Padtoets: Volvo C30 D2 Essential

‘n Wakker wolfie uit Skandinawië

Volgens die Swede self is hulle nie eintlik mense wat warmhartig is nie of ‘n goeie sin vir humor het nie. Ook dat hulle oor die algemeen baie ernstig oor die lewe is.

Daarom is dit verrassend dat hulle eintlik ‘n popgroep soos ABBA die lig laat sien het en dat hulle musiek nou nog altyd lekker op die oor val; veral as hulle hul ook hulle liedjies in Spaans sing!

Die Volvo C30 is ‘n voorbeeld daarvan dat die mense wat so naby aan die noordpool bly, nie net ernstige, uitstekende ingenieurs is wat heeltyd na perfeksie en veiligheid strewe nie maar tog ook na meer aardse dinge soos voorkoms en beeld kyk. En hoe goed hulle daarin geslaag het om die klein tweedeur-sportkoepee (my eie definisie) ‘n byderwetse voorkoms te gee, word weerspieël deur die kommentaar van twee jong joernaliste wat destyds die bekendstelling meegemaak het: Funky en Cool! Hierby sou ek self die Engelse woord Classy kon byvoeg.

Die nuwe, klein Volvo, lyk aan die voorkant soos sy groter stalmaats. Maar bekyk hom van die kant en daar is ‘n nuwe sportiewe lyn wat nie ‘n duim terugstaan vir die jongste modelle uit Duitsland en Italië nie. Dit is egter wanneer die C30 van die agterkant af gesien word, wat die dramatiese voorkoms opval; ‘n groot glasdeur wat laag-af naby die agterbuffer eindig. Dit is ook hierdie beeld wat die meeste van ons sal sien as die haastige 1,6 liter turbodieselmodel by ‘n mens verbykom want ek is daarvan oortuig dat daar talle haastige manne en vroue is wat hierdie jongste en sportiewe Volvo gaan koop! En dit gaan veral mense wees wat goeie smaak en styl openbaar en daardie sprankelende jeugdigheid behou het – al is hulle nie meer in hulle twintigs of dertigs nie.

Die effens flambojante buitekant van die bak, wat hom laat uitstaan in motors van sy klas, word aan die binnekant effens getemper deur ‘n meer sober en effens minimalistiese uitleg van die instrumentepaneel wat in die eerste plek daarop gerig is om nie die bestuurder te verwar nie. Maar al die bybehore is daar en maklik sigbaar en binne reikafstand van die bestuurder. Die sitplekke en stuurwiel, wat verstelbaar is vir beide horisontale en vertikale posisies, verseker dat die bestuurder die gemaklikste en veiligste posisie kan vind.

Soos ‘n mens van Volvo verwag is veiligheid sinoniem ook met die “klein” Volvo. Behalwe al die lugsakke, wat deesdae as standaardtoerusting op feitlik alle motors voorkom, is daar ook ‘n veiligheidsnet om die bagasie op hul plek te hou. En dan is daar natuurlik ook al die elektroniese stelsels wat saam met die ABS-remme werk om bestuurderfoute “reg te maak” as die bestuurder ‘n dom ding sou doen.

Met so ‘n sportiewe buitekant, is dit paslik dat die verskeidenheid enjins en ratkaste hulle taak goed sal doen; dit is dan ook die geval. Die “intreemodel” in die C-reeks is die 1,6-liter viersilinder, gevolg deur ‘n tweeliter petrol en dan die haastige 2,5 liter T reeks vir die baie haastiges. Die toetsmodel wat ons onder hande gehad het, was die 1,6 liter turbodiesel.

Die 4-silinder enjin met sy verplasing van 1 560 cc ontwikkel 84 kW teen 3 600 rpm en stel 270 Nm vry teen ‘n rustige 3 600 rpm. Maar daar is ook heelwat wringkrag beskikbaar teen heelwat laer toere; hier van 2 500 rewolusies af begin die perd te spring, selfs in sesde rat. Al neem hy omtrent 12 sekondes om van stilstaan toe 100 km/h te versnel, gaan draai die naald net so onder die 200 km/h!

Die mooi ding van die Volvo Diesel is sy brandstofverbruik; jy ry en ry en ry en die brandstofnaald wys hy bly vol! Teen 2 000 rpm in sesde rat draai die spoedmeter se naald op ‘n raps meer as 100 km/h. In alledaagse gebruik is dit maklik om minder as 5 liter per 100 km te verbruik. En as die krag nodig is, trap die warm pedaal net dieper en al die krag is daar.

Vir alledaagse motorry is daar egter ‘n paar dinge om in gedagte te hou: die groot deure van hierdie klein koepee  is groot en kan probleme gee om in knap parkeerspasies nie krappe te veroorsaak nie; die sitplekke is laag en nie geskik vir ouer mense met gewrigsprobleme nie en die kattebak is klein. Maar hierdie “probleempies” is eie aan alle koepee’s. As daar gereeld net kort afstande gery moet word, is die diesel nie die ideale kragbron nie.

Wie gaan hom koop? Jong individue wat nie tropdiere is nie, miskien meer intelligent as die gewone man of meisie op straat en as hulle nie jonk is nie, ten minste jonk van gees met ‘n sportiewe uitkyk op die lewe!

As die prys van die dieselmodel te hoog is, N$260 600, oorweeg die intreemodel met sy 1,6 liter petrolenjin wat teen N$243 600 verkoop! Al die Volvo’s kom met ‘n diensplan en 5 jaar of 100 000 km waarborg. En Sweedse vakmanskap op die koop toe!

Leave a Comment