.

Die vering van die 508 is die ideale opset tussen ‘n ferm suspensie met genoeg speling om ‘n gemaklike rit op grond en teerpaaie te verseker; dit is hierdie soort vering wat die rugdokters aanbeveel vir die ouer garde met hulle rugbybeserings van dekades gelede!

Die 508 Allure onderskei hom van die Active intreemodel deur die gebruik van 17-duim vellings, ‘n volgrootte allooi-noodwiel, die opsionele digitale uitleespaneel wat die snelheid direk in die bestuurder se sig vorentoe aantoon, halfleer bekleedsel teenoor gewone materiaalafwerking en ten volle outomatiese lugversorging vir elke insittende. So ook die elektriese handrem wat beslis méér effektief is as die meganiese soort. (Maar nou kan daar nie meer handbriekdraaie gemaak word nie; maar wil die eienaar van so ‘n luukse en gesofistikeerde motor dit rêrig nog doen?).

In ooreenstemming met moderne Europese gebruik, word kleiner enjins deesdae gebruik om die omgewing ‘n kans op oorlewing te gee en word turbo-aanjaging ‘n algemene gebruik. Die 1 598 cc petrolenjin (die staatmaker 404 se kapasiteit was 1 618 cc) ontwikkel 115 kW teen 6 000 rpm en stel 240 Nm wringkrag vry teen 1 400 rpm, die soort krag wat net by dieselenjins voorkom. Gekoppel aan ‘n outomatiese sesgangratkas kan uitstekende brandstofverbruik verwag word en gee Peugeot ‘n gemiddelde verbruik van 7,1 liter per 100 km aan. Volgens CAR tydskrif is hierdie syfer egter optimisties maar gee hulle ‘n versnellig van 0-100 km/h aan van net meer as 10 sekondes en die naald gaan draai by 220 km/h.

Peugeot het na hulle terugkeer tot die plaaslike mark twee dekades gelede, wisselende sukses behaal en glad nie naby die verkope gekom waarop hulle gehoop het nie, veral as die goue sestiger en sewentigerjare in ag geneem word nie. Dit kan deels toegeskryf word aan gevorderde elektronika wat nie onder ons taai omstandighede getoets was nie en deels aan swak verhoudings met die pers en die publiek. Hierdie situasie het die afgelope jaar drasties verander en die nuwe diensplan van 5 jaar of 100 000 km bewys die vertroue wat Peugeot in sy reeks modelle stel, ingesluit die 508.

Die 508 Allure, wat teen N$309 900 verkoop, is beslis ‘n motor wat weer lewe blaas in die geslag wat nog die uitmuntende eienskappe van die 504 onthou en wil terugkom na die Peugeot-kraal! En as die prys miskien te hoog is, kyk ook na die handrat Active wat teen N$289 900 verhandel.

Leave a Comment