Dynamique, magnifique!
Ek kan aan geen slim opmerking dink om ‘n ekstra stertjie by te voeg by die opskrif van hierdie artikel nie behalwe die woord magnifique. Die rede: my Frans is regtig gebrekkig. Maar dit beteken nie dat ek opgewonde was oor die splinternuwe Renault Megane luikrug nie!
Die kuiergas het by my huis opgedaag met donker grys metaalverf en vrolike klopgeluide van sy 1.9 liter turbodiesel enjin. Kom ons vermy die onderwerp van sy voorganger se “haat-of-smaak” voorkoms, want die nuwe een is nogal ‘n aantreklike nommertjie wat slegs positiewe kommentaar uitgelok waar hy ook al gekom het.
Die Megane se neus kan op die oog-af beskuldig word van die nuwe korporatiewe neiging wat die meeste vervaardigers (met verskillende grade van sukses) na strewe, en terwyl sy voorvader se agterkant die meeste mense onstel het, wys die nuwe een ‘n nogal oulike agterstewe, of soos my tweede Franse woord, derriere.
Die Renault se moderne vorm en hoë enjinkap is tekens van voorpunt-ontwerp, nes die vloeiende lyne wat die profiel van die nuwe Renault ‘n bietjie breek. Die toetsvoertuig was ook toegerus met ‘n reuse dubbel glas-sondak, maar slegs sy voorste deel kon beweeg. Dit bring meer sonskyn en vars lug in die kajuit wat slegs as Frans kan beskryf word. Die instrumentepaneel, sitplekke, deure en verskeie afwerkings is hoogs modieus en elegant; swart leer ontmoet silwer aksente en kunsmaterial of plastiek in ‘n suksesvolle “huwelik”.
Mens sal die meeste moderne spitstegnologie hier vind, soos dubbelsone klimaatbeheer, sentraalsluiting, snelheidsensitiewe kragstuur, mp3 CD/radio met Bluetooth en Tomtom navigasie, 60/40 voubare agterbank, outomatiese ligte en veërs, plus elektriese vensters en (verhitte) spieëls.
Om nog ‘n bietjie meer Frans (en verskillend) te wees, lyk dit of sommige van die instrumente van ‘n ruimtetuig gesteel is en ander uit die jare vyftig dateer. Dis moeilik om in slegs een sin te verduidelik, en dus nooi ek alle lesers op om dit self te gaan ondersoek; die voordeel is dat ek vinnig aan die versameling analoog/digitale instrumente gewoond geraak het. Viva la Difference!
Nou is beslis die beste tyd om te sê dat die kontroles van al die toerusting ‘n goeie uitleg en maklike bediening het. Maar ek sou lieg. Dit het nie. Die radio het knoppies vir die meeste funksies, maar kort enige soort van beeldskerm – die Tomtom-navigasieskerm probeer sy bes om hier te help.
Regs op die stuurkolom sit die tradisionele Renault klank/radio/telefoon spane wat met sy maklike uitleg die daaglike gebruik meer gerieflik maak. Maar – die Tomtom navigasie kontroles sit op die sentrale tonnel tussen die voorste sitplekke…
Agter dié versameling sit ‘n eensame knoppie vir die Megane se spoedbeheer en spoedbeheer, waarvan die instellings slegs deur die twee (enigste) knoppies op die stuurwiel kan verander word. En om tussen die roete/voertuig informasie skerm te blaai, druk mens ‘n knoppie op die ruitveër-knop.
Soos u beslis opmerk was ek nie te beïndruk met die “ergonomie” van dinge in die nuwe Megane nie. Maar tog het alle sisteme (insluitende die blitsvinnige Tomtom navigasie) oplettend my bevele uitgevoer; nadat ek uitgewerk het waar alles is, en hoe dit werk.
Meer belangrik is dat hulle my nie van die kragtige (96kW/130hp) en lewendige (300Nm) turbodiesel enjin kon aflei nie. Dié moderne turbodiesel lewer sy krag op ‘n gladde wyse deur ‘n 6-spoed handratkas na die voorwiele. Hou daai regtervoet teen die mat en die 1.9 dCi sal in 9.5 sekondes 100 km/h behaal, en uiteindelik by 210km/h gaan draai.
In daaglikse omstandighede sal die voertuig met ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 5.1 l/100km tevrede wees (ek het slegs 7.3 behaal) en stoot ‘n indrukwekkend lae gemiddeld van 135g CO2/km uit. En met ‘n 60 liter brandstoftenk kan die meeste eienaars na meer as 1 000 km per tenk uitsien.
Soos verwag word van Franse luikrugmotors, klou hierdie een verskriklik goed aan die bestuurder se uitgesoekte teer. Die veringstelsel bied uitstekende terugvoering en kry die begeerlike mengsel van gemak en sportief reg. Selfs met 16-duim wiele (17” opsioneel) het die Megane voorspelbare en baie indrukwekkende padgedrag voordat die voorwiele regtig begin kla.
Miskien was ek te ‘n bietjie te wreed met Mademoiselle Megane en haar bediening, want haar ligte pedale, direkte stuur, ferm maar gemaklike sitplekke en lewendige enjin is ‘n fantastiese manier van deur die land beweeg. Haar kompeterende prys van N$264 900 sluit ‘n 5-jaar 100 000km diensplan en ‘n 5-jaar 150 000km waarborg in. Magnifique!