Google gerus hierdie een!
Renault kom al ‘n lang pad in Suid-Afrika, langer as die meeste Europese fabrikante in die land. Maar ongelukkig was dit ‘n kwessie van kom en gaan en dan weer kom – hopelik om te bly. Met so ‘n wye reeks van modelle op die plaaslike mark, waarvan sommige baie gewild is op ‘n waarde per Rand grondslag en boonop plaaslik gebou word, is die kanse baie goed dat Renault nog lank met ons sal wees.
Die jongste toetsmotor van hierdie vervaardiger was die klein Clio Yahoo vyfdeur model wat die skrywer herinner het aan sy eie geliefde 4L Kameeltjie wat Renault se teenvoeter vir Citroën se Lelike Eendjie was. Later het die 5-reeks modelle gevolg wat ‘n verkoopsman in Somerset-Wes destyds beskryf het as die motor vir regte dames. Hierdie beskrywing van destyds pas net so goed by die Clio.
Uiterlik weerspieël die Clio die jongste stand van Franse styl en stilering op sy beste op ‘n stadium wat die meeste kleiner motors almal omtrent dieselfde lyk en voel en klink. Dit spreek vir beide die buite- en binneruim waar daar sulke klein items is soos wit handvatsels om die deure oop te maak! Wie het al tevore daaraan gedink om hierdie kleur te gebruik om dit makliker sigbaar te maak? En die eentonigheid en algemene uniformiteit te breek? Maar ‘n mens verwag mos maar altyd ‘n andersheid by die Franse.
Die binneruim is vrolik en die sitplekke gemaklik en kon ‘n amper 2-meter lange, oorgewig passasier, met redelike gemak die passasiersitplek beset. Wat egter wel skort is ‘n stuurwiel wat ook afstandverstelbaar is en nie slegs vir hoogte nie; motors wat heelwat goedkoper beskik deesdae oor hierdie eienskap wat die perfekte bestuursposisie verseker. Die kattebak is in lyn met die spesifikasies van sy mededingers en ruim genoeg vrouens wat ernstige Mall-ondersteuners is.
Die instrumente is funksioneel en goed beplan en alles is waar ‘n mens dit verwag om te wees. Die radio werk uitstekend maar die volume word met twee drukknoppies beheer wat eenvoudig nie so goed werk soos ‘n gewone draaiknop nie. Op die Yahoo intreemodel word slegs die voorste syruite elektries beheer en is daar nog gewone slingers vir die agterste vensters. Die pluspunt is dat dit goedkoper is om te herstel as herstelwerk nodig is!
Oor die jare het Renaults (en die ander Franse vervaardigers) dit reggekry om die ideale vering vir gewone passasiersmotors te ontwikkel. Soos my studentedogter se 1983 Renault 5 is ook die Clio Yahoo dié motor wat sy staal, of beter gestel, sy uitstekende soepelheid toon wanneer spoedwalle teen meer as die normale spoed genader word.
Die Clio is gesofistikeerd; die ratte skakel gemaklik oor, daar is geen vaagheid nie en daar is bitter min padgeraas; in elk geval nie op die Yahoo weergawe nie. (Daar is natuurlik die vuurwarm Clio modelle wat N$100 000 meer kos en van die warmste masjinerie op die mark is; maar dit is mannesake; die Yahoo weergawe, met dieselfde enjingrootte, is beslis bedoel vir dames en ware dames).
Hoe ry die Clio? Voorbeeldig. Onder die enjinkap is ‘n 1,6 liter enjin wat 83 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 151 Nm vrystel teen 4 250 omwentelinge per minuut. Vertaal in leketaal beteken dit dat as jy hom behoorlik wil laat spring, die enjintoere redelik hoog moet hardloop. Maar daar is genoeg krag beskikbaar omdat die ratverhoudings van die Yahoo lag is en hy dus goed trek teen opdraandes.
Die vyfgangratkas skakel gemaklik oor en verdien hier ‘n pluimpie en, saam met die lae ratverhoudings stel dit hom in staat om van 0-100 km/h te versnel in ‘n raps bo tien sekondes; die naald sal ook by 190 km/h gaan draai as daar nie ‘n verkeerskonstabel in die omtrek is nie. Die prys vir hierdie verrigting lê egter in die brandstofverbruik van gemiddeld 8 liter/100 km – wat nie die ligste in sy klas is nie.
Veiligheid is een van die Clio se sterkste punte; sedert sy intrede op ons mark ‘n dekade of meer gelede, was dit die eerste ligte motor op die mark met lugsakke as standaardtoerusting. Die Yahoo het nie minder as vier nie en dan is ABS-remme natuurlik ook ‘n gegewe.
Maar wat kos hierdie Franse sjarme wat die dames so moeilik vind om te weerstaan? Die Yahoo intreemodel verkoop teen N$159 900 en die meer luukse model, met elektries-beheerde agterruite en meer luukses, N$169 000. Gelukkig is daar ook ‘n drie jaar of 60 000 km diensplan om onderhoudskostes tot ‘n absolute minimum te beperk.
Slotopmerking? Hierdie stukkie Franse flair is nie bedoel vir flerries nie, net vir ware dames van alle ouderdomme wat nog in staat is om ratte oor te skakel; op ons mark is daar nie ‘n outomatiese model beskikbaar nie!